Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mondli Makhanya: Nou speel koning Zwelithini met vuur

Koning Goodwill Zwelithini het Woensdag ’n “imbizo van die Zoeloevolk” in Ulundi gehou – ’n magsvertoon teenoor die regering, die ANC en politieke partye. Hy wou weerstand mobiliseer teen voorstelle dat die Wet op die Ingonyama-Trust gewysig word sodat dit nie inbreuk maak op die regte van diegene wat op dié grond woon nie.

Die Ingonyama-Trust – wat gebore is uit ’n korrupte pakt tussen die Nasionale Party en sy surrogaat, die Inkatha- Vryheidsparty (IVP), toe apartheid sterwend was – ontneem Suid-Afrikaners van regte wat alle ander burgers van die republiek geniet.

Die ware begunstigdes van dié pakt was korrupte tradisionele leiers, die kliek wat die trust bestuur, invloedryke sakelui wat uit mineraleregte op die grond baat probeer vind, en natuurlik die Grote Koning Zwelithini self.

Dat die koning nou die vure van Zoeloenasionalisme stook in ’n siniese poging om relevant te wees en nóg mag in te palm, moet ons bekommer.

Net soos die iesegrimmige hoofman van Mahlabathini (Mangosuthu Buthelezi) en Duduzane Zuma se immorele pa, tap Zwelithini uit ’n bron van nasionalistiese trots wat ongelukkig nog deur sommiges se are in KwaZulu-Natal bruis.

Die opruiende imbizo is boonop gehou presies 139 jaar nadat die Britte die hoofstad van koning Cetshwayo se koninkryk vernietig het – ’n pynlike oomblik in Zoeloegeskiedenis. Maar dié dag is nooit juis prominensie gegee in Zoeloevieringe tot die arbitrêre syfer 139 aangebreek het nie.

Simbolies – en hiperbolies – staan Zoeloes volgens Zwelithini nou, soos in 1879, op die rand van ’n katastrofe. Maar dié keer is die vyand nie Britse soldate nie, maar demokrate gewapen met die Grondwet.

Aartsbooswigte is al dikwels afgemaak as “mal” totdat hulle genoeg mense kon oortuig om verwoesting te saai.

En Zwelithini, wat gepamperlang word teen ’n koste van R66 miljoen per jaar deur die Suid-Afrikaanse staat wat hom kwansuis so haat, is ’n hedendaagse dapper Cetshwayo.

Woensdag se toesprake het dit laat klink of die Grondwet en demokrasie die ergste ding is wat ooit met die goeie mense van dié land gebeur het.

Onder die kroeks en versteurdes wat die demokratiese orde verwerp het, was Carl Niehaus, wat al hoe meer lyk soos een van daai AWB-kommandolede wat die Bophuthatswana-oproep van 1993 oorleef het.

Dit sou snaaks gewees het as dit nie potensieel dodelik was nie.

Een ou het gesê Zoeloe is die grootste taal in Afrika naas Swahili, daarom behoort die Zoeloekoning eintlik in 2019 oor te neem as staatshoof.

Nog een het gesê dat alle grond in KwaZulu-Natal – van Ingwavuma tot by Port Shepstone – oorhandig moet word aan die koning.

Hy het toe sy steun betuig aan begrafnisondernemers wat ander rasse uit townships skop, omdat “net Zoeloes Zoeloes moet begrawe”.

Ons is vertel die Zoeloekoning is God se gesant op aarde. As hy sê dit moet

reën, pak die wolke saam.

Daar was selfs sprake van afstigting.

Dis mal, ja. Maar aartsbooswigte is al dikwels afgemaak as “mal” totdat hulle genoeg mense kon oortuig om verwoesting te saai.

In Ulundi is by implikasie gewaarsku: “Moet ons nie te ver druk nie,” al het die sprekers “vrede” gepredik. Die boodskap was dat die Zoeloekoning en Zoeloevolk verdedig moet word soos op daardie dag in 1879. Die Zoeloes het die 1994-skikking vertrou. Nou sien hulle hulle is mislei.

Moet ons nie uitlok nie. Moet ons nie uitlok nie. Moet ons nie uitlok nie.

Die iesegrimmige hoofman het beklemtoon dat sy neef, wat al 46 jaar regeer, nog nie een keer sy troepe opgeroep het tot oorlog nie. Innig dankbaar is ons teenoor Sy Majesteit.

Almal weet eintlik wat die hoofman bedoel wanneer hy sy eie vredeliewendheid predik.

Toe kom die gekste toespraak van almal. Koning Zwelithini s’n was ’n slagoffersmonoloog. “Hulle het ons nog nooit liefgehad nie?”; “Sê ons of die Zoeloes nog nodig is in hierdie land?”; “Pla ons gebruike julle?”, het hy geteem. “Wat het ons dan gedoen?”

Nou gaan hy sy onderdane – van taxibestuurders tot tradisionele leiers – landwyd vra om op te staan vir die Zoeloekoninkryk. “Dit is die dag waarop die Zoeloes hul mag terugvat.”

Daarmee het Zwelithini – wat nie glo sy posisie is ondergeskik aan dié van ’n verkose president en dat sy sake deur die wetgewer gereguleer behoort te word nie, wat glo dat direksielede van die Ingonyama-Trust nie ondervra mag word deur LP’s nie en dat hy te min staatsgeld kry – ’n waarskuwing gerig aan die grondwetlike bestel, wat hy nie erken nie. Hy wil ’n ander rigting inslaan, hy en die mense wat hy as sy onderdane beskou.

Hoe sal die demokratiese orde hierop reageer?

* Makhanya is redakteur van City Press.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.