Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mosambiek gaan deur diep water

Baie waarnemers is onkant betrap deur Mosambiek se verkiesingsuitslae en sedertdien doen gerugte van verkiesingsbedrog op groot skaal die ronde, skryf Liesl Louw-Vaudran.

’n Kieser hou ’n kaartjie vas wat mense vra om vir Frelimo en pres. Filipe Nyusi van Mosambiek te stem. Foto: Reuters

Demokrasie kan net funksioneer wanneer politieke partye hul kant bring – in die regering maar ook die opposisie.

In baie Afrikalande, veral hier by ons in Suider-Afrika, is opposisiepartye te swak om regtig die voormalige bevrydingsbewegings met hul struggle-geskiedenis aan te vat.

In Mosambiek het die uitslae van die verkiesings op 15 Oktober baie waarnemers onkant gevang.

Almal het min of meer geweet dat Frelimo, wat sedert onafhanklikwording van Portugal regeer, weer die presidentsverkiesing sal wen en dat hy ook die meerderheid in die parlement sal behaal.

Maar so ’n slagting waar pres. Filipe Nyusi 73% van die stemme gekry het en Renamo in geeneen van die tien provinsies kon koning kraai nie, het min mense verwag.

In 2014 het Renamo die meerderheid stemme behaal in drie van die tien provinsies en net-net verloor in ’n vierde.

Diegene wat Mosambiek se politiek goed ken, sê dis byna ondenkbaar dat Renamo twee weke gelede so ver kon verloor.

Sedertdien kla die party dat hy nie die reg kry om goewerneurs aan te stel in die provinsies waar hy die meerderheid steun het nie – ’n inherent ondemokratiese en onregverdige stelsel.

Om hul frustrasie te toon, het lede van Renamo selfs weer die wapen opgeneem en met aanvalle begin regoor die sentrale provinsies, soveel so dat honderde mense in ’n stadium na Malawi gevlug het.

Meer as 100 rondes onderhandelinge is tussen die regering en Renamo gehou en uiteindelik is nuwe wette vroeër vanjaar ingestel waarvolgens die goewerneurs van provinsies voortaan verkies sou word, eerder as om deur die sentrale regering aangestel word.

Dit het Renamo tevrede gestel en op 6 Augustus is ’n vredesooreenkoms onderteken wat die ontwapening van Renamo sou verseker.

Die verwagting was dat Renamo tevrede sou wees met ’n stelsel waarin hy twee of drie, of selfs minder goewerneurs sou hê – ’n bietjie soos die DA in die Wes-Kaap.

Diegene wat Mosambiek se politiek goed ken, sê dis byna ondenkbaar dat Renamo twee weke gelede so ver kon verloor, selfs sonder die party se vorige leier, die charismatise Afonso Dhlakama wat verlede jaar dood is.

Geweld neem weer toe

Stemtellery ná die verkiesing in Mosambiek. Daar is ontevredenheid onder opposisiepartye oor beweerde verkiesingsbedrog. Foto: AP

Wat het dan gebeur?

Plaaslike organisasies het etlike duisende waarnemers gestuur na feitlik elke kiesafdeling in die land en volgens hulle was daar grootskaalse kullery, veral met stembriewe.

In die Gaza-provinsie waar daar byvoorbeeld byna 300 000 “spookstemme” op die kieslys geplaas is – meer as die hoeveelheid stemgeregtigdes volgens ’n onlangse sensus – was die stemlokale heeldag feitlik leeg.

Maar toe die uitslae aangekondig word, het duisende mense gestem – almal vir Frelimo se Nyusi.

Talle sulke voorbeelde is deur waarnemers en die media raakgesien en geboekstaaf.

Daar was ook baie intimidasie en geweld tydens die verkiesing, iets wat selfs die waarnemers van die Afrika-unie in hul verslag opmerk.

Renamo het kort nadat die eerste uitslae bekend gemaak is, summier die oorwinning van Frelimo en Nyusi verwerp. Die party het al die bogenoemde redes aangegee waarom die stemmery nie vry en regverdig was nie.

Liesl Louw-Vaudran

Maar dit lyk in hierdie stadium of Renamo nie ’n sterk genoeg span het om die saak verder te voer nie. Volgens die grondwet moet die opposisie binne ’n beperkte tyd die uitslae voor die grondwetlike raad bring met bewyse dat daar gekul is.

Renamo het hom tot dusver maar net in enkele gevalle tot die hof gewend.

Die wegbreekfaksie van Renamo, wat in Augustus geweier het om die ooreenkoms te onderteken, het intussen weer met aanvalle begin.

Dit kom te midde van nog meer geweld in die noorde van die land waar gewapende bendes – sommige van hulle Islamitiese radikales – mense wreed vermoor.

Renamo is die grootste opposisieparty in Mosambiek en moet die regering verantwoordelik hou. Net soos die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) in Zimbabwe ná verkiesings in Julie verlede jaar gefaal het om bewyse van kullery teen Zanu-PF voor die hof te bring, lyk dit of Renamo se klagtes oor die verkiesing nie juis ’n verskil gaan maak nie.

Die MDC het destyds ook hand en tand gekla, maar nie die volledige bewyse voor die hof gebring nie. Selfs al word die onafhanklikheid van howe in Afrika bevraagteken, het hulle wel al verkiesingsuitslae verwerp, soos in Kenia ’n paar jaar gelede.

Dis nie maklik om te baklei teen die groot partye in Suider-Afrika wat al so lank die septer swaai nie – vra maar vir die DA in Suid-Afrika – maar burgers verwag ’n minimum van professionaliteit en organisasie deur die opposisie wat minstens daartoe kan lei dat hul stemme gehoor word.

* Liesl Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Frelimo  |  Renamo  |  Afonso Dhlakama  |  Filipe Nyusi  |  Mosambiek  |  Zimbabwe  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.