Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie jou ore laat tuit oor ’n doodgooier nie
Jana Luther

Hoe gaan dit met Ambraal? Ambraal is siek. En hoe gaan dit vandag met Ambraal?

Op ’n veilige afstand lê die kind, Ambraal, na wie se gesondheid die ander deelnemers aan dié kinderspeletjie by tussenpose kom verneem, maar die antwoord bly: Ambraal is siek. ’n Toestand wat, ten spyte van wisselende verslae, vererger, totdat die uiteindelike berig van Ambraal se dood die deelnemers bereik, en Ambraal se “spook” hulle agternasit.

Volgens die WAT was dié speletjie van toeka ook onder ander name bekend, soos ambrella, sambraal, Ouma Jenie of Om Jynie. Soos in ’n droom speel ons dit weer.

Kenners is dit eens: Ant Rona gaan nog lank by ons wees, en daarna haar spook. En van ’n veilige afstand – of dalk nie – bestudeer, vergelyk ons verslae, bly ons vra: Hoe gaan dit vandag? Vanslewe sou die oumense dalk antwoord: Die ellende staan blou in die blom, maar deur die genade nog uitgespaar.

En môre? Hoe sal dit môre gaan?

Maar die antwoorde is nog in die kookpot; die orakels stil.

Vrae brand op die tong, en die begeerte is na sagte antwoorde. Saam met Sheila Cussons in “Hera se kombuis” wil ons vra: “Roep die pou die pou se vure, roep die iris en die helder ure, roep die gans wat raaisels praat, orakel hy dan het ons raad.” Maar die antwoorde is nog in die kookpot; die orakels stil.

Net in die media, in kamers, op balkonne, eggo die stemme. Uit onberispelike bronne, maar veral uit die monde van napraters en voorspookselmakers. Oorverdowend. Elk oorgehaal met sy, haar mening, nog ’n stuiwer vir die armbeurs, nog ’n eiertjie om by te lê hê. Net: Die henne wat die meeste kekkel, lê lank nie die meeste eiers nie. Met doodgooiers, dooddoeners, kwasiwaarhede en kammabewyse, word die self en ander só maklik ratte voor die oë gedraai.

Vir elke draad is daar ’n naald. Boudweg – “stoutmoedig, onbevrees”, sê die WAT – maak party, onbegryplik, steeds, die berg af as ’n molshoop. Sê as’t ware spottend, soos aan ’n kind wat neul, of aan iemand wie se bewerings onbetroubaar is: Môre bak ons koekies.

Waarheen gaan ons? Na Bokstroewe, sou die oumense dalk sê. Want wat sou ’n gepaste antwoord wees? Waar daar geen klinkende antwoord is nie. Die woorde van die antistrofe, die teensang, die gedeelte in die treurspel wat as antwoord op en ter afsluiting van die strofe gesing gaan word, dié ken ons nog nie.

Pandemie-pandemonium “ontwikkel so snel dat die onderwerp hom nie leen tot ’n boek nie. Wat ek vandag skryf, is Maandag al weer verouderd. Ek laat dit aan joernaliste oor,” sê die antropoloog Jared Diamond dié week in ’n onderhoud aan NRC Handelsblad.

Waar min werklik ’n antwoord klaar het, keer min van wat gesê word die grimmigheid af. So. As jy nie die perd se bek self is nie, hou jou predikasies tog maar kort en bondig. Of beter nog: Thula.

Want in ’n eggogrot raak mens stadigaan gek.

  • Luther werk mee aan die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.