Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie vertroue verkwansel, CR
Henry Jeffreys

Ek rook nie, en is ewig dankbaar daarvoor. Ek het verlede week my 65ste verjaardag gevier – en ek het in daardie tyd nooit ernstig gerook nie.

Dit is nie dat ek nie probeer het nie. In my tiener- en vroeë werkdae het ek deur fases van probeer gegaan. Ek het vir ’n tyd lank met sigare en pyptabak eksperimenteer, maar dit was niks meer as ’n tydelike gier om deel te wees van die “in”-mense nie. Soos met alle giere het dit ’n kort rakleeftyd gehad.

Ek het nietemin simpatie met rokers in hierdie tyd van Covid-19. Oor die jare is ek omring deur vriende en familie vir wie die rook van sigarette ’n baie ernstige kwessie is, ongeag die menige, bewese gesondheidsrisiko’s wat dit inhou.

Ek het talle gesien wat probeer ophou het, sonder sukses. Ek het dus begrip vir die frustrasie oor die regering se omstrede verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens inperking.

Die frustrasie is in woede omgeskep toe die regering se aanvanklike besluit om die verbod op te hef, omgekeer en dit weer verbied is, soos verlede week arbitrêr deur minister Nkosazana Dlamini-Zuma aangekondig is.

Dlamini-Zuma het ’n ding oor rook. As destydse minister van gesondheid het sy dit haar missie gemaak om advertensies vir sigarette verbied te kry.

Ek het begrip vir die frustrasie en, ja, die woede onder rokers oor die regering se bontspringery oor die verkoop van tabakprodukte. Dan praat ons nie eens van die gepaardgaande massiewe geldelike verliese van belasting nie.

Dlamini-Zuma het ’n ding oor rook. As destydse minister van gesondheid het sy dit haar missie gemaak om advertensies vir sigarette verbied te kry.

Sy het dus ’n duidelike agenda, en ’n mens kan nie help om te wonder nie of haar persoonlike gevoelens ter sprake is in die verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens inperking.

Sover bekend, is Suid-Afrika die enigste land ter wêreld wat so ’n verbod in sy arsenaal teen die virus het. Dit laat ’n mens dink, nè?

Dlamini-Zuma is nie die enigste lid van die regering se “bevelsraad” met ’n agenda nie. Die minister van polisie, Bheki Cele, het oënskynlik weer ’n ding oor alkohol en gaan uit sy pad om die verbod op die verkoop daarvan aggressief wyd en syd te verkondig en verdedig.

Dlamini-Zuma se leidende invloed in die bevelsraad het haar politieke status in skerp fokus gebring.

Onthou, sy kon maklik vandag president van die land gewees het, maar is in 2017 naelskraaps deur pres. Cyril Ramaphosa geklop in die wedloop om die leierskap van die ANC.

Het die president geswig voor Dlamini-Zuma se persoonlike weersin in rook?

Die vrae bly egter oor Ramaphosa se aanvanklike verklaring dat die verkoop van tabakprodukte as deel van vlak 4 in die stryd teen Covid-19 opgehef word, en die skielike ommeswaai.

Het die president geswig voor Dlamini-Zuma se persoonlike weersin in rook?

Ramaphosa het wel Maandag te kenne gegee die besluit was deurdag en is kollektief geneem. ’n Mens wonder egter steeds. Die vraag word al hoe meer gevra oor wie in beheer is van die regering – Ramaphosa, die Dlamini-Zumas of die Bheki Celes?

Ramaphosa moet versigtig wees om nie die vertroue wat hy tot dusver opgebou het met die regering se bestuur van die Covid-19-pandemie te verkwansel en die deur vir sy moontlike toekomstige teenstanders oop te maak nie.

Dlamini-Zuma se opkoms as die sterk minister in die bevelsraad sal haar ondersteuners met tevredenheid vul, veral met die oog op die ANC se leierskonferensie in 2022. Dit is net om die draai.

Die meeste Suid-Afrikaners sal Rama-phosa verkies in ’n leierstryd. Dis egter nie hulle nie, maar ANC-kaders wat die ANC-leier sal verkies.

Dit is nie onredelik om te dink dat Dlamini-Zuma se aandag en fokus reeds op 2022 is nie. Onthou, sy was baie naby in 2017. Ramaphosa sal homself ’n guns bewys om dit selfs in hierdie dae van Covid-19 te onthou.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Rook  |  Bevelsraad  |  Rookverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.