Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mogoeng se gebed laat die hoop opvlam
Isak Burger

Die gebeure verlede Donderdagoggend in die parlement toe die lede van die nuwe parlement deur hoofregter Mogoeng Mogoeng bevestig is, verdien vermelding.

Die agbare hoofregter het direk ná die sing van die nasionale lied die hele parlement versoek om drie minute lank stil te bid of te mediteer.

’n Paar dinge staan vir my uit. Dit is geen geheim dat die hoofregter ’n toegewyde Christen is nie. Hy het die geleentheid met groot sensitiwiteit, waardigheid en opregtheid hanteer. Wel wetende dat dit nie ’n Christelike parlement is en ons Grondwet nie op die Bybel gegrond is nie, het hy niemand ongemaklik of ontuis laat voel nie. Daar was ruimte vir navolgers van verskillende godsdienste om hul eie gebede te doen en selfs vir niegelowiges om vir drie minute te mediteer en na te dink oor die land se uitdagings en probleme.

’n Paar dinge staan vir my uit. Dit is geen geheim dat die hoofregter ’n toegewyde Christen is nie.

Mogoeng het ondubbelsinnig verwys na die krisisse wat die land, die president en die parlement in die gesig staar. Hyself het op sy knieë gegaan en sag maar duidelik hoorbaar sy hart voor die Here uit­gestort en dit ondubbelsinnig gedoen in die naam wat vir elke ware Christen die belangrikste is – Jesus Christus.

Dit was ’n aangrypende en unieke gebeurtenis wat die optrede en rol van Josef in die Farao se paleis en Daniël in sy hoë pos in Babel in herinnering geroep het. Die hoofregter doen sy werk soos Da­niël en Josef met uitnemendheid. Sy integriteit en werksetiek spreek onomwonde en duidelik.

Die feit dat hierdie hoë ampsdraer te midde van die hoogste gesag in ons land op sy knieë sak om sy, die parlement en ons land se afhanklikheid en nood voor die Allerhoogste te bely, is merkwaardig. Om Jesus se beeldspraak te gebruik – hy was waarlik “sout” en “lig”.

I want to thank you, Chief Justice, for doing an unprecedented act of going on your knees and praying for our nation.

Ja, daar was parlementslede wat oënskynlik hierdeur onkant betrap is en onseker rond­gekyk het, maar talle was opsigtelik daardeur geraak en het saamgebid.

Cyril Ramaphosa – wat sélf in sy studentejare ’n jeugleier van die Christen-studentevereniging aan die Universiteit van die Noorde was, se woorde daarna was veelseggend: “I want to thank you, Chief Justice, for doing an unprecedented act of going on your knees and praying for our nation. I wish it was broadcast so that everyone in the land could hear what prayer the Chief Justice was offering.”

Terwyl die regerende party nie die keuse van vele in Suid-Afrika was nie, is die nuwe regering demokraties en wettig saamgestel. Baie is (met goeie rede) steeds skepties oor die ANC se vermoë om homself te suiwer en te hervorm.

Gelowiges kan egter nie die Bybelse opdrag ontkom om vir die owerheid en diegene in hooggeplaaste posisies te bid nie – veral vir die president.

Daar is tog rede om moed te skep.

Meer oor:  Mogoeng Mogoeng  |  Isak Burger  |  Parlementslede  |  Gebed  |  Inhuldiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.