Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet net nie ’n gat in die kop gepraat word nie
Heinz Mödler

Wanneer jy ’n sprinkaan kan kou dat die eksoskelet so spat, is jy ’n kandidaat om aan Fear Factor deel te neem.

Maar eintlik is jy nog net ’n beginner. Vra die Brit Joey Mellen hoe om platinumstatus te behaal.

Die rede? Mellen het eiehandig ’n gat in sy skedel geboor. Maar wat sy “prestasie” nog meer indrukwekkend maak, is dat hy dit eers ná die derde probeerslag reggekry het. Aanhouer wen . . .

Voor die spieël het hy sy kopvel met ’n lokale verdowingsmiddel ingespuit. Terwyl die lokale narkose lekker ingetrek het, het hy sy chirurgiese instrumente gesteriliseer. Met ’n skalpel het hy eers ’n insnyding deur die kopvel gemaak en gesny tot op die been.

Daarna net hy sy handboor nadergetrek. Maar die tande van die boorpunt wou nie byt nie.

Mellen het toe besef hy sal eers ’n klein gaatjie in sy skedel moet kap vir die punt van die boorpunt om ’n vat te kan kry.

Met sy tweede probeerslag het hy sy klein gaatjie gemaak en die boor het gebyt. Ongelukkig was die boorpunt só stomp dat hy nie die skedel kon deurdring nie.

Die oomblik toe Mellen deur die skedelbeen boor, spuit daar ’n voorspelde straal bloed uit die gaatjie.

Ál genade was toe vir Mellen om geld te spaar en ’n elektriese boor te koop. Met sy nuwe elektriese boor het hy weer deur die hele ritueel gegaan en begin boor.

Hy was net ’n paar millimeter diep, toe breek die boor se krag­kabel. Mellen het toe verbande om sy kop gedraai en na die nutsman onder in die gebou gegaan om hom te help met die kabel.

Toe het hy weer probeer. Die oomblik toe Mellen deur die skedelbeen boor, spuit daar ’n voorspelde straal bloed uit die gaatjie – amper soos die alombekende Old Faithful-spuitbron in die Yellowstone Nasionale Park in Amerika, maar net bloed.

Mellen kon nie sy opgewondenheid beteuel nie en het die goeie nuus met sy meisie, Amanda Feilding, gedeel.

Sonder dat Mellen haar ’n gat in die kop gepraat het, het Feilding besluit sy gaan dit ook doen. En sy het. Terwyl Mellen die operasie as ’n dokumentêr verfilm . . . (Hy het ook ’n boek, Bore Hole, geskryf.)

Waarom? Hoekom?

Trepanasie (trepanation) is so oud soos die berge. Dit is nie ongewoon vir argeoloë om skedels met gate in op te grawe nie. Die presiese redes is onduidelik, maar waarskynlik om bose geeste te laat ontsnap.

Mellen het die idee vir die gat in sy skedel by sy vriend Bart Huges gekry. Huges was ’n Nederlandse mediese student en het geglo dat ’n gat in die skedel die bloedvloei na die brein sal verhoog. Veral na die areas wat vir ’n high verantwoordelik is. Anders as met dwelmmiddels wat ná ’n tyd uitwerk, is hierdie high permanent.

Mellen en Feilding beweer hulle het ná die chirurgiese ingreep ’n permanente high van ongeveer 30% van die intensiteit van die high wat LSD by hulle veroorsaak. En hulle kén LSD.

Behoort Mellen in ’n psigiatriese inrigting? Hy is geskool in Eton en het aan die Universiteit van Oxford studeer. Dom is hy nie. Maar hy is nie ’n konformis nie en het dit gedoen omdat hy geweier het om ’n vervelige en voorspelbare lewe te lei. Sowel Mellen as Feilding leef nog en geniet elke dag gate uit.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Brein  |  Bloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.