Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moord op vroue sê baie van samelewing

Suid-Afrika se syfer vir vrouemoord is vyf keer meer as in enige ander land ter wêreld. Hoe verduidelik jy dit? vra Martha-Marié Uys.

Martha-Marié Uys

Reeva Steenkamp, Gill Packham, Susan Rohde, Jayde Panayiotou, Anene Booysen, Francis Rasuge, Fatima Patel, Estelle Greeff, Brenda Beeton, Susan Jacobs, Annelene Pillay, Sharnelle Hough, Marna Engelbrecht, Chanel du Toit (om maar ’n paar te noem) se moorde het die wêreld diep geskok.

Dit is inderdaad skokkend. Dis siek.

Gill Packham was onherkenbaar verkool. Haar kakebeen was gebreek. Bloeding in haar nekweefsel, kopbeserings, frakture in haar skedel, bloeding op die brein en ander beserings aan die brein.

Rob Packham, ’n sakeman van Kaapstad, het geen reaksie getoon toe regter Elize Steyn hom langer as ’n jaar ná sy inhegtenisneming vir die moord op sy vrou en regsverydeling skuldig bevind het nie. Hy is vir 22 jaar tronk toe gestuur.

Susan Rohde moes ook gekrul het van die pyn terwyl sy bloed gehoes het. Sy het massiewe stomp trauma op haar borskas gehad, daar was bloed in haar lugweë, sy het verskeie ribfrakture gehad en is versmoor. Sy is deur haar man, Jason, vermoor. Hy is onlangs vir 18 jaar tronk toe gestuur.

In Suid-Afrika word ’n vrou elke vier uur deur haar lewensmaat vermoor. Die term “femicide” (vrouemeoord) word gebruik om moorde van vroue deur hul eie lewensmaats te beskryf.

Suid-Afrika is die land met die hoogste voorkoms van vrouemoord en dis ook die grootste oorsaak van die dood van vroue wat slagoffers van misdaad is.

Ons syfer vir vrouemoord is trouens ’n skokkende vyf keer meer as in enige ander land ter wêreld.

Hoe verduidelik jy dit?

In die naam van patriargie . . .

Rob Packham is vir 22 jaar tronk toe gestuur vir die moord op sy vrou, Gill. Foto: Peter Abrahams

’n Man wat nie daartoe in staat is om byvoorbeeld sy buite-egtelike verhouding te beëindig nie, vermoor eerder sy eie vrou?

Dit sê iets van hoe sekere mans gesosialiseer word. Dit sê eintlik baie van die hele patriargale samelewing waarin ons woon.

Die eerste vlak van geweld wat patriargie van mans vereis, is nie om hul vroue te vermoor nie. In plaas daarvan eis patriargie van mans om hul eie empatiese eienskappe vroeg-vroeg reeds dood te maak.

Wanneer ’n man homself nie so ver kan kry om emosioneel te sterf nie, is die geharde patriargale mans altyd byderhand om hom daarvoor te straf en hom te verneder.

In die naam van patriargie kan mans hul vroue doodmaak omdat alternatiewe opsies lastig is. Mans kan hul vroue aanrand omdat hulle self seerkry, so asof vroue en kinders nie ook emosionele pyn ervaar nie.

Patriargale samelewings leer mans dat hul eie gevoelens en behoeftes meer waardevol is as dié van ander. Dit leer mans dat hul eie probleme en bekommernisse altyd voorkeur kry. Dit leer mans dat hulle maklik en vinnig uiterste geweld mag pleeg om hul eie behoeftes te bevredig.

In ’n patriargale stelsel is mans se humeure en woedehantering heilig en onbetwisbaar. Die voorbeelde is eindeloos en reg op ons drumpel. Diegene wat die saak gevolg het, sou sien dat Rob Packham nie eens sy humeur in die hof se beskuldigdebank kon beteuel nie.

In die naam van patriargie kan mans hul vroue doodmaak omdat alternatiewe opsies lastig is. Mans kan hul vroue aanrand omdat hulle self seerkry, so asof vroue en kinders nie ook emosionele pyn ervaar nie.

Regter Steyn het tydens Packham se vonnisoplegging verduidelik dat vrouemoord vroue se grondwetlike regte direk ondermyn.

Vroue is volgens haar ’n baie kwesbare groep in ons patriargale samelewing. Sy sê mans wat hul lewensmaats vermoor, kan swaar vonnisse verwag.

Verskonings vir aggressie

Jason Rohde is tot tronkstraf van 18 jaar gevonnis vir die moord op sy vrou, Susan. Foto: Peter Abrahams

Alle misdaad is skokkend, maar wat mishandeling van vroue selfs erger maak, is die herhalende aard daarvan. Ook die negatiewe invloed wat dit op die samelewing en meer spesifiek, die gesin het.

Onder die vaandel van patriargie het sekere mans nie regtig die las van boetedoening en empatie vir diegene wat hul geweld oorleef het nie.

Wanneer mans nie hul geneigdheid vir geweld in toom kan hou nie, verskaf patriargale samelewings selfs verskonings vir hul aggressie, ook wanneer dit in die dood eindig.

Ons lees op die kommentaarblaaie van mediaberigte. “Mans oorreageer maar soms”, “Sy moes hom uitgelok het”, “Lyk my sy het maar rondgeloop”, “Brannas het alweer nie brieke nie”, of “Hy het waarskynlik net genoeg gehad en geknak”.

’n Patriargale samelewing vorm ’n onsigbare helspiraal waar mans uiteindelik net so seerkry. Gewelddadige gedrag word genormaliseer en toksiese manlikheid word ’n voertuig waardeur gesinne onherstelbaar getraumatiseer en selfs deur die dood vernietig word.

Patriargale samelewings bemark dit van hul geboorte aan mans dat geweld jou eerste opsie vir sukses is, hetsy in kuierplekke, langs sportvelde of in die slaapkamer.

Patriargale mans regverdig altyd die trauma wat hulle veroorsaak. Die trauma wat hulself ervaar het, word as verskoning aangebied.

Maar een trauma mag nooit as ’n alibi vir ’n volgende trauma dien nie.

Daar is ’n voortdurende beroep op vroue en kinders om empatie te hê met die geweldspatriargie.

Daar word verwag dat mans verstaan moet word. Die res moet net die gevolge van die geweld help dra.

’n Patriargale samelewing vorm ’n onsigbare helspiraal waar mans uiteindelik net so seerkry. Gewelddadige gedrag word genormaliseer en toksiese manlikheid word ’n voertuig waardeur gesinne onherstelbaar getraumatiseer en selfs deur die dood vernietig word.

Dit moet einde kry. Suid-Afrika mag nie die land met die hoogste syfer vir vrouemoord bly nie.

Ons moet ons seuns en dogters sosialiseer sodat hulle volwasse verhoudings in liefde kan plaasvind. Daarsonder skep ons onwetend vrugbare toestande vir patriargale geweld om langer hoogty te vier.

* Martha-Marié Uys het ’n doktorsgraad in sielkunde en het onder meer ervaring van traumaberading en neurologiese sielkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Rob Packham  |  Woede  |  Trauma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.