Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Moenie taal vermoor': Breyten se brief aan rektor

Die Universiteit van Stellenbosch se voorgestelde taalbeleid is kultuurmoord, intellektuele lafhartigheid en eksistensiële stompsinnigheid, skryf Breyten Breytenbach in 'n ope brief aan Wim de Villiers, US-rektor.

Breyten Breytenbach.

Geagte Meneer de Villiers,

Dis ’n kwade dag wanneer daar in die openbaar gepleit moet word vir die erkenning en versterking van diversiteit en vir die effektiewe behoud van veelvuldigheid as onderskraging van die gedeelde, oorkoepelende waardes waarop Suid-Afrika se Grondwet berus.

Maar dit sou neerkom op burgerlike pligsversuim as dit nié uitgewys word dat die effektiewe verskansing van veelvuldigheid nie net ’n voorvereiste is vir die vaardighede wat oorgedra moet word aan die jonger geslagte sodat hulle tot volwaardige en verantwoordelike landsburgers mag ontwikkel wat vir hulleself kan dink nie, en nie slegs om onderlinge verdraagsaamheid en begrip te kweek nie – maar ook omdat die wêreld alreeds sedert die omverwerping van kolonialisme en die ontluistering van ideologiese en kulturele hegemonieë besef het dat die stryd teen die verlies van die diverse die snykant van progressiewe kennisverwerwing vergestalt.

Waarom wil u met swak en siniese argumente ’n reaksionêre taalbeleid aan u universiteit opdwing? Wil u werklik dat die Universiteit Stellenbosch ’n konserwatiewe instelling word wat nog net in die nagemaaktheid van ’n koloniale taal, die taal van Coca-Cola en Monsanto, funksioneer?

Kan u dan nie insien dat ’n instelling van hoër onderwys in Suid-Afrika slegs deur die waardering en die uitbou van die plaaslike met werklike wortels in die realiteit en die verwagtings van die streek aanspraak kan maak op universele relevansie nie?

Dis nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees.

Het u enigsins ’n begrip van die draagwydte van Afrikaans? Weet u nie hoe dit ontstaan het uit die lewenskragtigheid van transformasie en verset en saambestaan in die Boland nie? Kan u in alle opregtheid maak asof u nie besef dat u voorgestelde taalbeleid beteken u keer die rug op die Karoo, die Klein-Karoo, Namakwaland, die Kaap… nie? Besef u dan nie dat u beleid binne afsienbare tyd sal lei tot die vernietiging van ’n absoluut unieke en inheemse omgangstaal wat lewe in die baie monde van vissers en werkers en boere en onderwysers en kerkleiers en regslui… en ’n aanwins is vir die wêreld se eksistensiële ekosisteem nie? Ken u die gedigte van Uys Krige en Ingrid Jonker en Piet Philander? Is u bewus van die besonderse bydrae tot die wêreldliteratuur van ons plaaslike visionêre skrywers soos Jan Rabie en Johan Degenaar en Elsa Joubert? Wil u toesien hoe die taal van Bram Fischer en Beyers Naudé en Neville Alexander en Jakes Gerwel uitgefaseer en afgeskaal en uiteindelik minag word – tot voordeel van verdomming in die strewe na ’n tweedeklas ‘wêreldburgerskap’? Is u vertroud met die denke van Martin Versfeld? Of dan – nader aan u nering – het u ’n idee watter rykheid aan kennis en insigte en belangstellings ’n medikus soos Louis Leipoldt gebied het, en dat dit ingebed was in sy taal?

En weet u tot hoe ’n mate u voorgestelde taalbeleid met die onvermydelike konsekwensies daarvan juis spreek van ’n gekoloniseerde en provinsialistiese houding?

Walter Benjamin het al in ’n opstel, Wesen der Sprache, daarop gewys dat die Filistynse ‘instrumentele’ siening van taal as synde die kommunikasie van inligting en niks meer nie, neerkom op ’n bourgeois konsep van taal. Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus? Dink u werklik u silwerlinge gaan vir u ’n internasionale aansien koop?

Geagte professor, u voorgestelde taalbeleid is die dood in die pot vir meertaligheid.

U hoef nie hierdie kultuurmoord te bemiddel nie. Die “pragmatisme” en “realisme” waarvan soms gewag gemaak word, met ’n skaars verskuilde verkleinering van Afrikaans en die ander inheemse tale, is niks anders as intellektuele lafhartigheid en eksistensiële stompsinnigheid nie.

Dis nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees.

Dis nou die tyd om te luister! En u sal sien hoe baie goeie wil daar werklik is om u hand te sterk in die verwerkliking van ’n veelsydige universiteit wat sy krag put uit die rykdom aan diversiteit van oorspronge en skeppingspotensiaal van hierdie geweste as smeltkroes en voorbeeld van ons land se moontlikhede.

* Breytenbach se brief is aanvanklik op gelykekanse.com gepubliseer, 'n drukgroep vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Stellenbosch

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.