Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Afrika in geheel kán ’n wêreldmag wees

Afrika het tot dusver skouspelagtig misluk om sy ekonomiese potensiaal te verwesenlik en loop daarom die gevaar om wéér die speelplek van die wêreld se magtigste nasies te word.

Die verskillende maniere waarop die VSA Afrikastate suid van die Sahara en die Midde-Ooste behandel as dit by menseregte kom, spreek boekdele van Amerika se strategiese prioriteite. China se belangstelling in Afrika verander die balans ietwat. China het hulpbronne uit Afrika nodig om hul ekonomie aan die gang te hou. Daarom moet Amerika ook ’n oog hou op wat China in Afrika doen.

Onder liberale kommentators in Suid-Afrika is daar dikwels die naïewe siening dat Amerika se belange outomaties belyn is met die belange van Suid-Afrika en dié van Afrika. Vanweë die klem op menseregte is dit in ’n sekere mate waar, maar Amerikaanse prioriteite is nie Afrika-prioriteite nie. As dit Amerikaners pas, sal hulle hul beginselverbintenis tot menseregte laat vaar, net soos hulle die apartheidsregering eens as ’n bolwerk teen kommunisme op die vasteland gesien het. Hierdie nasleep van Amerikaanse buitelandse beleid spook steeds in ons politiek. Die Suid-Afrikaanse buitelandse beleid is besmet met paranoia oor die VSA, terwyl anti-Amerikaanse retoriek deel uitmaak van die algemene politieke gesprek.

Afrika-politici moet die bedreiging van groot magsmededinging verstaan.

Eweneens is die linkses in Suid-Afrika geneig om naïef te wees oor China. Hulle glo dat China welwillender is as Amerika omdat hulle hul nie steur aan dinge soos menseregte (insluitend eiendomsregte) of enige binnelandse beleid wat nie die Chinese belange raak nie. Hulle besef nie dat China vir Afrika nodiger het as die Amerikaners nie en besef ook nie dat die Chinese niks meer as die Amerikaners omgee vir die welstand van Afrikane nie. ’n Regime wat so gereeld en so maklik sy eie mense onderdruk (soos die etniese suiwering wat die Uighurs tans ervaar) kan nie die welsyn van Afrikane op die hart dra nie.

Afrika-politici moet die bedreiging van groot magsmededinging verstaan. Die Suid-Afrikaners wat in die vorige eeu in Angola geveg het, sal weet hoe skadelik sulke groot magsmededinging kan wees.

Wat moet Afrika-leiers doen om die risiko’s van Chinees-Amerikaanse mededinging in die streek te beperk? Afrika, deur die Afrika-Unie en ander streeksliggame soos die Ekonomiese Gemeenskapsmark van Wes-Afrikaanse State (Ecowas) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), moet hulle verbind tot drie breë doelstellings: stabiliteit, welvaart en onafhanklikheid. Hier is niks van demokrasie of menseregte nie, maar ekonomiese vryheid is belangrik om suiwer strategiese redes.

Dit is dus nie asof Suid-Afrika nie omgee vir menseregte in ander lande nie, maar in soverre ons invloed het, moet ons ook besef ons invloed het perke. Daarom moet ons prioritiseer. Suid-Afrika moet voorkeur gee aan dié dinge wat die kontinent gesamentlik ’n wêreldmoondheid sal maak om mee rekening te hou.

Dit kan Suid-Afrika onmoontlik nie op sigself bereik nie. Maar Afrika in die geheel sou dit kon regkry.

’n Realistiese buitelandse beleid beteken om nie met leiers van samelewings te argumenteer wat sterk menings oor byvoorbeeld homoseksualiteit het nie. Dit is iets wat ons moet bly nastreef, maar dit kan nie ’n prioriteit wees nie. Ons morele verontwaardiging sal nie hierdie samelewings verander nie, selfs al sou ons probeer om ons kwynende, maar steeds formidabele ekonomiese spiere te probeer bult.

Die voorwaardes vir ’n welvarende Afrika kan egter geskep word deur ons uit vernietigende internasionale konflikte te hou. Dit sal Suid-Afrika help om op lang termyn die vryheid van sy eie burgers te verseker – en hopelik vir ander Afrikalande ’n voorbeeld te wees as ’n vrye en welvarende samelewing.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.