Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mosambiek: SAOG moes gevaar vroeër besef het

Dit is eintlik verstommend dat sy buurlande nie lankal reeds die gevaartekens gesien het wat tot die geweld en ontwrigting in Mosambiek gelei het nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Adelino Alberto en sy gesin het uit Palma in die Cabo Delgado-provisie in Mosambiek gevlug ná ’n aanval van insurgente wat bande met Isis het. Foto: Reuters

Waarom het sy buurlande so gesloer met ’n plan vir Mosambiek? Mense het die laaste paar dae tereg gevra waarom die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) eers vandag (Donderdag) ’n spitsberaad van staatshoofde hou hoewel die situasie in die Cabo Delgado-provinsie al vir geruime tyd handuit ruk.

’n Deel van die antwoord lê by wantroue oor die ware feite.

Vir baie lank het Mosambiek vir sy buurlande gesê die gewapende bendes wat dorpies afbrand en mense vermoor, is bloot misdadigers en dat daar vinnig met hulle klaargespeel gaan word.

Sommige het dit geglo.

Ander het weer gesê dit is ’n politieke strategie van die korrupte elite in Maputo om mense uit die gebied te dryf sodat hulle kan aangaan met onwettige uitbuiting van die land se natuurlike hulpbronne.

Slim mense met wie ek in Maputo en elders gesels het, het weer gesê dis ’n populêre opstand – ’n burgeroorlog met sy wortels in streeks- en etniese verskille.

Dit is alles ’n resep vir groot moeilikheid.

Daar mag wel gedeeltelik waarheid steek in sommige van hierdie teorieë.

Maar regtigwaar, as daar groepe jong mans in swart drag en met vlae van die Islamitiese Staat ’n dorp binneval en gewone onskuldige mense onthoof, vroue ontvoer en jong seuns dwing om by hulle aan te sluit, moet ’n groot rooi lig mos aangaan?

As daar ’n lang geskiedenis van radikale groepe al langs die ooskus van Afrika is, wat strek tot by Kenia en Tanzanië, moet die politici in die streek tog regop sit wanneer sulke aanvalle plaasvind? En as ons weet hierdie radikale groepe werf werklose en gefrustreerde jeug oor die gemarginaliseerde gebiede van Afrika heen – in noordoos Nigerië, Somalië, die noorde van Mali en die grensgebied tussen Niger, Mali en Burkina Faso – moet daar tog dringend na die situasie in ’n grensstreek soos Cabo Delgado gekyk word.

Benewens al hierdie tekens is reuse-gasaanlegte en myne vir edelgesteentes ook opgerig wat veroorsaak het dat mense hul inkomste uit visvang of informele mynboubedrywighede verloor.

Die jeug van Cabo Delgado weet ook daar is min kans dat hulle werk gaan kry in die gesofistikeerde gasprojekte en dat die inkomste daarvan sou vloei na die sakke van die korrupte Frelimo-elite.

Dit is alles ’n resep vir groot moeilikheid.

Ingryping sal twee jaar te laat wees

Vriende vertroos ’n vrou wat uit die geweldgeteisterde Palma gevlug het. Foto: Reuters

Natuurlik weet ’n mens dat Suider-Afrika se lidlande almal onder Covid-19, armoede, klimaatsverandering en interne politieke struweling gebuk gaan. En Mosambiek is nie juis genoeë om hulp van buite te aanvaar nie.

Organisasies soos die SAOG is egter daar om te fokus op kwessies van streeksbelang. Die krisis in Mosambiek raak almal: Dit bedreig Suid-Afrikaanse werkers en beleggings in Cabo Delgado en kan uitbrei oor die grens na die suide van Tanzanië of selfs Malawi.

Die SAOG is ’n sukkelende organisasie met ’n struktuur wat dringend hervorm moet word. Bitter min mense verstaan byvoorbeeld die idee van ’n “Dubbel-Troika- vergadering” soos die een vandag (Donderdag) in Maputo. Dit is ’n vergadering van die Troika vir Politiek, Verdediging en Veiligheid (tans gelei deur Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se Troika gelei deur Mosambiek, Tanzanië en Malawi.

Liesl Louw-Vaudran

Die struktuur is heeltemal te lomp en moet verander word.

Die sekretariaat in Gaborone is ook in ’n groot mate aan die besluite van die 16 lidlande uitgelewer, veral invloedryke lande soos Suid-Afrika en Zimbabwe.

Dit is egter nie ’n verskoning nie. Die SAOG het personeel wat veronderstel is om te waarsku teen dreigende gevare – sogenaamde “early warnings”.

Die Europese Unie het ook onlangs ’n hele 15 miljoen euro aan die SAOG gegee vir projekte rakende “vrede en veiligheid”. Waarvoor is dit gebruik, wil ’n mens graag vra?

As die SAOG vandag (Donderdag) besluit om daadwerklik in te gryp, sal dit ’n positiewe stap wees, selfs al is dit omtrent twee jaar te laat. Die insurgensie het reeds teen die einde van 2017 begin en in 2019 en 2020 drasties toegeneem.

Vir die SAOG om ’n ingrypingsmag saam te stel kan etlike maande van gesamentlike oefeninge en beplanning beteken.

Intussen vererger die situasie in Cabo Delgado en beleggers onttrek hulle uit die gebied – ’n ramp vir Mosambiek sowel as die hele Suider-Afrika.

• Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.