Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie in die oumense se ‘water’ mors

Die geboortesyfer daal en die bejaardheid­syfer styg. Die ekonomie word “nadelig” getref deur die onderhoud van bejaardes wat nie finansieel bydra nie.

Het jy ooit gedink dat daardie dierbare oumensies, outoppies, gryskoppies, oubies en grênnies ’n maatskaplike probleem gaan word? Dat plekke met name soos Silwerjare, Herfsakker en Aandskemering (of soos ons so maklik sê, ouetehuise) ’n byna onhoudbare las op die fiskus sou raak?

Maar nou sien ons die tragies/heroïese byeenkomste van bejaardes, swart en wit, wat steeds “betoog” teen die onmenslike optrede van Transnet, wat mense op die skandaligste wyse kierang. Mense wat hul kant gebring het in hul werkjare, mense wat belasting en verpligte pensioenbydraes betaal het.

Ons sien mos watter gruwelike speletjies Sassa speel met miljoene afhanklike, sukkelende ouer mense. Mense wat nou weer hoor dat hul betalings problematies word. En nou word gemik na oud-SAS & H-werkers se pensioene in die openbare beleggingskorporasie (OBK) om die sukkelende lugdiens te red. Dis amper sinies/ironies dat soveel mediese deurbrake vir ouer mense nagevors word, terwyl die waarheid is dat hulle inderwaarheid sogenaamde passasiers geword het.

Wel, darem nog nie heeltemal nie. In ’n gesellige ouetehuis in ’n bruin woonbuurt brei die vroue dat die wol “so myl op myl opraak” aan komberse en truie vir arm mense. “Gee vir ons wol en kyk hoe ons jol,” is die leuse.

Ek gesels met Amanda Grobler, wat baie lank in die bestuur van ’n aftreeoord is. Sy vertel van die al groter vraag na sulke oorde, die toenemende geldknyp. Allerlei pogings word aangewend om ekstra geld in te samel wat tot hul lewenskwaliteit kan bydra – ’n bietjie meer ruimte, mooi tuine, mooi binne. Dis aansteeklik vir goeie verhoudinge onder die inwoners, dit skep geleenthede vir groter gemeensaamheid.

Die meeste oorde ondervind ook die sosiale probleem van “getroud met televisie”. Dalk goed vir die brein, maar sleg vir die lyf. Ironies, of dalk tydig, kom die advertensies en aanmanings dat genoeg gespaar moet word vir die oudag. Wat is genoeg? Hoe lank duur die “oudag”? 

Kerke, vroueorganisasies en liefdadigheidsorganisasies sorg wel vir oorde, dienssentra, byeenkomste, uitstappies en ook geestelike begeleiding.

Kerke, vroueorganisasies en liefdadigheidsorganisasies sorg wel vir oorde, dienssentra, byeenkomste, uitstappies en ook geestelike begeleiding. Hospiese beleef ook ’n geldknyp met steeds groter wordende behoeftes om hulp.

Dan tref dit jou soos ’n spies deur die lyf: Esidimeni. ’n Beskaafde land wat só met sy hulpeloosstes werk? Beskaafde lande sorg vir deeglike pensioene, armsorg, die verstandelik hulpeloses. Pensioene word immers in die ekonomiese sirkelgang teruggeploeg.

Ouer mense dra onmeetlik by: herinneringe, hulp met nie-tegnologiese goed soos musiek en sport. En dikwels dra ouer mense daardie baie skaars kommoditeit – wysheid – oor.

Transnet, Sassa, OBK . . . moenie in oumense se “water” mors nie – die jongmense moet dit nog drink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.