Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie ’n vloek probeer opdis as iets fraais

As jy nie wil vloek nie, moet dan nie. Maar moenie perfekte goeie vloekwoorde verfomfaai nie, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Ek onthou nog die dag toe my ma met die boksie by die huis aangekom het. Dit was ’n warm middag. Ek was natgesweet van stap van die skool af huis toe. En honger. Sy het vir my die boksie gewys. Voorop was ’n prentjie van ’n geurige bord maalvleis. My mond het gewater.

“Wat is dit!”

“Dis Toppers, my kind! Ma gaan nou vir ons maak.”

Pleks dat ek gevra het wat Toppers is. Maar toe die eerste reuk van soja my tref, toe weet ek. Dis nie vleis nie. Dis ’n leuen wat aan my opgedis word.

Dis soos biltong gemaak van neute.

Nee. My goeie hel, nee!

Biltong is rou vleis, nié eekhoringkos nie! Niks, maar niks kan vleis vervang nie. Nie soja nie, nie eksotiese vrugte wat glo nes vleis lyk nie en nie tofoe nie.

Vleis is vleis.

En “f*k” is nie “v*k” nie.

Dié verkeerde spelling het onlangs soos ’n lelike puisie op sosiale media begin kop uitsteek. Die regte spelling is met ’n “f” – soos aangeteken in die HAT en die WAT, bevestig prof. Gerhard van Huyssteen van die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

As sy mening jou beledig, vloek dan behoorlik.

In die Urban Dictionary, waar gewone mense (bedoelende nie geleerde taalkundiges nie) inskrywings kan doen, verduidelik die een bydraer dit soos volg: “V*k is a common miss-spelling of the Afrikaans word f*k. This mistake is especially made by hillbilly boerseuns who could not afford a propper (sic) bilingual education.”

Laat dit jou bloed kook? Wel, in die eerste plek het die mannetjie “propper” verkeerd gespel. Dit is “proper” met een “p”. Wat van hom ’n p**phol maak. Ook met net een “p”. Blykbaar is Engelse skole dan ook maar van swak gehalte as ons sy teorie moet glo . . .

In die tweede plek, as sy mening jou beledig, vloek dan behoorlik.

Want hierdie flouerige v-woord word aspris verkeerd gespel. Dom is ons nie, maar ordentlik wil ons tog so graag wees.

Taalkundige P.W. Joyce beweer in sy English as We Speak It in Ireland dat kammavloekwoorde of swetse naby genoeg is om die lus vir vloek te bevredig, maar ver genoeg is om die skuldgevoelens te kan vermy.

Dit het dus als te doen met voorgee. Oftewel skynheiligheid. Gespel met ’n “y” soos in “pyn”. Want daar is niks wat my so ’n pyn in die gat gee as ’n skynheilige mens wat wil vloek, maar dan maak of hy nie eintlik vloek nie.

’n Vloek opgedis as iets fraais.

Toppers!

Moenie perfekte goeie vloekwoorde verfomfaai nie.

Hoekom is ons so skynheilig? As jy nie wil vloek nie, moet dan nie. Maar moenie perfekte goeie vloekwoorde verfomfaai nie. Soos “flip” of “flippit”, of my persoonlike haatwoord: “flok”.

Nee, man!

’n Mens kry vlokkies sneeu. En graanvlokkies. Maar flok? Staan die “l” vir liefde? Is dit ’n meer liefdevolle vloekwoord?

Gebruik dan eerder ’n ligter kragwoord. Soos donner. Of donder. “O, donner. O, vrek.” Nie so kragtig nie, maar woorde in eie reg.

Hierdie halfopgedisde leuenwoorde is vir my net vals. Dis ook die taal van die draadsitter. Jy wil nie vloek nie, maar jy wil ook nie jou mond hou nie. Dis ’n tweegesigbesigheid, as jy my vra.

Wees eerder toegewyd aan die saak. As jy nie wil vleis eet nie, word dan ’n vegetariër en eet groente en slaai of wat ook al dit is wat hulle eet. Moenie kom met wors wat nie wors is nie, of burgers gemaak met tofoe nie.

Wees ’n swetser of wees soet. Maar moenie ’n vals flokkertjie wees nie.

PS. Persoonlik is ek ook nie ten gunste van die gebruik van die (* ) in vloekwoorde nie, want dit herinner sterk aan Scope se sterretjies van destyds. Mens weet nog steeds wat onder die sterretjie skuil.  Dit is wel Netwerk24-beleid.

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.