Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mosie oor SA steek grens oor
Alida Kok
Alida Kok

Die mosie teen grondonteiening in Suid-Afrika wat verlede week aanvaar is deur ’n meerderheid in die Nederlandse parlement, die Tweede Kamer, plaas klem op die suksesse wat ’n nuwe soort gemeenskapsbilateralisme – die regstreekse skakeling tussen twee gemeenskappe wat in verskillende state gebaseer is – in die huidige politieke milieu kan behaal.

Onlangse politieke verskuiwings, veral nadat die uitslae van die Europese verkiesings in Mei bekend gemaak is, het die spektrum van politieke verteenwoordiging in die globale noorde vergroot en laat meer geleenthede vir minderheidsgroepe en gemeenskappe om steun van regerings, politieke partye, vakbonde en ander belangegroepe in die buiteland te kry en daardeur druk op die Suid-Afrikaanse regering en wetgewende gesag toe te pas.

Hierdie mosie is ’n belangrike drempel wat in Suid-Afrikaanse politiek sedert 1994 oorgesteek word. Dit is die eerste keer dat ’n wetgewende gesag in die buiteland ’n mosie aanvaar om die regering in Suid-Afrika te “sensureer vir dinge wat hy klaarblyklik verkeerd doen” (soos verduidelik deur Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, in ’n radiogesprek vandeesweek).

Die landbou-, taal- en kultuurgemeenskappe wat hulself na die buiteland vir steun wend, herinner aan die politiek van die laat 1970’s en 1980’s.

Dit is ook die eerste keer sedert 1994 dat ’n nasionale wetgewer in die buiteland deur ’n meerderheidsbesluit aan sy regering opdrag gee om deur bilaterale en multilaterale platforms in die internasionale gemeenskap druk op ’n ANC-regering toe te pas om ’n voorgestelde binnelandse beleidsrigting van koers te laat verander.

Die landbou-, taal- en kultuurgemeenskappe wat hulself na die buiteland vir steun wend, herinner aan die politiek van die laat 1970’s en 1980’s. Die laaste politieke rolspeler wat só op die buiteland gesteun het om binnelandse politiek in sy guns te swaai, was die ANC in ballingskap, spesifiek tydens sy politieke kommunikasieveldtogte in die 1980’s.

Die mosie is nog meer betekenisvol as ’n mens in ag neem dat die besluit om “in te meng” in Suid-Afrikaanse binnelandse politiek afkomstig is van Nederland – ’n staat met ’n burgery wat as “stamland” vir ’n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking en as voormalige ondersteuner van die ANC in ballingskap ’n besondere geskiedkundige band met Suid-Afrika het. Hierdie stap kan nie net deur strategiese belange gemotiveer wees nie, maar is in wese ook ’n vorm van beginselvaste politiek.

Dit sal wel interessant wees om te sien op watter wyse die aanvaarde mosie uitdrukking in Nederlandse diplomatieke verteenwoordiging in Suid-Afrika kry. Wes- en Noord-Europese state se diplomatieke verteenwoordigers sukkel om met die ANC, die president se kantoor en staatsdepartemente te skakel.

’n Verwagting in die Europese diplomatieke gemeenskap heers dat skakeling met Cyril Ramaphosa se ANC-regering sal herstel, maar dit vind nie plaas nie. Die regerende party se aandag het van Europa na veral China en Rusland weggeskuif. Die diplomatieke bande wat eens tussen die ANC en Europa bestaan het, is nie meer so springlewendig en gesond nie. ’n Mosie – soos in die geval van die Nederlandse mosie wat opdrag aan diplomate gee om druk toe te pas op die ANC-regering – kan ’n doring in die vlees wees van diplomate wat reeds ’n moeilike taak het om die ANC se aandag te kry.

’n Laaste oorweging in hierdie verband handel oor die Grondwet. As daar druk op die saamgesmelte uitvoerende en wetgewende gesag geplaas word om nie die voorgenome wysiging aan art. 25 van die Grondwet te maak nie – om sodoende onteiening te laat plaasvind nie – waarom sal ander nodige wysigings om byvoorbeeld die kiesstelsel te hervorm later plaasvind?

Meer oor:  Alida Kok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.