Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet ’n mens nie net oordeel op sy gesig nie

Die beeld wat dikwels by my opkom in tye van introspeksie, is dié van Narcissus van die Griekse mitologie. ’n Siener het aan ’n moeder verklaar dat haar pragtige seun ’n lang lewe kan hê, solank hy homself nie herken nie. Toe, op ’n dag, drink hy water uit ’n poel, sien homself in die weerkaatsing en raak verlief op daardie beeld. Omdat hy nie die persoon in die weerkaatsing kon kry nie, lui die verhaal, wou hy nie verder leef nie en het hy homself om die lewe gebring.

Ek dink ook aan ’n onderhoud met Roger Moore, toe al ’n ou man, waarin hy telkens gepraat het van “if one has regular features”. Hy wou nie direk na homself verwys nie en ook nie woorde soos handsome of attractive gebruik nie. Wou hy nie windgat voorkom nie, of het hy regtig nie gedink hy is so wonderlik nie?

Ons wens natuurlik soms om aantrekliker te wees as wat ons is, maar hoe sien ons onsself regtig? En strook dit met hoe ander ons sien?

In die dae van Narcissus was daar min maniere om jouself te sien, maar vandag is dit ’n ander storie.

’n Paar jaar gelede, by ’n werksgeleentheid, het ek sowat drie ure regoor en langsaan mense in die topbestuur van ons maatskappy gesit en was nogal gespanne. Daar was ook ’n voormalige Mej. Suid-Afrika teenwoordig en nog etlike suksesvolle en talentvolle mense aan tafel. Nogtans het dit, wat my betref, heel gemoedelik afgeloop en in die proses het ek ’n paar kollegas beter leer ken. Of so glo ek.

Daarna het ek na ander foto’s gekyk en besef dat ek nogal dikwels verveeld of nors lyk.

Maar wat was hulle gewaarwordinge? Toe ek die organiseerder ’n paar dae later vir die geleentheid bedank, sê sy: “Dit het nie gelyk asof jy dit geniet het nie.” Ek was nogal in die bek geruk, maar toe stuur sy foto’s van die geleentheid aan. Op die foto waarop my gesig duidelik sigbaar is, lyk ek asof iemand my pas tussen die bene geskop het! En ek wonder baie keer hoekom sommige kollegas so kortaf met my is, ek het dan niks aan hulle gedoen nie . . .

Daarna het ek na ander foto’s gekyk en besef dat ek nogal dikwels verveeld of nors lyk. Eers ná sowat ’n halfeeu op hierdie planeet het ek besef dat mense my dalk baie anders beskou as wat ek myself sien en “sien”.

Ek weet darem dat diegene wat my lank ken, meestal gemaklik is met wie ek is, en dit is gerusstellend, maar ek besef ook dat eerste indrukke ongelukkig vir die meeste mense belangrik is. Ons maak aannames, ons veralgemeen en ons diskrimineer, en al te dikwels bloot op (ge)sigwaarde.

Vir iemand soos Moore moes die lewe makliker gewees het – altans op die oog af, want ons weet nie watter demone dalk aan hom geknaag het nie. Ons het net geweet wat ons kon sien. Die term normal resting face dui op hoe jou gesig (vir ander) lyk wanneer jy geen emosie wys nie. As jy dus voor ’n spieël gaan staan en nie frons of glimlag nie, kan jy sien wat ander sien.

Hoewel jy nooit kan weet wat hulle dínk oor wat hulle sien nie . . .

  • Verster is ’n skrywer en argivaris.
Meer oor:  Francois Verster  |  Gesigsuitdrukking  |  Gesig  |  Oordeel  |  Selfbeeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.