Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moskou mik na Minsk in dié magspel

’n Geopolitieke magspel word tans tussen Moskou en Brussel gevoer, met Minsk as die prys. Jy kan “Moskou” met Poetin vervang, “Brussel” met die Europese Unie (EU), en “Minsk” met Belarus.

Belarus was tot die uiteenval van die Sowjetunie einde 1991 deel van laasgenoemde en het toe onafhanklik geword. Dié onafhanklikheid was maar betreklik, want wie ook al in Minsk, die hoofstad, aan die bewind is, is ekonomies en polities afhanklik van Moskou.

Leopold Scholtz

Dis daarom uiters interessant om te sien hoe Brussel en Moskou versigtig rondom Minsk dans – Brussel om die skade te verminder; Moskou om sy eie mag uit te brei.

Die grootskaalse opstand in die strate van Belarus bemoeilik sake egter aansienlik. Dit het uitgebreek ná die duidelike verkiesingsbedrog verlede week, toe die regering aanspraak gemaak het op ’n oorwinning met 80% van die stemme.

Almal (ook die opstandelinge in Minsk en elders) besef dat Belarus in die lig van sy geskiedenis, geografiese posisie en ekonomiese afhanklikheid van Rusland vierkant in die Russiese invloedsfeer val en dat pres. Wladimir Poetin dus in ’n magtige posisie is.

Brussel sit in ’n moeilike posisie. Hy moet sy stem verhef as hy sy geloofwaardigheid as demokratiese instelling wil behou, en dus het die EU pas sanksies teen die regering van Belarus se pres. Alexander Loekasjenko ingestel en geëis dat ’n nuwe verkiesing uitgeskryf word. Te ver kan die Europeërs egter nie gaan nie, want dan kry Poetin ’n ekskuus om in te gryp.

Poetin, ’n uitstekende skaakspeler, moet ook moeilike keuses maak. Enersyds is ’n demokratiese oorwinning in Belarus teen sy belang, omdat dié voorbeeld na sy eie strate kan oorspoel. Andersyds is hy ook nie besonder lief vir Loekasjenko nie. Poetin wil naamlik ’n “integrasieverdrag” met Belarus teken, wat daarop sou neerkom dat Rusland weer die beheer oorneem – en dít weier Loekasjenko omdat dit die einde van sy diktatoriale mag sou beteken.

Nietemin het Loekasjenko dié week ’n benoude telefoonoproep na die Kremlin gemaak en Poetin se hulp gevra. Volgens hóm het Poetin beloof om te help, al is dit nie duidelik wat dié “hulp” sal behels nie.

Volgens gerugte sou Russiese troepe in die rigting van Belarus optrek. Ook het Poetin dit duidelik gemaak dat hy geen inmenging van “buite” (lees: Brussel of Washington) in Belarus se interne sake sal duld nie.

Washington gee intussen geen kik nie; daarvoor is pres. Donald Trump se bewondering vir Poetin te groot. Brussel blaas en raas, maar is magteloos. Moskou is die plek waar die besluite geneem word.

En dus is die opstandelinge in die strate van Minsk en ander stede die slagoffers. Dis nie onmoontlik dat Loekasjenko nog kan val nie, maar dit sou verkeerd wees om jou salaris daarop te verwed.

Meer oor:  Leopold Scholtz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.