Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie op te veel ouens se bytlysie beland

By al die internasionale dae vir enige siekte of saak onder die son (vetsugdag, kameelperddag, werkersdag, pienkoogdag, ensovoorts), was dit mos weer nou die dag interna­sionale hondsdolheidsdag.

Behalwe dat ’n ou maar daai naweek wye draaie om meerkatte geloop het, het jy nie geweet wat om eintlik aan dié ernstige saak te doen nie.

Blouwillem

Dis omtrent hoe ons gewone piepols nou voel as ons so luister na al die nuwe skelmstreke en dol dinge wat elke dag op die lappe kom. Verstom oor presies hóé skelm onse skelms nou eintlik is.

Kyk, dis een ding om by ’n bank te steel, maar jy moet regtig kwalifikasies hê om ’n bank te kan leeg steel. Daai wil vir jou gedoen wees!

Maar hoor ons van één enkele Kroekta, Steinrower, VBS (Vreeslik Baie Skelms)-bankrower of kabeldief wat nou al in die hof beland het? Nee, nie een nie!

Naby die land se groot raadsale word ’n ou mos nou die dag deur ’n rower daar in Adderleystraat voorgekeer.

“Gee my jou geld!” beveel hy die verskrikte slagoffer, wat reageer met: “Jy gaan nie hiermee wegkom nie, ek is ’n lid van die parlement.”

Grom die rower toe: “In daai geval, gee terug mý geld!”

Ja nee, ween die geliefde land waar seuns nie meer in hul pa’s se voetspore volg nie, maar in hul vingerafdrukke. Oom Zoempie, Floyd, Doedoezane, Markus, Ajay en julle ander spul rakkers, is julle daar?

Oom Johnny sê met hondsdolheidsdag het hy weer gedink aan die ou wat by die dokter gehoor het dat hy dié gevreesde siekte onder lede het. Die dokter sê toe vir hom dat hy vir hom goeie en slegte nuus het.

“Die goeie nuus is dat jy net 24 uur oor het om te lewe.”

“Nou wat kan dan slegter nuus wees, Dok?” vra die ou geskok. “Ons kon jou nie gister in die hande kry nie,” antwoord die kwak.

Die ou vra toe vir die dokter vir ’n pen en papier. Die dokter gee dit vir hom en wonder hardop: “Wil jy jou testament verander of ’n paar laaste boodskappe skryf?”

“Nee, Dok, ek maak ’n lys van ouens wat ek nog vanoggend wil gaan byt.” Nou ja, laat ons maar so met mekaar saamlewe dat ons nie op te veel ouens se bytlysie beland nie.

Dik Daan vertel weer van die ou wat daar op sy plaas in Springfontein se wêreld deur ’n meerkat gebyt is.

Vroulief jaag toe met hom dorp toe, maar stop skielik so ’n paar honderd meter verder in ’n groot stofwolk daar op die grondpad.

“Hoekom stop jy nou?” wil die ou weet.

“Haal uit jou tande en gee vir my,” beveel sy, en daar laat waai hulle weer.

So weet maar, julle kroekende kroekers, kerkklokdiewe en rakkers, ons vervolgingsowerhede het dalk nie byt nie, maar julle bly voltyds op óns piepols se bytlys!

Meer oor:  Blouwillem  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.