Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mondli Makhanya: Die ANC mors ons tyd!

Waarom aanhou om ou vrae oor en oor te probeer beantwoord, vra Mondli Makhanya.

Pres. Jacob Zuma is al een wat dink die ANC se visie vir die toekoms is iets om oor te glimlag. Foto: deaan vivier

In 2014 het Dai Wei, ’n doktorale student aan die Universiteit van Beijing, en ’n paar van sy klasmaats besluit om ’n eksperiment op ’n baie praktiese manier uit te voer. Hul projekkie het ’n sakeonderneming van miljarde dollar geword.

Dai wou eenvoudig kapitaliseer op die behoefte van studente wat lang afstande tussen lesinglokale en hul koshuise moes loop. Selfs dié wat ryk genoeg was om fietse te koop, het verkies om te loop, want hul fietse is net te gereeld gesteel.

Dai het die idee van gedeelde fietsritte ontwikkel, geskoei op die Uber-model. Eerder as om fietse by ’n loods toe te sluit, stel ’n app jou in staat om gratis ritte te gebruik en gedeelde fietse oop te sluit deur jou slimfoon te gebruik.

Só is Ofo gebore, ’n fietsdeelmaatskappy wat dit skielik verspot maklik gemaak het om van die een na die ander kant van die kampus te ry.

Ofo het vinnig na ander kampusse versprei. Toe na die res van die stad. Toe na ander stede. Vinnig het ander ontwikkelaars Ofo se model nageaap en op Ofo se tegnologie verbeter.

Die ANC se debat oor monopoliekapitaal het gevoel soos Groundhog Day, waarin ’n karakter dieselfde dag oor en oor en oor ervaar.

Min of meer dieselfde tyd het die entrepreneur Hu Weiwei begin saamspan met Davis Wang, ’n voormalige baas van Uber in Shanghai, om ’n soortgelyke model te ontwikkel. Toe vat fietsdeel behoorlik in China vlam. ’n Middelklas wat verlief geraak het op motors en hul fietse op die ­ashoop wou gooi, het skielik weer begin dink fietse is cool.

Dié Chinese ouens het ’n sakemodel vir die deel van fietse – een wat in die Weste bestaan het, maar gesukkel het om regtig aan die gang te kom – heeltemal op sy kop gekeer. Vandag is 13 van die 15 voorste fietsdeelmaatskappye ter wêreld van China. Net soos Uber die wêreld met sy kardeelskema verower het, het die Chinese nou van fietsdeel ’n reusebedryf gemaak.

Dit is maar net een voorbeeld van hoe vernuwing en vernuf in die res van die wêreld van krag tot krag gaan terwyl ons in Suid-Afrika debatteer oor of monopoliekapitaal die vernaamste vyand is van die Nasionale Demokratiese Revolusie en of dit dalk ’n velkleur het.

Ek was onlangs in China, ’n land waarheen ANC-alliansieleiers vreeslik graag reis op “feitesendings”. En ek is moedeloos oor hoe ses dae gemors kon word deur die sogenaamde leiers in ons samelewing.

As jy vir ’n oomblik die blatant outoritêre aard vergeet van die Chinese regering wat ons leiers so bewonder, dan is hul helderheid van visie en hul gewilligheid om dit te implementeer beslis iets om na te volg.

Die Chinese Kommunistiese Party (CKP) mag dalk bestaan uit die ideologies suiwerste en teoreties skerpste Marxiste, maar hulle vermors nie kosbare tyd om soos hoërskoolredenaars te redekawel nie.

Terwyl hulle die konseptuele kwessies geweldig ernstig opneem, gee hulle hulself nie oor aan ’n doellose gekorswel oor wat dooie teoretici dalk oor vandag se wêreld sou sê nie. Hulle genereer nuwe idees om hul mense uit armoede te lig, die samelewing te laat vooruitbeweeg en op die wêreldverhoog mee te ding.

Die CKP en die Kommunistiese Party van Viëtnam – die ander party wat so bewonder word deur die ANC en sy bondgenote – het verby die teorieë begin beweeg oor in watter fase van die revolusie ons land tans verkeer, en wat die verhouding tussen staat en kapitaal mag wees.

Húl fokus is op die skep van ’n welvarende samelewing, iets wat hulle regkry deur die entrepreneurspotensiaal van hul mense vrye teuels te gee.

Hulle maak planne vir die middeltermyn wat hulle nougeset implementeer, en betrek die private sektor as ’n sentrale rolspeler. Vandag sit hul kapitaliste, wat deur die partyleierskap as “kamerade” omhels word, gemaklik by die hooftafel saam met mense soos Bill Gates en Richard Branson.

Die ANC se debat oor monopoliekapitaal het gevoel soos die fliek Groundhog Day, waarin ’n karakter dieselfde dag oor en oor en oor ervaar. Hierdie vraag is tog al beantwoord in die ANC se 2007-dokumente oor strategie en taktiek.

“Die verhouding tussen die nasionale demokratiese staat en private kapitaal in die algemeen is een van ‘eenheid in stryd’, samewerking asook mededinging,” het die ANC tien jaar gelede gesê.

“Enersyds moet die demokratiese staat die omgewing skep vir private beleggings waarin die beleggers redelike opbrengste kan verdien, en waaruit werkskepping en tegnologiese vooruitgang kan voortvloei. Andersyds, deur staatsbeheerde ondernemings, doeltreffende regulasies, belasting en ander middele, streef die staat daarna om inkomste te herverdeel en beleggings te kanaliseer na gebiede wat nasionale ontwikkeling sal bevorder, ’n sentrale rol speel in die lewering van openbare dienste en breedweg maatskaplike aanspreeklikheid skep.”

Sedertdien het die regering, op aandrang van die ANC, die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) geskep. Die NBK het die Suid-Afrikaanse samelewing en al sy uitdagings gediagnoseer, en later die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) saamgestel, ’n visie van waar Suid-Afrika teen 2030 behoort te wees, en hoe ons moet seker maak dat ons ons doelwitte behaal.

Die plan is deur die kabinet bekragtig en omarm deur die meeste lede van die samelewing, al het die arbeidsektor bepaalde voorbehoude uitgespreek.

By die Mangaung-konferensie in 2012 het die ANC die NOP as sy beleid aanvaar. Toe word dit toegesluit in ’n kluis en slegs te voorskyn gebring wanneer ’n blomryke toespraak gelewer moet word.

Die NOP se visie het bra min aandag gekry by diegene wat die voorlopige beleidsdokumente opgestel het in die aanloop tot die afgelope week se ANC-konferensie.

Dit was eenvoudig nie op die radar van die meeste afgevaardigdes nie, wat eerder gekom het om Kersfees-wenslysies op te stel vir Kersvader, en strategieë te bedink hoe om die ekonomie verder die grond in te bestuur.

Die 2017-beleidskonferensie sal onthou word as ’n verspeelde kans.

Dit sal onthou word as ’n week waarin 4 000 landsburgers wat veronderstel is om die land rigting te gee, ’n blaaskans gevat het van hul produktiewe lewens en hul gesinne en hul gemeenskappe sodat hulle ’n miljard ­kubieke meter warm lug kon genereer.

Hul moes liewer tuisgebly het om morabaraba te speel.

  • Mondli Makhanya is redakteur van City Press.
Meer oor:  Mondli Makhanya  |  Anc-Konferensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.