Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mooie Kaap is duidelik NDZ se swartskapie
Emile Joubert
Emile Joubert

Wees nou maar eerlik en kry die ampsdraers om te erken dat hul korona-histerie aangedryf word deur die een of ander haat vir die Kaap. As dit só aangaan, verbied min. Nkosazana Dlamini-Zuma en haar bevelsraad die speel van die Curriebeker-eindstryd, sou die WP tot die eindronde deurdring.

Eers was dit die verbod op drank wat my ingeboude anti-Kaapse verklikkers aan die tol laat gaan het. Met hierdie onwettig-maak van alkohol, word ’n bedryf wat sedert 1659 ’n leidende rol in die kultuur, ekonomie en samesyn van die Wes-Kaap gespeel het – naamlik die wynbedryf – op sy knieë gebring. Geen ander van die land se landboubedrywe is só gestraf nie, en geen ander landbousektor is so beperk tot die Wes-Kaap as die wynbedryf nie. Toeval?

En nou vir die jongste teiken waarmee Dlamini-Zuma ’n beheptheid ontwikkel het: strande. Soos in stroke sand naby die groot, wye en vrye see. Ja, Suid-Afrika se kuslyn beslaan 2 800 km, maar selfs diegene wat die nagemaakte golwe by Sun City as hul guns­telingstrand beskou, moet erken dat die kus rondom Kaapstad die bekendste strandgebiede in die land is.

Maar nou, in die oog van die storm van ’n nasionale krisis, word strande gelys as ongesonde, gevaarlike en ontoelaatbare plekke.

Maar nou, in die oog van die storm van ’n nasionale krisis, word strande gelys as ongesonde, gevaarlike en ontoelaatbare plekke. As jy nie deur ’n bloublasie gesteek, ’n haai opgevreet of deur ’n los strandtennisbal agter die kop gepot word nie, is ’n strand glo die ideale plek vir die koronavirus om mense se lugweë te betree met die aggressie van ’n verhongerde seemeeu.

Synde iemand wat sy hele lewe lank op die Kaapse strande kerjakker, erken ek ’n flagrante onvermoë om die regering se strandverbod sonder vooroordeel te analiseer. Maar werklik, ’n mens hoef nie ’n graad in virologie of Chinese mediese eksperimentering te hê om te weet dat ’n stuk sand langs die Kaapse see een van die laaste plekke is waar Covid-19 kan versprei nie.

Eerstens is daar die Kaap se eie dokter, naamlik die suidoostewind wat, terloops, besonder geesdriftig waai vanjaar. Die minister is welkom om self te kom kyk. Maar as die suidoostewind gewaarborg is om ’n kopdoek af te pluk en dit van Kampsbaai tot anderkant Robbeneiland te blaas, sal enigiemand weet ’n gewiglose virus staan geen kans teen wind se kind nie.

Saamdromming tussen strandgangers is ook deesdae so uit soos ’n wynverkoping buite die naaste polisiekantoor.

Saamdromming tussen strandgangers is ook deesdae so uit soos ’n wynverkoping buite die naaste polisiekantoor. Sonder tatoe-ateljees om lywe met nuwe patrone op te kikker, asook die lyf-bultende uitwerking van laas winter se grendeltyd, verkies esteties-bewuste Kapenaars hierdie somer om op hul eie stuk sand te lê. So ver van ander oë as moontlik.

So, laat die storie tog end kry, voor amptenare verdere belaglikhede bewimpel om Kapenaars te straf in die naam van nasionale gesondheid. Oor vyf maande kom die winter, en netnou beland waterblomme op die swartlys, asook jou reg om die oë op te slaan na die berge. Wat miskien al is wat mens nog kan doen.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Wes-Kaap  |  Ndz  |  Strande  |  Koronavirus  |  Regulasies  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.