Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet nóóit vir JZ onderskat nie

Die ontplooiing van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma na die nasionale vergadering as LP kan vorentoe vir haar vernaamste teenstander vir die pos van ANC-leier, Cyril Ramaphosa, probleme skep.

Dit kan selfs die weg baan vir sterker optrede teen Ramaphosa, insluitend sy moontlike verwydering as adjunkpresident van die land.

Dit wys ook daar is nog sommer baie skop in pres. Jacob Zuma binne die ANC, nieteenstaande die onlangse muitery deur ’n aantal ANC-LP’s wat vír die mosie van wantroue teen hom gestem het.

Dit is nie vergesog om te wonder of Dlamini-Zuma se skuif nader aan die sentrum van mag nie bedoel is om Ramaphosa voor die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in Desember as adjunkpresident van die land uit die kussings te lig nie.

Daar is ’n presedent daarvoor. Zuma self is in 2005 deur oudpres. Thabo Mbeki weens vermeende korrupsie in die pad gesteek. Mbeki ontken nou dat hy Zuma afgedank het en sê die destydse adjunkpresident het uit eie wil bedank. ’n Geval van een mens se bedanking is ’n ander se afdanking?

As Zuma uit eie wil bedank het, waarom het hy dan, as ANC-leier, wraak geneem deur Mbeki se verwydering as staatshoof te orkestreer?

Van een ding kan ons maar seker wees: Zuma hou niks van die gedagte dat Ramaphosa hom as partyleier en staatshoof opvolg nie. Hy is gemakliker daarmee dat dié posisies na sy eksvrou, Dlamini-Zuma, gaan.

Verlede week het Ramaphosa ietwat van ’n terugslag beleef met onthullings oor ’n aantal beweerde buite-egtelike verhoudings. Hy het één erken. Daar kan maar aanvaar word dat dié onthullings nie toevallig was nie, net soos wat Dlamini-Zuma se ontplooiing na die parlement ook nie toevallig is nie.

Zuma, ’n kranige skaakspeler, is ’n meester van politieke intrige en onderduimsheid.

Zuma, ’n kranige skaakspeler, is ’n meester van politieke intrige en onderduimsheid. Hy het nou al male sonder tal bewys hy is ’n meester van politieke oorlewing en dat hy nooit onderskat moet word nie.

Suid-Afrika moet hom in die aanloop tot Desember voorberei op dieselfde hoë politieke drama van 2005 toe Mbeki Zuma as adjunkpresident afgedank het, 2007 toe Zuma vir Mbeki verslaan en ANC-leier geword het, en 2008 toe Zuma dit bewimpel het dat die ANC Mbeki as staatshoof herroep.

Dit is moeilik om te sien hoe Rama­phosa sulke moontlike stappe teen hom kan vryspring. Een manier is om sy verhouding met Zuma te probeer herstel en inkoop by voorstelle van ’n verenigde kandidatuur in Desember.

Maar dit kan dalk beteken hy moet persoonlike ondernemings gee, wat kan vereis dat hy sy integriteit moet inboet.

Indien Ramaphosa uit sy amp verwyder word, maar sy naam in die opvolgstryd hou, sal dit beslis tot die langverwagte – en hierdie keer – behoorlike skeuring in die ANC lei.

Zuma het reeds bewys hy is bereid om tot uiterstes te gaan om sy doel te bereik. Hy het in sy tyd as staatshoof en ANC-leier byna die land se ekonomie vernietig. Om Ramaphosa se ambisie te vernietig, is vir hom kleingeld.

Dit lyk of Zuma nog die steun het van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK). Dit is die liggaam wat oor die verwydering van Ramaphosa as adjunkpresident sal moet besluit.

Of die NUK die aptyt sal hê vir soortgelyke dramas as in 2005 en 2008 is natuurlik nie ’n uitgemaakte saak nie, veral nie met ’n onsekere verkiesing in 2019 net om die draai nie.

Maar dan weer, mense sê nie verniet politiek is die kuns van wat moontlik is nie. En met Zuma op die toneel as ’n aggressiewe protagonis, is enigiets moontlik.

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Jacob Zuma  |  Rubrieke  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.