Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet doodstraf ingestel word?
Prof. Anton van Niekerk

Daar is weer talle versugtinge om de herinstelling van die doodstraf. Die gevalle van wreedaardige en gevoellose moord laat ’n mens eenvoudig sprakeloos.

Daar was die skuldigbevinding van Xander Bylsma wat twee lewenslustige boesemvriendinne verwurg en in een geval selfs opgehang het om dit na selfmoord te laat lyk. Dít op ’n dorpie soos Stella. Wat broei onder die oppervlak van ons samelewing as dit selfs net by ’n jong man opkom om ’n meisie wat hom nie langer spesiaal vind nie, se lewe só te beëindig?

Daar was die Brand-gesin van Hartswater: Bejaarde ma en pa en volwasse dogter, slagoffers van ’n brutale moord deur plaasaanvallers. Onlangs was daar weer ’n berig oor Rob Packham – op die oog af ’n onopvallende inwoner van die voorstede wat besluit hy is moeg vir sy vrou. Dan volg sy versigtig uitgewerkte plan: Verwurg die persoon met wie hy langer as 20 jaar getroud was, laai die lyk in sy kattebak en gaan verbrand dit (ook net gedeeltelik) êrens in die veld.

Dan praat ons nog nie van die amper daaglikse berigte van boeregesinne en werkers wat op plase aangeval en dikwels vermoor word nie – dis nou wanneer slagoffers nie eers met kookwater of vuurwarm strykysters gemartel word nie.

Hoekom moet ons sulke mense laat lewe? Doen ons nie almal (insluitend moontlik die moordenaars self) ’n guns deur ’n strafregpraktyk wat ’n oog vir ’n oog eis nie?

Voor die 1990’s, toe die doodstraf nog toegepas is in Suid-Afrika, was meer as 90% van tereggesteldes swart.

Ek bly egter daarvan oortuig dat ons moet wegbly van die doodstraf. Ek wil drie argumente aanvoer. Die eerste is die pragmatiese argument: Doodstraf skrik potensiële moordenaars en verkragters nie af nie; ’n menigte studies het dit reeds bewys.

Die tweede is die politieke argument. Sake is in Suid-Afrika té kompleks en verpolitiseer om doodstraf hier weer in te stel. Ons weet die konstitusionele hof interpreteer die doodstraf as die skending van die mees fundamentele mensereg: Die reg op lewe.

Voor die 1990’s, toe die doodstraf nog toegepas is in Suid-Afrika, was meer as 90% van tereggesteldes swart. Dit help nie om te argumenteer dat laasgenoemde syfer bloot die bevolkingsamestelling weerspieël nie.

Die doodstraf in Suid-Afrika, veral ook in die lig van die herinneringe aan daardie tyd voor die 1990’s, is politieke dinamiet. Afrikaners wat nog die naam Jopie Fourie onthou, weet dit alte goed.

ie respek wat ons vir alle mense het, impliseer dat ons as ’n samelewing moet bly weier om te daal tot die vlak van die moordenaar.

Die derde (en sterkste) argument, is die morele argument. Ons kan dit nie moreel regverdig om die ergste vorm van retribusie (“ ’n oog vir ’n oog”) in te bou in ons reeds ontoereikende gereedskap vir konflikhantering nie. Dit sal konflikhantering baie moeiliker maak as wat dit reeds is.

Hieraan gekoppel is die vraag hoe ons as ’n samelewing onsself sien en aan onsself wil dink. ’n Mens kan, soos die filosoof Immanuel Kant, argumenteer. Om iemand anders as ’n doel en nie ’n middel nie te beskou, impliseer dat as iemand moord pleeg, ons respek vir sy menslikheid vereis dat ons hom op dieselfde manier moet behandel as hoe hy sy slagoffer behandel het – maak hom dus ook dood!

By al my respek vir Kant, oortuig dié argument my nie. Die respek wat ons vir alle mense het, impliseer dat ons as ’n samelewing moet bly weier om te daal tot die vlak van die (ook veragtelike brutaliteit) van die moordenaar. Ons skuld die moordenaar nie veel nie.

Ons skuld onsself, ook onder die ergste provokasie, die behoud van menslikheid, moraliteit en geestelike weerbaarheid – die vryheid om nooit toe te laat dat die waansin van die moordenaar voorskriftelik word vir hoe ons teenoor hom en andere optree nie.

  • Van Niekerk is ’n uitgelese professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Doodsvonnis  |  Wreedheid  |  Menslikheid  |  Doodstraf  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.