Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie die verlede herhaal
’n Plakkaat van Stalin uit die gloriedae van die Sowjetunie en die sogenaamde Rooi Gevaar.

Georgi Arbatov was in die hart van die Sowjet-Unie se stryd teen Amerika in die Koue Oorlog. Vir 30 jaar was hy die Kremlin se hoof-“Amerikanist”.

Sy kennis van die Weste het hom oortuig dat Sowjet-kommunisme nêrens heen op pad was nie. Hy is dan ook die persoon wat aan die Weste gesê het: “Ons gaan iets vreesliks aan julle doen. Ons gaan julle ontneem van ’n vyand.”

Dit is deesdae moeilik om jou die tyd van die Koue Oorlog in te dink toe vyandsbeelde oor Kommunisme die Weste oorspoel het (natuurlik was die omgekeerde ook waar.)

In Suid-Afrika het ons die “Rooi Gevaar” gehad. Jy kon nie ’n koerant oopslaan of die televisie aanskakel sonder om gekonfronteer te word oor hoe dit ons bedreig nie.

Die vergrype van apartheid is ook goedgepraat onder die dekmantel van die bedreiging van die “Rooi Gevaar”. Die ANC was die terroriste en Nelson Mandela was ’n opperste kommunis – daarom die oorheersing van die wit minderheidsregering, die koue hand van die Veiligheidspolisie, die paswette, die wreedheid van ontmensliking, daarom die NG Kerk se Bybelse ondersteuning van die ontmensliking.

Derduisende troepies het gevra of alles nodig was.

Dis deesdae moeilik om jou só ’n Suid-Afrika en só ’n Koue Oorlog in te dink, maar dit was die werklikheid, ongeag die ontkennings.

En toe val die Berlynse Muur en die Koue Oorlog is nie meer nie. Biblioteke aan albei kante wat die vyandsbeelde versterk het, het ineengeplof, institute aan albei kante van die Ystergordyn is daarmee heen.

Die apartheidsregering moes ook later meegee. Grootliks vanweë die jarelange binnelandse stryd, maar ook vanweë die val van die Berlynse Muur. Die vyandsbeelde van die “Rooi Gevaar” het gewyk. Mandela het president geword en apartheidsideoloë het skuiling gaan soek terwyl die “Totale Aanslag” van die “Rooi Gevaar” ’n grap geword het.

Derduisende troepies het gevra of alles nodig was. Die vyandsbeelde teenoor medeburgers het gewyk. Ons praat nou versoening; Mandela, die “kommunis”, praat nou versoening. Die land transformeer.

En tog, wanneer ek deesdae kyk na die vyandsbeelde wat steeds in die politiek, ekonomie en land as geheel bestaan, dan lyk dit vir my daar is ’n behoefte om ’n vyand te hê. Iemand om teen te baklei, te verneder . . . Ek móét ’n vyand hê.

’n Mens kan nie anders nie as om te vra of Arbatov se benadering nie soveel in ons eie land kan verander nie. Kan veral politieke partye begin terugval op hierdie glasnost, die openheid en wegdoen met die vyandsbeelde? Is dit dalk ’n ander pad vir ons politiek: Ek is nie jou vyand nie, ek is jou vriend ter wille van hierdie land, ons land se opbou?

Natuurlik kan ons verskil, natuurlik gaan ons meeding, maar kom ons haal hierdie angel uit.

Arbatov, Michail Gorbatsjof, Mandela en soveel ander het dit reeds bewys. Die oorgangsproses in die Mandela-era is steeds die templaat vir talle oor hoe ons mekaar kon vind en die land uit sy moeras na goeie regering kon neem.

Die bewindstydperk van oudpress. Thabo Mbeki en Jacob Zuma kon soveel anders gewees het.

Die bewindstydperk van oudpress. Thabo Mbeki en Jacob Zuma kon soveel anders gewees het.

Groot was my verbasing toe ek verlede week ’n dokument lees wat sê vir die Afrikaanse gemeenskap sedert 1994 is die “aanpassing om te beweeg vanaf die binnekring van mag na ’n stand van bykans politieke magteloosheid, ingrypend en selfs traumaties”.

Dit is natuurlik onsinnig, want die meeste Afrikaanssprekendes was nié in “die binnekring van die mag nie”. Die verwysing na ingrypende en selfs traumatiese politieke magteloosheid is nie my indrukke van talle Afrikaner-organisasies, kollegas en vriende nie.

Die dokument is getiteld “Afrikaans: ’n Visie vir 2030.” Dit praat verder van die “ingrypendheid van wegbeweeg vanaf die verlede en die eise wat elke dag bring, is so sterk en oorweldigend.” Daar is nie kans om vorentoe te kyk vir die Afrikaanse taal en kultuur se behoud en bevordering nie, aldus die dokument. Daarom dan ’n nuwe visie, ’n strategie en projekte.

Liewe krismis! Wat van al die bestaande projekte? Wat ’n terugwaartse stap. En dit nogal in die naam van Afrikaans. Die wegbeweeg van die verlede ingrypend? Terug na die vyandsbeelde?

Hierdie rubriek gaan natuurlik oor veel meer as Afrikaans. Dit sluit ook die politieke rolspelers en die groter samelewing in.

Eugène Terre’Blanche se helder stem het immers vir ons almal gesê: “Die oorlog is verby, laat die soldate huis toe kom.”

Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede.

Meer oor:  Danny Titus  |  Verlede  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.