SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
Moet nie hierdie monster voed
Heindrich Wyngaard

Dis nie ’n nuwe verskynsel nie, maar ek is nie bewus daarvan dat ’n gepaste term al daarvoor uitgedink is nie. Ons noem dit vir die doel van hierdie rubriek “politieke aandaghandelaars”, of sommer net “politieke aandagsoekers”.

Mits dit nie ’n té lomp vertaling is nie vir die “attention merchants” waaroor Tim Wu breedvoerig in The Attention Merchants – The Epic Scramble to Get Inside Our Heads skryf.

In’t kort kom dit daarop neer dat “insamelaars” of “plukkers” van menslike aandag dit in ruil vir vergoeding op massaskaal aan adverteerders van die hand sit, wat op hulle beurt weer staatmaak op goeie winste wanneer verbruikers die aas byt.

Hoe “aandaghandel” in die politiek manifesteer, is dat die politieke figuur in dié geval as “handelaar” normaalweg omstrede, opstokerige en soms gewoon onwaar uitsprake inspan om die aandag op hom of haar te vestig.

Dit is dieselfde kommoditeit wat ter sprake is – die aandag van ’n teikengroep. Maar anders as in die res van die “aandagbedryf” word dit nie aan ’n derde party verkoop nie. Die verlangde inkomste of winste is hier nie regstreeks finansieel van aard nie, maar steun vir die “produk”, hetsy ’n party of ’n individu.

Ons het die afgelope week voorbeelde hiervan in Amerika en plaaslik ervaar.

In Amerika was dit by wyse van die versoek (of eis?) deur pres. Donald Trump dat dié land se grootste nuuskanale ’n toespraak van hom in spitskyktyd uitsaai. Dié toespraak het hy gebruik om steun te probeer werf vir sy huidige “shutdown”-taktiek (of die “afskakeling” van federale regeringsfunksies) waardeur hy die Demokrate wil dwing om sy “immigrante-muur” op die grens met Mexiko te steun.

Dit is dieselfde kommoditeit wat ter sprake is – die aandag van ’n teikengroep.

Hier ter plaatse het Mzwanele Manyi die media en die publiek omtrent gespéél met sy aankondiging dat hy ’n aankondiging gaan maak oor sy nuwe politieke tuiste. Wat dit nuus gemaak het, weet nugter, maar hy het dekking verseker vir sowel sy voorafaankondiging as sy uiteindelike bekendmaking dat hy sy rug op die ANC keer om by die obskure African Transformation Movement (ATM) aan te sluit.

Noudat Manyi met sy twyfelagtige agtergrond as staatsamptenaar, Gupta-lakei en Zuma-dissipel die aandag van die media op hom gehad het, het hy as nuutgewerfde ATM-leiersfiguur die jaar 2018 onder ANC-bewind as “die mees teleurstellende jaar vir transformasie in Suid-Afrika” verklaar.

Dit was natuurlik ook die jaar waarin sy eie prominente rol in die staatska-pingskandaal behoorlik oopgevlek is.

Maar die ATM en Manyi kon beswaarlik op ’n beter nasionale bekendstelling vir sy nuwe politieke tuiste gehoop het. Hoe hulle die aandag op hulle gevestig gaan hou, is onduidelik, maar verdien hulle werklik (media)aandag gewoon op grond van Manyi se teenwoordigheid?

Hierdie selfde vraag geld ook ander “politieke aandagsoekers”, soos Andile Mngxitama van Black First Land First en Hlaudi Motsoeneng van die nuutgestigde African Content Movement.

Die ironie is natuurlik dat die stamboom van aandaghandelaars teruggevoer kan word, aldus Wu, na die 19de eeu toe die eerste koerante ten volle op advertensie-inkomste eerder as verkope vir hul oorlewing begin steun het.

Nou in die 21ste eeu, waar sosiale media kitsklaar aanlynkoerante geword het, is dit begryplik uitdagend vir die media om te besluit watter “nuus” aandag verdien en wat geïgnoreer kan of behoort te word. Onderweg na die 2019-verkiesing moet daarteen gewaak word om nie die politiek-aandagsoekende monsters te voed nie.

Wyngaard is ’n TV-aanbieder en kommentator oor landsake.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.