Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie hensop oor Afrikaans

Dawie is beslis nie een van die taalhensoppers wat nou sommer wil oorgee oor Afrikaans by Maties ná die konstitusionele hof se uitspraak nie.

Gelyke Kanse het in dié saak aangevoer dat die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid van 2016 die dood in die pot vir Afrikaans by dié universiteit is, en gevra dat 2014 se taalbeleid weer ingestel word. Die hof het egter bevind dat die 2016-beleid wel grondwetlik is.

Dawie

Nou is daar diegene wat redeneer dat algehele institusionele verengelsing ’n noodwendigheid is en dat die enigste toekoms vir tersiêre onderrig in Afrikaans binne die geledere van Akademia en Soltech is.

Dié hensoppers moet gerus gaan kyk na die voorbehoude wat hoofregter Mogoeng Mogoeng en regter Johan Froneman uitgespreek het.

Froneman doen juis ’n beroep op Suid-Afrikaners om die ruimte wat die Grondwet vir moedertaalonderrig laat, te benut en proaktief op te eis.

In sy redenasie verwys hy ook na ’n nuwe soort bevoorregting wat die dominansie van Engels as onderrigtaal skep en dat dít, veral in die Wes-Kaap, kan neerkom op die uitsluiting van veral arm bruin mense.

Hy skryf: “Die bitter waarheid is dat hul armoede en agterstand in Engels hulle selfs slegter af laat. Dit is ’n diep ontstellende onreg.”

Met dié kragtige redenasie gooi Froneman koue water op die opvatting wat in sekere geledere by die US – en ook in die regering – posgevat het dat Afrikaans per definisie uitsluitend is en dat Engels per definisie die volmaakte taal van insluiting is. Dit is nie die geval nie, en dié idee staan beslis nie in diens van die soeke na praktiese oplossings in ons meertalige leefwêreld nie.

En die uitdaging wat Froneman uiteindelik rig, is inderdaad dat praktiese oplossings, spesifiek aan die US, gevind moet word. Hy is reg, want daarsonder gáán dit wat by Maties teoreties ’n verbintenis tot meertaligheid is in die praktyk neerkom op die stelselmatige vermeerdering van die Engelse onderrigaanbod en die afskaling van die Afrikaanse aanbod.

Daar moet dus nuut gedink word. Van binne en buite die US moet die fokus lê op sekere praktiese werklikhede.

Van binne die US sal byvoorbeeld ’n veel sterker erkenning moet wees van die pedagogies gefundeerde waarde van moedertaalonderrig. Dit moet help verseker dat die teoretiese ruimte wat die taalbeleid wel vir meertaligheid laat ook daadwerklike, praktiese inslag kry.

Ondanks die emosionele trant van die debat bly die US ’n setel van groot kundigheid. Span dan dié kundigheid op pragmatiese wyse in om binne ’n oop proses praktiese en volhoubare oplossings te vind vir die institusionele spanning tussen grondwetlik verskansde aanspraak op moedertaalonderrig aan die een kant, en die noodsaak van verhoogde toeganklikheid en diversiteit aan die ander kant.

Van buite die US is daar ook ’n paar harde werklikhede wat weer verreken moet word.

As die taalbeleid ’n werklike verbintenis tot meertaligheid moet wees, eerder as net ’n soort vrywaringspolis vir moeilikheid op die horison, gaan dit baie geld en moeite kos. Gegewe die grondwetlik verskanste beginsel van meertaligheid is daar ook ’n morele plig op die skouers van die regering om die universiteit ruim hiermee by te staan. Dieselfde geld vir donateurs wat die saak van Afrikaans binne ’n meertalige omgewing ter wille is.

Dit gaan egter ook van Afrikaanssprekendes afhang of die voorsiening wat wel vir Afrikaans aan Maties gemaak word, opgeëis en gebruik word.

Daarsonder sal Afrikaans geleidelik wegkwyn, en dít sou tragies wees.

Meer oor:  Afrikaans  |  Konstitusionele Hof  |  Uitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.