Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet almal Trumps word om ’n sê te hê?

Almal wat my ken, sal weet ek is nie Donald Trump se grootste fên nie. Die ou wat weer gaan probeer om Amerika se naam vir vier jaar deur die modder te sleep, is ’n boelie, rassis en groot narcis.

Maar die jimmele hoor my, al ou wat waarskynlik met die ANC iets sal regkry, is Trump. Maak John Steenhuisen vir ’n maand of twee die DA se skinkbord-aandraer en bring Trump in as ons opposisieleier.

Want Trump dink nes die ANC. Hy praat nes die ANC en hulle luister na niemand nie. En hy doen net soos die ANC. Laat hulle op mekaar skreeu, vuisslaan en mekaar uitsorteer. Laat die ANC vir ’n slag in die spieël kyk.

Trump, glo ek vas, sal self Ace Magashule aan die strot gryp, by wyse van spreke. Solank hy en al die comrades wat hulself verryk het nie aange-kla word nie, sal ons land nie ’n tree vooruitgaan nie. Ons dorpe is sonder water, geld en kos. Dit gaan ellendig. Maar steeds steel die ANC elke krummeltjie bedoel vir die armes.

Ek gaan geen nut meer vir my DStv en SuperSport hê nie. Ons rugby en krieket is gekaap.

Ons het iemand nodig wat hulle aan die ore kan gryp en in die hof en tronke gooi. Ons het dapper vigilante burgerlikes nodig wat beslag lê op die korrupte burgemeesters en hooggeplaastes se motors, huise en speelplekke. Laat hulle fietsry en stap, soos die armes.

Van Trump gepraat. Skielik verlang ek na ’n outokraat in SA Rugby wat vinnig die regte besluite kan neem in belang van die spel en boggher die rugstekers en besluitloses wat sport gekaap het. Iemand soos Louis Luyt.

Want as die Vrystaat Cheetahs môre uit die Pro14 geskop word, sal dit die grootste onreg tot nog toe in rugby in die land wees. Nie een van die rugbybase het die Cheetahs gehelp toe hulle uit Superrugby geskop is en na die Pro14 moes skuif nie. En nou kom hulle en sê hokaai, ons waai ook uit Superrugby. Ons wil ook in Europa speel. En raai wie moet hul goedjies vat en trek? Die Cheetahs, waarskynlik.

In een bekookte oomblik gaan professionele rugby in die Vrystaat vernietig word. Die spelers gaan sonder heenkome sit as Toyota en SuperSport as borge onttrek. Ons sal waarskynlik soos die Kings nie eens in die Curriebeker kan speel nie. Of is daar nog ’n Curriebeker, SA Rugby? Ironies genoeg het ons die beste skolespan ter wêreld met Grey-kollege, maar dalk geen professionele span nie. Die Cheetah-spelers kan uitgedeel word na ander unies óf werkloos wees.

Ons as Vrystaters durf nie die besluit goedsmoeds te aanvaar nie. Ek gaan geen nut meer vir my DStv en SuperSport hê nie. Ons rugby en krieket is gekaap. Jou stem as sportliefhebber tel nie, net soos jou stem as belastingbetaler onder die ANC nie tel nie.

Moet ons begin boikot, soos Trump? Dit kan die laaste bietjie van die ekonomie vernietig wat oor is.

As iemand net wil begin dink, sal dit help. Is daar nog iemand met bôls? Of moet ons almal Trumps word om gehoor te word?

Meer oor:  Donald Trump  |  Charles Smith  |  Sport  |  Rugby  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.