Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie Bok-sege se waarde onderskat nie

Ons mag geensins onderskat wat die Springbokke se Wêreldbekersege vir eenvoudige mense in die land beteken nie, skryf Leslie van Rooi.

Siya Kolisi
Siya Kolisi, pres. Cyril Ramaphosa en die Wêreldbeker Donderdag in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Oor die afgelope naweek het vele Suid-Afrikaners, hier en elders, geproe hoe dit voel om saam te staan en ’n land te wees wat inderdaad kan wen.

Oor die jare het ons iets van hierdie glans vergeet – ons kan die liefling van die wêreld wees, ons kan die grootstes oorwin en ons kan, ondanks moeilike omstandighede, uitstyg en beter wees.

Dit geld ook vir die manne op die veld, maar dalk veral vir die res van ons wie se verbeelding weer soos in 1995 aangegryp is.

Ek onthou Saterdagmiddag 24 Junie 1995. Die spanning wat oor weke opgebou het – gaan ons dit kan doen, kan ons dit maak – en toe maak ons dit wraggies. En ek onthou hoe ons laat die aand van 20 Oktober 2007 weer iets hiervan beleef het.

Saterdag 2 November 2019 se oorwinning het weer gevoel soos dié van 1995. Gewone landsburgers was reeds vroeg in die strate gereed om die soet van ’n oorwinning te proe. Die vlae het weer oral gewapper, groen-en-goud was almal se kleur. Die volkslied is weer uit volle bors gesing en ons het vriend en vreemdeling omarm.

Uniegebou
Bok-ondersteuners vier hul span se Wêreldbeker-oorwinning Donderdag in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Maar dit was ook anders. Dink maar aan waar ons ’n jaar ná die verkiesing van 1994 was. Dink aan die lede van die Springbokspan, hoe ons toe nog gesukkel het om ons pragtige vlag ten toon te stel en twee lang liedere gesing het wat eers later ons nuwe volkslied sou word. En hoe kan ’n mens dan nie anders as om ook onmiddellik aan Madiba te dink nie.

Maar nou is dit byna ’n week later. Die Springbokke paradeer deur die land se strate en ons vier saam fees. Sedert Saterdag het sosiale media bly gons oor wat hierdie gevoel nou eintlik is. En natuurlik was daar baie wat dit as vals afgemaak het, as iets niksseggend, wat juis nie help om die probleme in en om ons op te los nie.

Die euforie is nie daar om ons te laat glo dat dinge vandag absoluut perfek is nie, maar help ons deur te wys op wat kan en wat moontlik is.

Dit is natuurlik goed om te vra wat hierdie wen-kohesie nou eintlik is. Daar is baie studies wat wys op die impak van sport wat die byeenbring van mense betref. Maar byna alle navorsers waarsku dat dit nie alleen kan staan nie – dit kan nie die enigste element wees wat sosiale kohesie bevorder en bevestig nie.

Daarmee sal die meeste van ons saamstem. Maar hierdie saamstem mag nie beteken dat ons mekaar van Saterdag se gevoel moet ontneem nie. Ons mag geensins onderskat wat die sege vir eenvoudige mense in die land beteken nie. Waar die meeste burgers in ’n daaglikse stryd gewikkel is wat nie juis in beterskap eindig nie, maar hulle eintlik in omstandighede van hopeloosheid laat, mag hierdie oorwinning dalk anders wees as vir dié van ons wat met ’n koerant in die hand kan sit.

Dit is dalk wat hierdie sege anders as die een in 1995 en veral anders as die een in 2007 maak. Dit roep ons uit ons omstandighede met die wete dat dinge kan en moet beter. Die euforie is nie daar om ons te laat glo dat dinge vandag absoluut perfek is nie, maar help ons deur te wys op wat kan en wat moontlik is. Dit is wat hoop is. En dit is juis wat sport kan bring.

Leslie van Rooi

Die geheim van die ervaring en wat ons daaruit kan leer, lê wat my betref, opgesluit in die kommentaar van Siya Kolisi en Rassie Erasmus ná hul span se oorwinning. Albei fokus op wat hulle deur die sege vir die land wil bied en dat Suid-Afrika juis hierdie hoop nodig het, gegewe ’n neerdrukkende ekonomie en hoe swaar dinge in baie gemeenskappe gaan. Die nood is nie om ’n tydelike hoop te skep nie, maar om te wys dat ons kan. En dat ons moet wil. Dit is veral die verwysing na die swaarkry van vele Suid-Afrikaners wat op ’n wêreldverhoog met meelewing erken word wat ons help om te verstaan hoe rolmodelle ons behoort te inspireer.

En nou is die span terug. Daar lê harde werk voor om sport in Suid-Afrika die kans te gee wat dit verdien. Lede van die wenspan moet voortgaan om moeilike gesprekke in hul onderskeie gemeenskappe te hê en moet wys wat die transformerende invloed van sport kan wees. Die wolk van ’n ondersoek hang steeds oor Eben Etzebeth.

As Suid-Afrikaners weet ons hoe om oor te begin, weer te probeer en uit te hou – ondanks foute en terugslae. Ons moet egter nog leer om nie ons saamwees te onderskat nie.

Op Stellenbosch kon ek die eindstryd geniet tussen studente wat aan die einde van die 1990’s en vroeë 2000’s gebore is. Hulle kon nie die gevoel van 1995 beleef nie en word groot in ’n Suid-Afrika ver verwyderd van die “Madiba magic”.

Juis daarom was die gevoel van Saterdag belangrik. En daarom sal ons Siya se herinnering onthou: Ons is inderdaad beter en sterker saam.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.