Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet SA hom voorberei op Zuma II?

Wat as die Jacob Zuma-faksie die oorhand binne die ANC kry? vra Danny Titus.

Is daar ’n kans dat die Zuma-faksie die oorhand binne die ANC gaan kry? Foto: Foto24

Jy moet jou oë styf toeknyp om terug te dink hoe onmoontlik die getuienis voor die Zondo-kommissie en die Nugent-kommissie ’n paar maande gelede nog was.

Die Zuma-era van wanbestuur, korrupsie en staatskaping is gewoon ongebreideld toegelaat. Die ANC as party het telkemale tot sy verdediging gekom. Die voormalige Nommer Een het mosies van wantroue in die parlement oorleef. Ons moes hoor hoe hy die land in ’n knelgreep gehad het. Hoe hy glo as voormalige MK-intelligensiehoof inligting oor talle hooggeplaastes gehad het – soveel so dat niemand dit sou waag om teen hom op te staan nie.

Of die kommissies die skurke agter die tralies gaan kry, is natuurlik ’n totaal ander vraag.

En toe word hy uitgestem en die veranderinge kom. Die getuienis teen hom en sy handlangers word nou onder eed voor kommissies uiteengesit – onbeskaamd, reguit, die hele waarheid en niks behalwe die waarheid nie.

Die Zuma-regspan het aanvanklik laat weet daar is niks in die getuienis wat hulle laat skrik nie en dat hulle glad nie die getuies sal wil kruisondervra nie.

Dis nie duidelik of hulle hiermee gaan volhou nie, want die regspanne van Duduzane Zuma en die Gupta-broers het laat weet dat hulle wél wil kruisondervra. Of die kommissies die skurke agter die tralies gaan kry, is natuurlik ’n totaal ander vraag.

Adjunkhoofregter Ramond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie na staatskaping. Foto: Foto24

‘Jy verstaan nie die bankwese nie

Die wetstoepassingsagentskappe lyk maar effentjies. Dit is natuurlik ’n ander vraag of ons wetstoepassers die getuienis uit die kommissies na behore kan opvolg om die skurke suksesvol te kan vervolg.

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Michael Masutha, het verlede maand ’n landwye ondersoek na aantygings van korrupsie in die kantoor van die staatsprokureur aangekondig.

Die aantygings laat jou hoendervel kry. Dit is die mense wat die reg namens die staat moet nastreef. Die Valke wil ook die getuies kruisondervra oor getuienis dat hy ernstig voete gesleep het.

Dan wil ’n mens ook weet of die nasionale vervolgingsgesag, wat ons staatsadvokate huisves, opgewasse is om hierdie hoogs tegniese litigasie te kan hanteer. Ons het reeds in die Estina-suiwelsaak gesien hoe Atul Gupta en vier van sy maatskappye die nasionale direkteur van vervolging hof toe gevat het nadat die Guptas se bates bevries is. Daar is bevind dat die NVG die regskostes van die Guptas moet betaal.

Dit was so ampertjies of die saak was van die rol geskrap. Die indruk van die hof was dat daar geen momentum was in dié ondersoek wat ’n mens in ’n saak soos hierdie sou verwag nie.

Die Guptas se advokaat se kommentaar maak ’n mens ook ongemaklik. Die uitspraak kom daarop neer dat die hof aan die NVG sê: “Jy praat nonsens. Jy verstaan nie die vloei van geld nie. Jy verstaan nie die bankwese nie.”

Danny TitusFoto: Lerato Maduna

Wat as Cyril nie wen nie?

Nou ja, die saak word later vanjaar aangehoor. Verstaan die NVG die vloei van geld? Verstaan hulle die bankwese? Dit laat ’n mens met die tergende ongemak dat die staatskaping dalk wél suksesvol deurgevoer is. En dat die onus op ons wetstoepassingsagentskappe rus om te bewys dat die getuienis van mense soos Mcebisi Jonas, Vytjie Mentor, Temba Maseko en talle ander met respek hanteer gaan word.

Iemand het onlangs gesê kom ons werk vanuit die veronderstelling dat pres. Cyril Ramaphosa nie gaan wen in volgende jaar se verkiesing nie. Dat die Jacob Zuma-faksie die oorhand binne die ANC gaan kry.

Aan die ander kant mag dit gewoon die realiteit vir Suid-Afrika wees. Zuma kom terug.

Zuma het nou die wêreld se tyd om hom hierop toe te spits. Die beskuldigdes in die korrupsie-klagtes skop vas en hulle veg terug, en hulle het blykbaar nie ’n tekort aan geld nie. Jy sou dit kon sien as deel van die negatiewe scenario vir Suid-Afrika waarop ons ons moet voorberei.

Aan die ander kant mag dit gewoon die realiteit vir Suid-Afrika wees. Zuma kom terug. Markus Jooste gaan die Zuma-strategie van Stalingrad volg en wye draaie rondom ons owerhede dans.

Die vraag bly steeds: Is ons vervolgingsowerhede vir hierdie uitdaging gerat? Dis ’n hoogs tegniese en hoogs kundige spel.

Ek hoor onlangs ’n kommentator praat van die wiele van die gereg wat sal draai. Ek het my bedenkinge. Suid-Afrika het ’n teksboek voorbeeld geword van hoe om (ten spyte van ’n lang bevrydingstryd, ’n geloofwaardige, onderhandelde Grondwet, fundamentele menseregte en ’n wêreldleier soos Nelson Mandela) ’n samelewing deurtrek van korrupsie en misdadigheid te word. Ons sal pres. Ramaphosa op koers moet hou. Ons sal hom sterk moet hou.

*Dr. Titus is die uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede by die ATKV.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Danny Titus  |  Nugent-Kommissie  |  Zondo-Kommissie  |  Estina
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.