Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mooi ysters, koel boere wys lyf op Nampo
Charles Smith

“Ek is op ge-Nampo..”

’n Jong boer klouter stywebeen uit die stuurkajuit van ’n massiewe trekker en skud sy kop met ’n verleë trek om die kiewe as sy pêl vra hoe sake staan op hierdie koelerige dag op die grootste buitelugskou ter wêreld.

Daai trek om die mond, die rooi oë en die stwye litte is nie van trekkerry nie. Want met dié Deutz-Fahr met sy lugverkoelde kajuit kan jy sommer Spur toe ry in Bothaville as jy wil. Dis ’n luukse ryding, man.

Daai “ge-Nampo” beteken maar net ’n hele dag in die son om 20km te stap om in die 700 plus stalletjies die nuutste landboutegnologie ter wêreld te sien. En ja, om de aand ’n bietjie die boere in Suid-Afrika se prestasie te vier.

Ek as klein veeboertjie van die Suid-Vrystaat verstaan sy babelaas terdeë. Ons gelapte Massey Ferguson wat uit verskeie krôks aanmekaar gesit is, sal sulke ou swart dieselhoese deur sy lekkende ribbekas gee as hy dié trekkers op Nampo moet sien. Daai John Deere met die rusperbande kos dan ’n yslike R8 miljoen! Dit is meer as die meeste plase in die Vrystaat wat nog g’ mielie gesien het nie.

Daar neem ek ’n selfie voor ’n pikswart trekker met sulke blink kopligte. ’n Valtra. Nog nooit van dié trekkers gehoor nie, maar maggies, hy’s mooi. Dis ’n koel yster.

Ek bewonder hom eerder voor ek die Britse Jaguars bekwyl en bevoel soos die meisies met die duur sonbrille.

Ek bewonder hom eerder voor ek die Britse Jaguars bekwyl en bevoel soos die meisies met die duur sonbrille. Dis te windgat. En ja, dis ook oor ek ’n republikein is en suur is oor die volk natuurlik die naweek die rooikop Britse prins se troue gaan opslurp.

Ek gaan sorg dat ek met my ge-Nampo-de lyf iewers in die bosse verkas. En ons boere se prestasies oordink. Want hierdie miljarde rand se ysters op Nampo word seker deur net 15% van die minder as 30 000 kommersiële boere in die land gekoop. Dis die ouens wat sorg vir die meeste mielies, sonneblom, sojabone en koring wat ons aan die lewe hou. Al probeer die ANC hulle sink.

Ek gaan skud gou blad met ’n paar ander kampioene: Splinter, die kampioen-boerbokram van die Karsten-boerdery van die Noord-Kaap; Meester, die Vrytstaatse merinoram van die jaar van die Mooihoek-merino’s van Smithfield; en my gunsteling, Donkerhoek Bush Walker, die Tuli-bul van Ben Raath van Britstown, wat as die nasionale Elite-kampioen in die groeifase-kampioenskap op die Bloemskou gekroon is. Alle die beesrasse het hieraan deelgeneem.

By die boerepatente-kompetisie is daar ’n briljante kontrêpsie vir die boere wat sit-sit boer. Dis die Bakgat-siplekke wat jy op die bakkie se agterklap sit - kompleet met plek vir ’n sambreel en ’n staander vir ’n bottel brannas in die middel. Een blinkstefaans van Sandton wil dit sommer in sy Ferrari se bak inbou.

By Nampo is hier baie fênsie ysters, blink planne, baie mense en veral gróót idees. Klink maar ’n beker boeretroos of iets sterkers op ons boere, Dié ouens mág maar boer.

Meer oor:  Nampo  |  Menings  |  Trekkers  |  Boere  |  Landbou  |  Skou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.