Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie ras met ras beveg
Grootskaalse protesaksie het eergister in die Kaapse Skiereiland onder die vaandel van Gatvol Capetonians plaasgevind. Die protes was meestal vreedsaam, soos hier in Duinefonteinweg, Manenberg, maar elders het dit oorgegaan tot geweldadige protesoptrede. Foto: jaco Marais

Bruin mense in die Wes-Kaap is gefrustreerd.

Die noodkreet wat die laaste tyd op veral die Kaapse Vlakte manifesteer, kan nie langer geïgnoreer word nie. Allerlei bewegings is besig om inhoud aan die noodkreet van bruin mense te gee.

Dit spoel oor in die openbare terrein en het die Kaapse metropool vroeër die week op vele plekke tot stilstand gedwing.

Oor die meriete van hul aksies en hul voorspraakrol namens bruin mense is daar geen eenstemmigheid nie. Dit gons op sosiale media.

Die veelheid van standpunte bied nie net insig in die uiteenlopendheid van mense se ideologiese verbintenisse, dag-tot-dag-ervaringe en die sosio-ekonomiese omstandighede waarin hulle hulself bevind nie, maar dit belig ook ’n groter probleem: ’n Regering wat aanhou om die raskaart te speel om maatskaplike geregtigheid en gelykheid teweeg te bring.

Dit plaas ons al hoe vinniger in ’n rigting van ongekende rassepolarisering en selfs burgerlike konflik. Dit maak ook ’n klug van ons Grondwet, wat die ideaal van ’n nierassige en gelyke samelewing voorop stel.

Wyle prof. Neville Alexander se welbekende mantra “Fighting race with race is bad social science and even worse practical politics!” is nou meer relevant as ooit.

Om ras met ras te beveg is ’n kortsigtige en gevaarlike beleid wat, soos ons reeds sien, baie maklik in gewelddadige rassekonflik kan ontaard.

Nog minder bring dit daadwerklike, fundamentele verandering mee. Slegs beperkte groepe vind hierby baat, terwyl die meerderheid in ’n siklus van armoede vasgevang is, aldus Alexander.

Voeg swak dienslewering, swak onderwys en gesondheidsdienste, gebrekkige veiligheid, en swak lewensomstandighede by die aanstelling van mense op grond van ras en wettelose grondgrype en jy sit met ’n kookpot van emosies wat besig is om oor te kook.

Die Wes-Kaapse politieke leierskap sal moet luister na die frustrasies van die bruin gemeenskap.

Die Wes-Kaapse politieke leierskap sal moet luister na die frustrasies van die bruin gemeenskap.

Hiermee vee ek nie die frustrasies van wit en swart mense van die tafel af nie. Allermins.

Daar moet egter rekening gehou word met die feit dat ’n onstabiele, gefrustreerde, gefragmenteerde en onderling verskeurde bruin gemeenskap – wat die meerderheid in die Wes-Kaap vorm – die deur wa-wyd oopmaak vir ’n politieke uitval soos min.

Dit kan die Wes-Kaap ook op ’n pad van politieke en ekonomiese verval laat beland. Dié vakuum word nou gevul deur bewegings wat wel die frustrasies van bruin mense op grondvlak verwoord. Dit kan nie geïgnoreer word nie.

Uit die kommentaar op sosiale media is dit duidelik dat die leierskap van die Cape Coloured Congress groot ondersteuning geniet.

“Sommige stem nie saam oor sy (leier van die bruin beweging) siening nie, en dit is goed . . .

Christo van der Rheede
Christo van der Rheede

“Dit is jou reg tot vryheid van spraak, maar hy doen beslis baie meer vir die mense as diegene wat aan bewind is,” lui een kommentaar op sosiale media.

Andere vra egter: “Waarom nie die armes verenig nie? Waarom bruin teenoor swart opstel? Die enigste manier om verandering te bewerkstellig is om die armes te verenig, want ras is immers net ’n sosiale konstruksie.”

Die kommentaar wat my egter laat regop sit is die volgende: “Dit is die uitkoms van ’n land wat ’n sosialistiese diktatorskap van die meerderheid geword het.

“Die ironie is dat ons tydens apartheid verenig was, maar deur die rassistiese beleid van die ANC verdeel word. Die mense kan nie die skuld gegee word dat hulle gatvol is nie!”

Die ANC se benepenheid met ras, sentraal beheerde ekonomie en onvermoë om wet en orde toe te pas, is die eintlike probleem.

  • Van der Rheede is adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Politiek  |  Da  |  Anc  |  Politieke Partye  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.