Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie met ander se kulturele kallers ploeg
 

Daar is net een woord wat Carla Lewis se gevoelens opsom toe sy die nasionale kostuum sien waarin Adé van Heerden Suid-Afrika in die Mej. Wêreld-kompetisie gaan verteenwoordig.

Adé van Heerden se nasionale kostuum. Foto: Brenton Geach

Ongemak.

Dit was ook nie lank nie of menings oor die uitrusting is op Twitter gelug. Die gewraakte “a”-woord is geuiter: appropriation oftewel toe-eiening. Kulturele diefstal.

Ek het al verskeie kere my oë gerol wanneer die woord (wat ek meen onverskillig) rondgegooi word, maar ek het ook begrip vir swart mense se frustrasies wanneer hul kultuur en erfenis sonder die regte erkenning lukraak gebruik word.

Oppervlakkig gesien is daar geen rede vir my ongemak nie, want die doel van die nasionale kostuum ís immers om ’n land se erfenis uit te beeld. En deel van ons erfenis is die unieke Ndebele-motiewe en gedetailleerde Zoeloe-kralewerk. Dus slaag die kostuum met vlieënde vaandels.

Ons het nie die luukse van 'n homogene kultuur nie.

Ongelukkig is Suid-Afrika maar altyd so ’n bietjie ingewikkeld.

Ons het nie die luukse van ’n homogene kultuur soos die Franse wat ’n Mej. Frankryk waarskynlik in ’n Breton-strepieshempie en ’n beret op die maat van Madeleine kan stuur, terwyl al die Franse by die huis breëbors glimlag nie.

En hier steek die appropriation-tameletjie weer sy kop uit. Die keer in die vorm van ’n skoonheidskoningin se kostuum. En soos die Amerikaanse sjef wat ’n Mexikaanse kostrok bedryf, die wit manlike heteroseksuele skrywer wat ’n boek skryf vanuit die oogpunt van ’n gay, swart tiener, die modehuis Louis Vuitton wat Basotho-kombersmotiewe in sy 2017-mansreeks gebruik, moes die Mej. SA-span ’n bietjie selfondersoek gedoen het.

Ander kulture se skatte verbreed ons lewensuitkyk

Is ek die regte persoon om dit te skep? Gee ek die nodige erkenning vir die oorspronklike kultuur?

Die antwoorde hierop is nie altyd maklik nie en tesisse is al gepleeg om kulturele toe-eiening te regverdig, al dan nie.

Die tameletjie met kulturele toe-eiening is dat dit so ’n bietjie soos pornografie en kuns is. Jy kan nie altyd so mooi die verskil tussen ’n huldeblyk en kulturele diefstal verduidelik nie, maar jy ken die verskil wanneer jy dit sien.

Is Zoeloe-kralewerk en Ndebele-muurskilderye iets waarop ek as wit Suid-Afrikaner trots is? Beslis. Dink ek dit is iets waarvoor wit Suid-Afrikaanse vroue (soos Van Heerden) gekwalifiseerd is om as ’n segspersoon op te tree? Glad nie.

As ek as ’n wit vrou ’n Zoeloe-armband dra, dra ek dit as ’n estetiese voorwerp, iets wat my visuele plesier verskaf.

Beteken dit ook dat almal nou niks meer van ander kulture mag leer, ervaar, en dra nie? Behoede my as ek nou net na Afrikaanse witmensmusiek moet luister vir die res van my lewe en nooit weer ’n Thaise kerrie mag maak nie. As ons so redeneer, sal ek ook die helfte van my huis se dekor moet weggooi.

Ons groei en verbreed ons lewensuitkyk wanneer ons met ander kulture se erfenis en skatte omgaan. Die ontdekkingsreis moet egter – van albei kante – met die nodige respek benader word. As ek as ’n wit vrou ’n Zoeloe-armband dra, dra ek dit as ’n estetiese voorwerp, iets wat my visuele plesier verskaf. Ek verstaan ook dat dit die produk is van eeue se tradisies en dat ek dit met die nodige ontsag moet behandel, omdat dit vir ’n Zoeloe-vrou ’n groter simboliese betekenis as net juweliersware het.

Mej. SA se organiseerders moes van beter geweet het toe hulle haar van kop tot tone in Zoeloe-kralewerk en Ndebele-motiewe getooi het en vir haar ’n mantel soos ’n “Zoeloe-koningin” gegee het. Dan praat ons nie eers van die publisiteitsbeamptes wat bewus moes wees van die sosialemediamonster wat net sy tande slyp om die volgende drommel wat nie polities korrek genoeg optree te teer en veer nie. Hulle was dit aan Van Heerden en hul medelandsburgers verskuldig om meer dinkwerk agter die kostuum in te sit.

Kultuur se diep persoonlike simboliek

Om ’n wit vrou in tradisionele Zoeloe-kralewerk en Ndebele-motiewe te tooi is omtrent so toondoof soos om ’n swart Mej. Suid-Afrika in ’n Voortrekkerrok en -kappie te sit en te verwag dat sy ’n segspersoon vir die spesifieke bevolkingsgroep se kultuur en kunsvlyt moet wees.

Kom ons plaas dit in ’n ander konteks: Suid-Afrika het die grootste Indiese bevolking buite Indië en ons Indiese en Asiatiese landsburgers het net so ’n groot invloed op ons erfenis gehad. Hoe sal hulle voel as ons ’n wit of swart meisie in ’n sari op daardie loopplank uitstuur, bindi op die voorkop?

Daar is ’n diep persoonlike simboliek aan Zoeloe-kralewerk en Ndebele-motiewe, wat ek – as ’n wit (Afrikaanse) vrou – nie eers kan begin om te verstaan nie. Zoeloes gebruik die kralewerk om hul liefde te betoon, om iemand te vra om te trou, om in te rou wanneer iemand sterf.

As ’n Afrikaanse vrou het ek ’n diep begrip oor die simboliek wat ons erfeniskos en -resepte vir ons het.

Die Ndebele-motiewe wat op die huise geverf is, is simbole van persoonlike gebede, selfkennis, emosies en die liefdestatus van die inwoners. Dis persoonlike boodskappe, iets wat diep betekenis vir die Ndebeles het.

Dis ’n kuns wat van oumas en ma’s na dogters oorgedra word, ’n intieme ritueel wat diep bande met jou kulturele erfenis smee. En ek kan net dink hoe dit vir my Zoeloe- en Ndbele-landsburgers moet voel as hulle ’n wit meisie sien in ’n gewaad waarvan sy geen intieme persoonlike kennis dra nie, en so hul kultuur op die wêreldverhoog moet verteenwoordig.

Op ’n persoonlike vlak kan ek dit net vergelyk met ’n matriarg wat geliefkoosde familieresepte van generasie tot generasie oordra. Dink aan daardie gekoesterde oomblikke rondom die kospotte, waar gevlekte kookboeke met honde-ore soos kosbare familiebybels gehanteer word en geheime bestanddele tussen die stomende kospotte onthul word. As ’n Afrikaanse vrou het ek ’n diep begrip oor die simboliek wat ons erfeniskos en -resepte vir ons het. Ons vier fees met kos, ons bederf en betoon liefde met kos, wanneer ons rou, eet ons.

Behandel ander se kulturele erfenis met respek

Carla Lewis

Dink aan melktert, hertzoggies en malvapoeding. Ek wil graag hê my medelandsburgers, swart, Indies, of bruin moet ook die vreugdes van die fyngebak ken, en dit in hul kombuise maak, hul geliefdes met malvapoeding op ’n Sondagmiddag bederf. Net so is ek seker sal my Zoeloe-kollegas nie omgee as ek ’n armband van Zoeloe-krale dra nie (mits ek agting gee aan die tradisie en kuns daarvan). Die feit bly staan, dit bly ’n deel van my persoonlike kulinêre erfenis, net soos die kralewerk en patrone deel van Zoeloes en die Ndebeles se estetiese erfenis is. Dit beteken nie ons mag nie deel daarvan wees en dit geniet nie, maar dit beteken dat jy met die nodige respek en deernis met ander kulture se erfenis moet omgaan.

Op sy mees banaalste lyk Mej. Suid-Afrika se nasionale kostuum soos die “mêrrim” wat vir ’n kostuumpartytjie in haar huiswerker se Sunday best opgetof het. Wat simbole van trots op ’n swart Zoeloevrou moes wees, word weer net nog ’n voorbeeld van minstrelization, ’n praktyk wat in die Suide van Amerika posgevat het, waar ’n troep kunstenaars sogenaamde “swart musiek” opgevoer het en swart mense nageboots het.

Op die ou einde hou niemand daarvan as jy met hul kallers ploeg en nog boonop ’n spektakel daarvan maak nie.

* Lewis is ’n redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Adé Van Heerden  |  Carla Lewis  |  Kultuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.