Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mooiste wense aan sjarmante regter Zondo
Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Gallo Images

Nou sluit ek aan by groot instellings: Ek kies my “Mens van die Jaar”. Dis ’n man. Dis Raymond Mnyamezeli Mlungisi Zondo. So by die 60 jaar, ietwat kort en rond, geduldig, enigmaties en sy bekendste uitspraak is: “Oh, okay, all right.” Maar niemand word geflous deur sy sjarme by die soms indringende kyk na ’n getuie voor hom nie.

Adjunkhoofregter Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, sien en hoor sedert Augustus 2018 stories – waarhede, seker ook onwaarhede – oor ’n wêreld van grypsug, leuens, verraad, vrees en rugstekery wat reg onder ons neuse afspeel. Met die Zondo-kommissie is ons in ’n Shakespeariaanse teks.

Goed, kwaad, skelm en edel. Zondo en Zuma, ’n rolverdeling om die asem te laat snak. Vytjie Mentor. Tom Moyane. Mosebenzi Zwane. ’n Vreeswekkende, enigmatiese Dudu Myeni wat geen antwoorde gee nie. Die geduldige adv. Kate Hofmeyr, meedoënloos. ’n Lagwekkende maar uithou-relletjie tussen ’n koue Pravin Gordhan en ’n wel, moerige adv. Dali Mpofu wat uiteindelik tot die leegste argument, rassisme, daal.

Ek wonder, maar sal nooit vra nie, hoe voel die kommissaris, hoofsaaklik aangespreek as “chair” deur die dikwels skouspelagtige karakters voor hom.

As hy saans sy bedliggie afsit, sug die “chair” oor wat die volgende dag op hom wag? Is die “chair” al sat van gedurig vra wie het wanneer by ’n sekere adres in Saxonwold gekuier?

Martie Retief Meiring Foto: Argief

Ek het onlangs ’n soort aweregse toer deur Saxonwold geneem; om eintlik Brian Molefe se gevierde sjebien te sien. Hoe sal ek weet hoe lyk ’n sjebien in die ietwat onindrukwekkende, maar duidelik ryke voorstad, meer bekend vir rampokkery as sy argitektuur? Die sleutelwoord hier is Gupta. Drie broers het naamlik hier ingetrek en tentakels van asembenemende bedrog oor die land heen uitgestuur.

Vasgenael voor die realiteitsprogram op TV aanskou ons, die publiek, hoe ’n bedaarde “chair” aanhoor hoe dié uitlanders hoë poste in Suid-Afrika uitdeel; hoe hulle ’n liplekkende, handevrywende gewese president soos ’n pop laat dans. Die Guptas is weg, die gewese president glip, verdwyn, verskyn soos ’n kat.

Rustig, rustig hou die “chair” die leisels vas. Die kat gaan hier nie wegkom nie. Die land moet skóóngemaak word.

Sug die “chair” saans oor hoe ’n land in ’n mishoop verander het? Moet die “chair” ook, soos die kykers, soms ’n stukkie papier nadertrek om net te kyk hoeveel nulle daar nou rêrigwaar in ’n miljard is? Die Guptas skrik nie vir nulle nie.

Hulle het die land gegaps en nou moet die “chair” die land terugvat. “Oh, okay, all right,” sê hy menigkeer. ’n Vriendelike glimlaggie, maar agter daardie bril word alles raakgesien.

Ek wens dus die “chair” ’n rustige, vredige jaareind toe. Dalk sal ’n lekker fiktiewe skiet-skop-ensovoorts help voor hy die lig afsit. Enigiets, solank name soos Zuma en Gupta nie opduik nie.

Meer oor:  Menings  |  Zondo  |  Martie Retief Meiring  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.