Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Moenie simbole van kolonialisme vernietig'

Moenie die standbeeld van die aartskolonialis Cecil John Rhodes verwyder nie. Hou hom waar hy is en erken met trots dat elke Suid-Afrikaner is wie ons is danksy of ondanks Rhodes en sy imperialistiese kolonialisme, skryf Johan Nel.

Die standbeeld van genl. Koos de la Rey in Lichtenburg, Noordwes, is deur vandale beskadig. Die foto is op 20 Januarie 2013 geneem.Foto:

Die publiek se begrip van erfenis is uiteenlopend en dikwels omstrede of aanvegbaar. Wat vir die een mens waardevolle erfenis is, is dalk vir iemand anders nutteloos of selfs afstootlik.

Erfenis is eintlik ’n maklike begrip. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beteken die stamwoord erf iets wat uit ’n nalatenskap verkry word, hoedanighede wat van voorouer(s) verkry word, of die oorneem van of ontlening aan iets.

Op ’n gemeenskaplike vlak is erfenis dus die somtotaal van alles wat deur ons voorsate aan ons oorgedra is – goed en sleg. Erfenis speel ’n uiters belangrike rol in individuele, gemeenskaplike en nasionale identiteit.

Ontasbare en lewende erfenis word ook beskerm wat tradisies, mondelinge geskiedenis, rituele, populêre geheue en vaardighede insluit.

Die aanhef van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne, 1999 (die Erfeniswet) bevestig dié waarde soos volg: “... erfenis is uniek en kosbaar en kan nie hernu word nie. Dit help ons om ons kulturele identiteit te definieer en vorm dus die grondslag van ons geestelike welsyn en het die krag om ons nasie te bou. Dit het die potensiaal om ons uiteenlopende kulture te bevestig en daardeur ons nasionale karakter te vorm.”

Die soort erfenishulpbronne wat deur die Erfeniswet beskryf word, sluit in meer vaste erfenis soos plekke, geboue, geskiedkundige nedersettings en dorpskappe, monumente, grafte en begraafplase. Die wet maak ook voorsiening vir kultuurgebruiksgoedere soos argeologiese voorwerpe, kuns (sierkuns, skone kuns en etnografiese kuns), fossiele en seldsame geologiese eksemplare.

Die verval van geboue by die Botshabelo-sendingstasie in Mpumalanga. Die foto is op 14 Mei 2016 geneem.Foto’s: Erfenisstigting

Ontasbare en lewende erfenis word ook beskerm wat tradisies, mondelinge geskiedenis, rituele, populêre geheue en vaardighede insluit. Al die soorte erfenisse word deur die Erfeniswet beskerm en moet op verskillende vlakke bestuur word.

Dus – met die baie edele beginsel van erfeniswaarde en die baie inklusiewe definisie van wat erfenishulpbronne behels, waarom dan die uitdaging om erfenis te bewaar? Daar is verskeie antwoorde op die vraag, waarvan twee uitgelig word.

Eerstens toon ervaring dat die inklusiewe aard van erfenis nie waardeer word nie. Erfenis word dikwels deur verskillende agente vir eie gewin gebruik wat tot polarisering lei: Die idee van mý erfenis teenoor jóú erfenis; die een is belangriker as die ander.

Dié opvatting spruit grootliks uit die oningeligte begrip dat erfenis eie aan identiteit en kultuur is. Erfenis speel wel ’n baie belangrike rol in identiteitsvorming en aspekte van erfenis sal meer intens deur sekere gemeenskappe ervaar word. Maar erfenis is nie noodwendig gelykstaande aan identiteit of kultuur nie.

Erfenis moet in werklikheid as ’n gedeelde nalatenskap beskou word. En, dié gedeelde nalatenskap moet gerespekteer word en binne die konteks van geskiedkundige gebeurtenisse begryp word.

Elke mens se subjektiewe ervaring en wêreldbeskouing word deur dié gedeelde erfenis ingelig en beïnvloed.

’n Voorbeeld van wat gedeelde erfenis behels, kan in die lig van koloniale erfenissimbole binne die huidige diskoers oor dekolonialisering beskryf word. Daar is baie tasbare simbole in Suid-Afrika wat sekere aspekte van ons koloniale erfenis verteenwoordig – let wel, ons koloniale erfenis.

Elke mens se subjektiewe ervaring en wêreldbeskouing word deur dié gedeelde erfenis ingelig en beïnvloed. Die beskadiging, vernietiging of verwydering van sulke tasbare simbole van ons koloniale erfenis dra geensins by tot die hoë ideaal dat erfenis ’n wesenlike bydrae lewer ten opsigte van identiteit, nasiebou en die regstel van vorige onbillikhede nie.

Rommel by die begraafplaas van die Winburg-konsentrasiekamp in die Vrystaat. Die foto is op 22 Junie 2011 geneem.Foto:

Inteendeel, dit veroorsaak meer onderlinge verdeeldheid en wantroue tussen gemeenskappe. Dit bly ’n baie groot deel van ons erfenis en identiteit as ’n nasie.

Dit sal altyd ’n geskiedkundige feit bly dat Suid-Afrika baie lank ’n koloniale instelling was, en dat die meeste Suid-Afrikaners slegter as ander daaraan toe was onder en ná kolonialisme.

Ons kan dit nie verander nie, dit is deel van ons erfenis, van wie ons is, en hoe ons onderling met mekaar verkeer. Die simbole wat dus as tasbare bewyse van die geskiedenis en ons erfenis opgerig is, moet in dié konteks gesien word.

Moenie die aartskolonialis Rhodes se standbeeld verwyder nie. Hou hom daar waar hy is en erken met trots dat ons (en elke individuele Suid-Afrikaner) is wie ons is vanweë, of selfs ondanks Rhodes en sy imperialistiese kolonialisme.

’n Tweede en dalk meer konkrete oorsaak van die uitdagings is die gebrek aan befondsing wat aan erfenis in die breë toegeken word.

Dit sluit private én staatsbefondsing in. Onvoldoende befondsing lei tot ’n groot verskeidenheid probleme wat onvoldoende kapasiteit, bevoegdheid en bewusmaking van die waarde van erfenis insluit.

Onvoldoende kapasiteit en bevoegdheid veroorsaak dat die Erfeniswet nie volkome toegepas word nie, en erfenis dan direk daaronder ly.

Bewusmaking van die algemene, intrinsieke en ekonomiese waarde van erfenis, wat streng gesproke ’n staatsfunksie behoort te wees, stel sekere agente in staat om erfenis te kaap en daardeur hulle eie agendas te dryf.

Gemeenskappe en die publiek moet hul stemme dik maak by die owerhede, sodat meer aan erfenis bestee word.

As ’n mens kulturele erfenis met natuurlike erfenis vergelyk, word die gebreke duidelik. Daar is menige organisasies wat hulle beywer vir die bewaring en volhoubare benutting van die omgewing en ander aspekte van die natuurerfenis.

Die organisasies word taamlik goed befonds uit die staatskoffers, die private sektor en die publiek. Dink aan nieregeringsorganisasies soos die Endangered Wildlife Trust en Earthlife Africa. Hulle is aktief betrokke by verskillende omgewingsake waar hulle die nodige openbare aandag en ondersteuning het.

Dié organisasies funksioneer ook goed, omdat die relevante wetgewings afgedwing word.

Die teendeel geld vir kultuurerfenis. Erfenisowerhede is geheel en al onderbefonds, en die Erfeniswet word selde afgedwing. In die meeste provinsies bestaan die provinsiale erfenisowerhede maar net in naam, met min tot geen kapasiteit om erfenis daadwerklik en volgens wet te bestuur nie.

Plaaslike erfenisowerhede bestaan glad nie, met die uitsondering van die Kaapstadse erfenisowerheid. Die gevolg is dat ’n handjievol mense dan die plig op hul neem om erfenis te bestuur, sonder die noodwendige kennis, agtergrond en hulpbronne.

Daar is ook min nieregeringsorganisasies wat hulle vir erfenis beywer.

Johan NelFoto:

Erfenis is ook ’n baie subjektiewe en emosionele saak. Mense identifiseer met sekere soorte erfenishulpbronne wat as tasbare uitdrukkings van hul identiteit en kultuur ervaar word. Sou sulke hulpbronne dan agteruitgaan, beskadig of vernietig word, of ironies genoeg beskerm word, is daar dikwels ’n negatiewe reaksie wat tot verdere polarisering lei.

Sulke negatiewe reaksies word maklik deur agente uitgebuit om gemeenskappe en die publiek op te sweep om hul eie agendas te bevorder.

Wat kan gedoen word om die uitdagings te oorkom? Gemeenskappe moet meer betrokke raak en eienaarskap van plaaslike erfenishulpbronne neem.

Plaaslike erfenisorganisasies kan gestig word. Gemeenskappe en die publiek moet hul stemme dik maak by die owerhede, sodat meer aan erfenis bestee word.

’n Openbare bewussyn van wat erfenis werklik is en beteken, moet gekweek word, sodat mense nie deur opsweperigheid meegesleur word nie. Die belangrikste van alles is dat die handjievol organisasies, soos die Erfenisstigting, wat hom wel vir ware erfenis beywer, ondersteun moet word.

* Johan Nel is bestuurder: erfenishulpbronbestuur, by die Erfenisstigting, ’n art.21-maatskappy sonder winsmotief wat daarop toegespits is om bedreigde Suid-Afrikaanse erfenis te bewaar, na te vors en bewussyn van erfenis onder die publiek te skep.

Meer oor:  Kolonialisme  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.