Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie dat jou hoopmeter op nul gaan staan
Wilhelm Jordaan

Ons het ’n land geword van slegte nuus; byna deurlopend sleg. Al hoe meer mense wil landuit, ontsnap van al die ellendes: onbevoegde regering; korrupsie; die waansin van gewelddadige vernietiging en inhalige stropery wat paradeer as “ons is honger”; ekonomiese krisisse; sterfgevalle weens die Covid-19-pandemie; en so (eindeloos) voorts.

Baie se “hoopmeter” het vasgesteek op ’n wanhopige nul. Dít is begryplik, maar miskien moet mens onthou slegte nuus, plaaslik en wêreldwyd, is wesenlik net een stel stories oor wat “daarbuite” gebeur. Die media werk grootliks met ellende en somberte; die skinder- en gerugkolom; lewens­tragiek – die donker hart van die mensdom. Jou eie leefwêreld bevat tog ánder stories; die wonderlike verhale oor wat mense vir mekaar doen en beteken, ook nou in die tyd van Covid-19; dit wat bereik word teen alle verwagting in; dat daar verruklike klein vreugdes is wat langs die donkerte bestaan en dit ook verdryf.

Daarmee saam kom die wondertyd wat gesetel is in die kuns van kyk, verby kyk, nuut kyk, ánders kyk – van oë oop maak; om opnuut én dankbaar te dink oor die betekenis van gewone dinge.

Dankie vir wonder. Dankie vir dag en nag. Dankie vir wit en swart. Dankie vir naby en ver. Dankie vir hoog en laag. Dankie vir tyd en ruimte. Ook vir stoflappe en verestoffers, vir kerse, vadoeke en stopnaalde.
Anna M. Louw

Soos Anna M. Louw dit doen in haar roman Wolftyd: “Dankie vir wonder. Dankie vir dag en nag. Dankie vir wit en swart. Dankie vir naby en ver. Dankie vir hoog en laag. Dankie vir tyd en ruimte. Ook vir stoflappe en verestoffers, vir kerse, vadoeke en stopnaalde. Dankie vir die koper en die sink wat in rotse gebêre is. Dankie vir bome wat hout groei. Dankie vir duime. Sodat mense kan saag en beitel en kap. En teken en sny en ets. Dankie vir liefhê.”

Uit sulke wondertyd kom die baie ryk ure van die enkele leefbeurt wat aan mens gegee is en waarin jy ook kap en beitel aan ’n lewe wat betekenis hét. Daarmee die vraag: Is dit hoop wat maak dat mens aanhou wonder, aanhou kap en beitel en betrokke is by jou eie lewe, dié van ander en jou gemeenskap? Of is dit selfmisleiding; ’n berekende blindheid vir gestadigde verval en agteruitgang?

Baie mense se hoop is soos dié van die twee boemelaars Didi en Gogo in Samuel Beckett se drama Waiting for Godot. Hulle wag op iets beters, die koms van mnr. Godot. Wat opval is dat hulle passief is, nie in beweging kom nie en teen die einde van die drama steeds bewegingloos en pessimisties is.

Passiwiteit en pessimisme is bedmaats. Daaruit kom dikwels ’n soort groepdinamiek waardeur individuele pessimisme kritieke massa bereik in ’n epidemie van swartgalligheid waarin mense mekaar aanvuur tot die kollektiewe afwagting van die ergste deur katastrofiese denke – dat niks deur jou toedoen en deelname kan verbeter nie.

Wag op iets beters is absurde hoop wat die hoopmeter vries, stil laat staan. Herskeppende, daadwerklike hoop lê in ’n realistiese peiling én waardering van pynlik stadige vordering. Én die ingesteldheid om die goeie nuus, die beter nuus, te soek én te maak – op eie werf, hoe groot of klein dit ook is.

  • Jordaan is ’n emeritus professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Hoop  |  Vertroue  |  Goeie Nuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.