Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie media ligtelik afmaak

Meer as 40 joernaliste is die afgelope jaar vermoor of het gesterf weens hul teenwoordigheid in oorlogsones of ander gevaarlike gebiede. Maar dit is net die oortjies van die seekoei. Joernaliste word daagliks aan allerlei gevare onderwerp.

Johannes Froneman

Die Huisgenoot-joernalis wat glo verlief geraak het op ’n veroordeelde moordenaar is ’n baie opspraakwekkende voorbeeld van wat kan gebeur wanneer emosies in ’n drukkoker beland en menslike broosheid tot die uiterste beproef word. Die joernalis is geskors en die saak neem sy interne loop. Dit is goed so. ’n Joernalis kan nie persoonlik betrokke raak by die mense oor wie sy skryf nie.

Joernaliste se werk hou ook ander gevare in. Hulle word nie net doodgemaak (met opset of per ongeluk) nie, maar ook gedreig deur boelies (met of sonder ’n rooi baret). Soms word hulle inderdaad aangerand (selfs by die parlement) deur mense wat opgestook is teen “die media”. In ander gevalle word hulle met omkoopgeskenke verlei om stories te plaas (of nie te plaas nie).

Op ’n meer persoonlike vlak word verslaggewers deur skaamtelose nuusredakteurs gedwing om stories te doen wat hul geestesgesondheid kan aantas. Soos om keer op keer motorongelukke, moordtonele en dergelike sake persoonlik te moet gadeslaan. Of onderhoude met mense te voer wat aan erge trauma ly – natuurlik ter wille van die groot storie.

Wat dit aan joernaliste doen, kan ons seker nooit peil nie, maar die selfdood van die nuusfotograaf Kevin Carter bly ’n voorbeeld van wat die uiteinde kan wees van al die trauma wat mediamense soms beleef. ’n Mens is nie van klip gemaak nie.

Waarom sê joernaliste nie bloot nee nie? Hulle word mos nie gedwing om ’n joernalis te wees nie? Of om ’n bepaalde opdrag uit te voer nie? En is die “hoofstroommedia” nie buitendien deel van ’n komplot nie? Donald Trump sê immers so en plaaslik kwaak sommige in kommentaarruimtes saam.

’n Paar realiteite moet in die oë gekyk word: Ons het goeie media nodig en ons het daarom goeie joernaliste nodig. Hulle verdien ons ondersteuning, moreel en andersins. Maar ons het nie die detail van elke gruwel nodig nie. Wel het ons akkurate, kontekstuele feite nodig. Ook perspektief en deurdagte kommentaar.

Vandaar ’n perskode en een vir die uitsaaimedia. Hierin vind die moets en moenies neerslag en dit bied ’n stewige raamwerk waarin joernaliste kan en moet funksioneer. Sommige media-instellings het ook interne kodes wat in groter detail uitstippel hoe opgetree moet word ten einde die waardes van die nuusorganisasie te handhaaf.

Hierin vind die moets en moenies neerslag en dit bied ’n stewige raamwerk waarin joernaliste kan en moet funksioneer.

Natuurlik is dit nooit genoeg nie. Individuele joernaliste moet ook ’n etiese sensitiwiteit ontwikkel en sterk genoeg kan staan om al die versoekings te identifiseer en te kan weerstaan. Hulle het ook senior joernaliste nodig om hulle daarin te lei – mense met of sonder spesifieke joernalistieke opleiding, maar mense met ’n morele kern.

Maar neem ’n paar stappe terug. ’n Student in joernalistiek kom uit ’n bepaalde huis en gemeenskap. As hierdie basis sterk is, is dit nie so moeilik om die omvang, kompleksiteit en nuanses van media-etiek oor te dra nie. So ’n student word ’n toegeruste junior joernalis wat in ’n uitdagende omgewing kan groei en gedy. Moet dus nie die opleiding van joernaliste soos dit deur talle instellings landwyd gedoen word, ligtelik afmaak nie.

En toon simpatie met joernaliste wat taai werk in moeilike omstandighede moet doen. Dit kan net so wel jou kind wees. Of dié se beste vriendin.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.