Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet nie die lente van jou lewe verspeel
Johan van Wyk

Die woord “afsterwe” het so uit die mode geraak dat ek nie eers kan onthou wanneer ek dit laas gehoor het nie.

Maar wie onthou nie nog Elize Cawood, as die bywonersdogter Pop le Roux, se mooi bene in die TV-weergawe van Johannes van Melle se aangrypende historiese drama Verspeelde lente nie? Haar dood het my daaraan herinner.

“Afsterwe” is hoe mense ’n geslag of twee gelede verwys het na ’n geliefde se “heengaan na ’n beter oord”, soos die ou dae se predikante treurende roubeklaers (nóg ’n woord wat verdwyn het) op droewige begrafnisse probeer troos het.

Ek hou van hierdie beskrywende woord. Om soos ’n verwelkte roos, omring deur vallende blare, die “tydige met die ewige”, soos die ou predikante ook graag gesê het, te “verwissel”, klink vir my nogal soort van “romanties”.

Nog te meer as dit kan gebeur in daardie unieke, eens godverlate, tot my bittere droefnis nie langer geheime stuk aarde nie, die Ceres-Karoo oftewel Tankwa-Karoo, waar Verspeelde lente in 1983 op die plaas, Elandsvlei, halfpad tussen Ceres en Calvinia, verfilm is.

Ek leef soos in ’n kamer waar die vensters teen ’n muur vaskyk en nou soek ek iemand wat vir my ’n venster, vensters, oopmaak na die wye veld.

Nêrens in Suid-Afrika sou die tragedie van verlore liefde, bittere swaarkry, armoede en die verbygaande genot van rykdom en mag beter uitgebeeld kon word as op sy meedoënlose, swart kaiingbulte nie. Met ’n jong Elize Cawood agter ’n ploegie in ’n dun rokkie, fladderend om haar mooi bene, wagtend om soos ’n ryp rooiwangperske gepluk te word.

Soos Uys Krige in sy inleiding tot Keur uit die verhale van J. van Melle, ’n Hollander van geboorte wat die menslike toestand in die tydperk waarin Verspeelde lente afspeel tot op die been in sy verhale oopvlek, een van die karakters aanhaal: “Ek leef soos in ’n kamer waar die vensters teen ’n muur vaskyk en nou soek ek iemand wat vir my ’n venster, vensters, oopmaak na die wye veld . . .”

Dis wat Jan Greyling, die ryk, bejaarde wewenaarsboer (wyle Brian O’Shaughnessy in die TV-reeks) op wie se genade Pop se ouers as bywoners ’n armsalige bestaan gevoer het, vir haar gedoen het – teen ’n duur prys.

Vir ’n getroude rykmanslewe saam met “oom Jan” (uit respekte vir die ouderdom en sy status) moes Pop haar ware liefde – die arm, buurmanbywoner, Hermaans Cronjé (Ian Roberts in die TV-reeks) – versaak.

Nie sonder wat waarskynlik die beste stukkie kwalik bedekte, maar in goeie smaak, katelhumor nog op Afrikaanse televisie was nie.

Die oggend aan die ontbyttafel toe oom Jan, vaal en futloos ná die eerste huweliksnag, nie eetlus gehad het nie en toe hy sy bord terugstoot, van sy jong bruid met ’n glinstering in die oog en ’n skalkse laggie moes hoor: “Jy moet eet, oom Jan, jy het jou kragte nodig!” Goeie raad vir ’n bejaarde bruidegom, sou ek dink.

Die boodskap is: Moenie die lente van jou lewe verspeel nie – en dink aan die dae van jou jonkheid voordat die dag aanbreek dat jy daarin nie meer behae sal hê nie.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Afsterwe  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.