Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie te lank staar, haweloses het ook trots . . .

Soms klink dit soos die vrolike gekwetter van voëls in die laatmiddagson, maar ander kere is dit niks meer as wat dit eintlik is nie: net oe-aa-geluide wat oorverdowend opklink wanneer die Moederstad se boemelaarsbrigade gaan bad.

Sommer net daar by die fontein in die hart van die Heerengracht. Daar waar die standbeelde van Jan van Riebeeck en Maria de la Queillerie dag en nag oor die stad waak.

Dit is net duskant van die nuwerwetse hotelle en woonstelle – dieselfde stukkie straat waar ’n groepie stryders gereeld teen aborsie en wie-weet-wat-als betoog; dieselfde kol waar ’n ander groep dikwels aan verbygangers strydlustige literatuur, met Bybelversies ter stawing, in die hand stop.

As jy die dag nie net luister nie, maar ook kyk wat eintlik daar in die waters aan die gebeur is, is dit om van te bloos. Moet net nie te lank staar nie, want die haweloses het ook hul trots.

Binne enkele oomblikke word die rand van die fontein in ’n wasgoedlyn omgeskep. Broeke en hemde, stukkende bra’s en pênties, onpaar sokkies en bloese wat ’n madam sekerlik gegee het toe iemand laas by haar stukwerk gedoen het.

In die bad word die borrelende en bruisende water rondgeskop, want hoewel hulle dalk werkloos en dakloos is, het iemand iewers gesê dis nog nie ’n verskoning vir morsigheid nie. Hul redenasie blyk te wees dit is dan beter om minstens een maal per week te bad, al is dit nou in die middel van ’n stad.

Nie een van die verbygangers knip ’n oog nie. Vreemd hoe ’n mens se oë later net begin sien wat jy wil . . . Net oorkant dié fontein staan ’n paar taxi’s agtermekaar onder ’n laning bome. Dis nou nie dieselfde amandel- en doringbome wat Van Riebeeck volgens die geskiedskrywers by Kirstenbosch geplant het om wit en swart uitmekaar te hou nie, maar dit is ewe groen.

Binne enkele oomblikke word die rand van die fontein in ’n wasgoedlyn omgeskep.

Sakelui en skoolkinders betaal fluks vir ’n geleentheid tot by die V&A Waterfront, ’n groep Moslem-mans skollie ’n lift op pad na die moskee, buitelanders verkoop lekkergoed en koeldrank.

Die stad lewe, want dis boonop neffens die Kaapstadstasie. Die toeriste karwei houtbeeldjies van insekte en ander gode kenmerkend van Afrika. Nie eens húlle blyk die petalje in die bad te aanskou nie.En aan die oorkant – in die middel van die stad – bad en baljaar die haweloses asof dit uit die mode raak.

Ek en ’n vriend kan ons nuuskierigheid later nie meer hou nie. Ons staan versigtig nader. Eers net ’n paar treë, en later moet ons versigtig trap om nie self in die bad te val nie. Teen dié tyd lyk dit of almal klaar geskrop het, maar wat baat dit nou jy’s skoner, maar jou klere is nog vuil en stink? Maar moenie ’n fout maak nie, iemand anders het ook hieraan gedink, wanttoe is die boemelaarsbrigade reeds die wasgoed aan die was. Net so: sonder seep. en in die water wat later in patroontjies op hulle reën.

Net toe ons soos kringtelevisiekameras begin voel, kyk die oudste onder hulle op. Haar hare was valerig van die chloorwater en druppeltjies het oor haar wenkbroue geloop. Haar glimlag amper verleë. Die ander het opgehou waarmee hulle besig was en ook na ons begin staar. Ons het die hasepad gekies.

Dié fontein, soos die Kaap, is helaas nou al etlike maande sonder water.

Meer oor:  Ivor Price  |  Haweloses
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.