Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie met kleinseuns die wêreld invaar

Hulle sê een van die grootste gawes in die lewe is om jou kindskinders, soos die Bybel hulle noem, te kan “aanskou”. Wel, ek het pas myne, twee seuntjies van sewe en nege, op ’n uitstappie vir vier dae, 24 uur nie net “aanskou” nie, maar ten diepste beleef.

Johan van Wyk

Gelukkig het ek dit oorleef. Die ervaring het my egter so uitgeput dat ek kort duskant suurstof en ’n bloedoortapping gedraai het.

In vier dae het ek, en hul ouma, met minstens tien jaar verouder. Die wysgeer Plato het nie verniet hierdie waarheid kwytgeraak nie: “Of all the animals, the boy is the most unmanageable.”

Die boodskap is: Moenie saam met jou kleinkinders die wêreld invaar nie. Nie eens met jou groot kinders, hul ouers, nie. As jy rus en vrede wil hê, bly by jou huis, trek die gordyne toe en maak of jy nie tuis is nie. Ry met Jan Tuisbly se karretjie. Of loop die risiko van suurstof en ’n bloedoortapping.

Hoewel ek eintlik vir hierdie advies, wat ek hiermee gratis aanbied, betaal behoort te word, so waardevol is dit, weet ek by voorbaat dat geen oupa en ouma dit ter harte sal neem nie. Die eenvoudige waarheid is dat oupas en oumas, mense van ’n vorige geslag wat die Depressie, plae en peste, droogtes, sprinkane, ellende, armoede, broedertwis, verraad, oorloë en die Engelse oorleef, maar in die bestaanstryd verskans geraak het teen emosie, soos oggenddou met sonsopkoms versmelt wanneer hulle in die groot, sagte, onskuldige oë van ’n kindskind kyk.

Die ervaring het my so uitgeput dat ek kort duskant suurstof en ’n bloedoortapping gedraai het.

Nog te meer, soos in my geval, dié van seuntjies.

Die gedagte is by my tuisgebring toe ek, verlig en verheug om tuis te wees, Helen Exley se bekende boekie Sons, met wonderlike waarhede oor seuntjies, weer in die “troonkamer” (waar anders kry jy sulke goeie, inspirende leesstof?) die soveelste keer opgeneem het. My vrou het dit jare gelede gekoop toe ons enigste seun ’n baba was.

Terwyl ek daardeur geblaai het, het ek geweet dat die vier dae waarin ek my twee kleinseuntjies kon “aanskou”, ten spyte daarvan dat ek net-net suurstof en ’n bloedoortapping vrygespring het, kosbare ure was. Soos die Engelse digter Byron kon ek uitroep: “Ah! Happy years! Once more who would not be a boy!”

Of Dylan Thomas:“Forgotten mornings when he walked with his motherThough the parablesOf sunlightAnd the legend of the green chapels . . .”

Die hartseer waarheid is dat seuntjies nie seuntjies bly nie. Al doen jy ook wat, selfs al sit jy ’n skilpad op hul kop, gaan seuntjies groot en jy oud word. Ek was juis in die versoeking om dit te doen toe hulle met ’n skilpadjie uit die veld op ’n gasteplaas in die berge by Tulbagh te voorskyn kom. Dalk moes ek. Dalk sou dit hulle klein en op my skoot gehou het. Veral as die skilpadjie op hul kop gepiepie het.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Tulbagh  |  Kleinkinders  |  Oupa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.