Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Molefe drup van die Zuma-sous

Pres. Jacob Zuma ly aan veelvoudige politieke sklerose. Polities ongeneesbaar en geprogrammeer om nie net die ANC te verwoes nie, maar ook Suid-Afrika.

Zuma se aanwysers wys suidwaarts. Hy het uitmekaar geval, as mens én as president. Hy maak eenvoudig nie meer sin nie, nie vir sy eie mense nie en ook nie vir Suid-Afrika nie.

Zuma is immers deesdae soos wat Winston Churchill van Rusland gesê het: “It is a riddle, wrapped in a mys­tery, inside an enigma.” Die arme man.

Hierdie sotterny van Zuma om een van sy imbongis, Brian Molefe, na aan sy boesem te wil hê in die parlement, is ’n absolute bewys van ’n leier wat die toets van demokrasie gedruip het.

Die Valke se deklarasie gister dat hulle Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, ondersoek weens beweerde verdagte transaksies by die SAL, is ’n aanduiding dat Zuma bloed teen die mure soek.

Dalk weet Jonas dit, maar hy moet hom maar klaarmaak vir nog nare smeersels uit die Zuma-kamp.

Molefe is dik gemarineer in die ­Zuma-sous en sou Molefe soos gerugte dit wil hê binnekort in ’n kabinetspos aangestel word, is dit veilig om te sê dat een van Molefe se prestasieareas sal wees om staatskontrakte te kanaliseer na die sakke en bankrekeninge van ’n klein rasgedefinieerde ­elite, verkieslik met politieke konneksies.

Die ANC se wegspringpsalm – ’n beter lewe vir almal – lewer 23 jaar later die perverse uitkoms van ’n beter lewe vir sommige. Hoe beter jou konneksies, hoe beter jou lewe.

’n Mens wonder hoeveel SEB-miljoenêrs loop vandag in Sandton rond danksy húl slaafse lojaliteit aan Zuma.

Dis wat Molefe gedoen het toe hy hoof van Eskom was deur na die Gupta-broers se pype te dans en toe uitgevang is deur adv. Thuli Madonsela, vorige openbare beskermer. Hy het die Gupta-koffers met staatsgeld gevul.

’n Betraande en beteuterde Molefe het sy naam met ’n plank geslaan deur as verskoning aan te voer dat hy gereeld by ’n sjebien in Saxonwold gaan kuier het. Hoe gerieflik, want dis waar die Guptas woon. Siniese politieke kommentators sê dis eintlik waar die regte Uniegebou is, want die Guptas blaf vandaar bevele aan die Zuma-kabinet.

Zuma was en kon nog nooit as ’n onberispelike president beskou word nie. Hy en sy kohorte is soos die tipiese vuiluil-rugbyspeler wat nie sal omgee om nekke te breek net om die wedstryd te wen nie.

Dink julle Zuma gaan ’n flenter omgee as hy Jonas afdank en ’n paar kabinetsministers gaan uit solidariteit met Jonas bedank? Nee, hy gaan hulle vervang met van die Brian Molefe-soort.

Tim du Plessis, een van my oudredakteurs, het op ’n keer geskryf dat die ANC eens ’n ratse, lenige politieke beweging was, maar ná meer as twee dekades van bewind is dié politieke jagluiperd weg en vervang deur ’n logge olifantbul wat skynbaar dink hy hoef sy doen en late aan niemand te verduidelik nie.

Die Zuma-faksie het nog nie sy crescendo bereik nie. Zuma het weliswaar al die politieke assegaaie geslyp, maar moet dit nog in sy teenstanders se rûe plant. Hy het ook nie ’n tekort aan assegaaigooiers nie. Kyk maar na daai arme drommels in die ANC-voorbanke wat bly sit het toe Pravin Gordhan ná sy begrotingsrede staande applous gekry het, maar die Zuma-voetevallers in hul bedompige klein wêreldjie gesit en anderpad gekyk het.

Die Zumaïete is duidelik nog lus vir die Groot Baklei. Hoor jy dit, Cyril?

Meer oor:  Molefe  |  Zuma  |  Johann Maarman  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.