Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet Menseregtedag eintlik Sharpeville-dag wees?

Party groepe meen Mandela was ’n “sell-out”, en hulle is gekant teen gedeelde nasionale simbole. Maar die idee van versoening probeer ’n nuwe toekoms van gemeensaamheid verbeel, skryf Christi van der Westhuizen.

Op 21 Maart 1960 het ’n skare van tussen 5 000 en 7 000 betogers na die Sharpeville- polisiekantoor opgeruk om beswaar te maak teen die paswette. Op daardie dag het 69 slagoffers hul lewens verloor omdat hulle as swart mense durf waag het om die basiese burgerreg van vrye beweging te eis. Foto: Universal History Acrhive

Is die hernoeming van beduidende geskiedkundige dae in die demokratiese era net nóg ’n aanstootlike oorblyfsel van die reënboogwaan van die jare 90?

Moet Menseregtedag op 21 Maart eintlik Sharpeville-dag heet – en 16 Junie Soweto-dag eerder Jeugdag? Hierdie diskoers begin al luider te raak, en vorm deel van ’n groter onrusbarende politieke tendens.

Mandela en die groep mense om hom, waaronder pres. Cyril Ramaphosa, kon insien dat die bestaande verdeeldheid aktief oorbrug moet word om die gety van geweld om te draai.

Die name van die dae wat Suid-Afrika herdenk, is een van die voorbeelde van die versoeningsprojek wat gedurende en ná die onderhandelinge deur mense soos Nelson Mandela en Desmond Tutu van stapel gestuur is. Ander voorbeelde is die demokratiese landsvlag en die volkslied. Sommige sal die voortgesette gebruik van “Suid-Afrika” (eerder as Azanië) ook ophaal as een van die kompromieë van daardie era wat ongedaan gemaak moet word.

Destyds – en veral mense van ’n jonger generasie vergeet dit óf hulle is totaal onbewus daarvan – was Suid-Afrika in ’n laevlak burgeroorlog gewikkel. Meer mense is dood in politieke geweld in die tydperk tussen 1990 en 1994 as op enige ander tydstip gedurende die gruwelike apartheidsera. Mandela en die groep mense om hom, waaronder pres. Cyril Ramaphosa, kon insien dat die bestaande verdeeldheid aktief oorbrug moet word om die gety van geweld om te draai.

Apartheid beteken tog letterlik om verwyderd van mekaar te wees, en daardie verwydering is ’n belangrike faktor wat geweld moontlik maak – ook deur die destydse wit staatsamptenary teenoor swart mense wat tot onderdane verminder is. Jy objektiveer ander makliker as jy nie kontak met hulle het nie. Ons besef natuurlik nou dat dit gelyke en vermenslikte kontak moet wees, iets wat ons demokrasie nog nie op alle vlakke bewerkstellig het nie.

In daardie tyd was die term “nasiebou” sterk in omloop. Nasionale simbole soos openbare vakansiedae en die herdenking van spesifieke geskiedkundige gebeurtenisse is een manier om ’n gedeelde nasionale identiteit te ontwikkel.

Op 16 Junie 1976 het hierdie twee jong mans buite die polisiestasie by Soweto gekniel met hul arms in die lug om die teken van vrede te gee. Foto: Jan Hamman

Versuikerde term?

21 Maart merk die oomblik toe die apartheidsregering hom uitdruklik tot geweld begin wend het om rasse-onderdrukking in stand te hou. Die 69 slagoffers het daardie dag in 1960 hul lewens verloor omdat hulle as swart mense durf waag het om die basiese burgerreg van vrye beweging te eis.

Die argument wat nou al meer opklink, is dat die dag nie as Menseregtedag moet bekend staan nie. Die naam verbloem die geweld van daardie dag. As Suid-Afrikaners moet ons nie val vir ’n versuikerde term wat die aandag aflei van wat gebeur het nie.

Eweneens moet 16 Junie nie Jeugdag heet nie. Dit was die dag waarop swart jong mense en kinders die stryd opgeneem het waarvoor hul platgeslane ouers nie meer die krag gehad het nie. Weer eens is die aksie met uiterse geweld van die staat teengestaan, net omdat hulle swart was. Dít is wat onthou moet word, en die naam van die dag moet dit weerspieël, is die argument.

Dit is veral oor 21 Maart en 16 Junie wat die argument gevoer word. Dit wys waarskynlik hoe patriargaal Suid-Afrika steeds is dat die herbevestigers van die struggle minder begaan oor Vrouedag op 9 Augustus is. Dit is ook ’n dag wat weliswaar dien as herinnering aan die strukturele geweld van apartheid – die pasboeke – maar die vroueoptog in 1956 het plaasgevind vóór die eksplisiet gewelddadige wending in apartheidstrategie, soos gedemonstreer deur die aanslag in Sharpeville.

“Die Stem” in die skrywer C.J. Langenhoven se eie handskrif.

“Die Stem”

Erfenisdag is ’n goeie idee, maar nie gekoppel aan ’n historiese gebeurtenis nie, wat die invloed van die dag verminder. Wat Versoeningsdag betref op 16 Desember sal die argument wees dat die herdenking van die dag geskrap moet word, want dit verwys histories na ’n dag van belang op die Afrikanernasionalistiese politieke kalender.

Dit sluit aan by die idee dat die volkslied slegs “Nkosi Sikelel’ iAfrika” moet wees, “gesuiwer” van “Die Stem”.

En ook omdat versoening deesdae ’n vloekwoord in sekere invloedryke politieke en intellektuele kringe is. Dieselfde geledere meen Mandela is ’n “sell-out”, en dis ook vanwaar standpunt ingeneem word teen gedeelde nasionale simbole. Want dit is waarop die oënskynlik minder ernstige bevraagtekening van die gedenkdae se name neerkom.

Dit sluit aan by die idee dat die volkslied slegs “Nkosi Sikelel’ iAfrika” moet wees, “gesuiwer” van “Die Stem”. Of dat die landsvlag te veel kleure het. Oor die volkslied word misgekyk dat die mooi psalm “Nkosi Sikelel’ iAfrika” in apartheidspropaganda as sinoniem met swart mag en dus as uiterse bedreiging en verwerplik voorgehou is. Die samevoeging met die setlaar-sentimente van “Die Stem” is vanuit daardie oogpunt radikaal.

Oor die landsvlag word nie opgemerk dat die simboliese Nederlands-koloniale oranje wat soveel Nasionale Party-baniere getooi het, nie ingesluit is nie. Deesdae vind ’n mens dié oranje net in die embleme van die VF-Plus, Solidariteit en AfriForum.

Christi van der Westhuizen Foto: Edrea du Toit

Versoeningsdag

Eweneens ontgaan die simboliese krag van die herbenoeming van 16 Desember na Versoeningsdag die kritici. Dié dag was sekerlik die belangrikste Afrikaner-nasionalistiese dag naas Stigtingsdag in die apartheidsera, wat Van Riebeeck se aankoms gevier het. Dié woord suggereer meer as net een party – in dié geval meer as net die Hollandse setlaars as die “oorwinnaars”.

Met die woord “versoening” word die ander party, die Zoeloes, in die prentjie ingebring. Teenoor mekaar staan hulle as gelyke teenstanders, maar met die doel om te versoen.

Die idee van versoening probeer dus ’n nuwe toekoms van gemeensaamheid projekteer. Ditto die oproepe wat uit Menseregtedag, Jeugdag en Vrouedag opklink. Dit is die aspirerende aspek, die moontlikheid daarvan om saam te werk ter wille van gelyke beregtiging en vermensliking van almal wat hier bly. Vir ’n land waarin jong mense en kinders geag word en waar vroue gelyke burgerskap met volle geassosieerde regte geniet. Dit is dié potensiaal wat die Grondwet ook verteenwoordig.

Die visie van die Grondwet, wat die openbare vakansiedae ook simboliseer, is téén gewaande suiwerheid – of dit nou op grond van ras, etnisiteit of politiek is. Dit is ’n visie teen eendersheid, die minagting van verskille, en die gepaardgaande afdwing van meelopery. Dit is ’n visie vir die gelyke menswaardigheid van almal. Gelees teen die agtergrond van hierdie land se geskiedenis, is dit ’n radikale visie.

*Prof. Van der Westhuizen is verbonde aan die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie (Canrad), Nelson Mandela-Universiteit.

*Die standpunte in hierdie rubriek weerspieël dié van die skrywer, nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.