Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Covid-19-toelae soos ’n lat vir regering se bas

Die president het onlangs aangekondig dat werklose volwassenes ’n subsidie ??van R350 per maand van die staat gaan ontvang.

Die toelae sal vir ses maande betaal word en jy kom slegs in aanmerking as jy geen ander staatshulp van die regering ontvang nie.

Hoewel daar geen twyfel bestaan ??dat Suid-Afrika se werkloses dit nodig het nie, moet die langtermyngevolge ook oorweeg word. Die regering se finansies is in ’n ernstige toestand, met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat in Februarie die fiskale tekort in die huidige geldjaar op R250 miljard geraam het.

Reeds voor die inperking was daar meer as 10,3 miljoen werkloses (volgens die uitgebreide definisie). Die nuwe toelae verteenwoordig ’n potensiële uitgawe van meer as R21 miljard (hoewel elke werklose natuurlik nie daarvoor kwalifiseer nie). Die inperking self het egter werkloosheid verder verhoog, wat die raming oor die toelae se totale koste bemoeilik.

Die punt is, die toelae gaan die begrotingstekort vergroot as die regering die geld nie êrens anders bespaar nie.

Hierdie skuld sal gedra moet word deur ’n middelklas wat reeds ly...

Natuurlik is hierdie toelae beter as die alternatief van kospakkies uitdeel. Tog moet die werklikheid in die oë gestaar word. En dit is dat die nasionale tesourie reken die inperking gaan die land ’n verdere drie tot sewe miljoen werkgeleenthede kos. En hoe politiek realisties is dit om te glo die program kan oor ses maande eindig?

Die regering het potensieel ’n lat vir sy eie bas gepluk en ’n yslike toekomstige politieke hoofpyn geskep, nie as gevolg van die toelae nie, maar weens die regering se optrede wat in die eerste plek die toelae noodsaaklik gemaak het.

Om die probleem te vererger word tekorte in die staat se begroting uiteindelik deur belasting gefinansier, of dit nóú gebeur of in die toekoms, wanneer daardie lenings uiteindelik aan die prinsipaal terugbetaal moet word.

Hierdie skuld sal gedra moet word deur ’n middelklas wat reeds ly onder ’n vergrote staatsdiens, bankrot staatsondernemings, buitensporige salarisse en korrupsie.

Inkomstebelasting maak die grootste deel van die regering se inkomste uit – 36% daarvan, soos voorspel in die 2020-begroting. Die koste om regeringskuld te finansier, is vir ’n aantal jare reeds die begrotingsitem wat die vinnigste styg. Die uitgawes om die Covid-19-pandemie te beveg, gaan dié probleem net vererger.

Hoewel die rentekoersverlagings deur die Reserwebank die ekonomiese las gaan verlig op diegene in die middelklas wat skuld het, bring hulle ook hul eie komplikasies mee.

Die belangrikste hiervan is die invloed wat dit op mense se spaargeld het, en gevolglik op die aansporing om te spaar. Dit het ’n langtermynuitwerking op die vermoë van sakelui om kapitaal te bekom en gevolglik ook op indiensneming.

Dit is nou maar ’n feit dat daar niks soos ’n gratis ete is nie. Elke handeling het ’n gevolg en iemand moet die gevolge daarvan dra.

Dit is alles goed en wel wanneer individue hierdie gevolge oorweeg en hul eie besluite neem. Dit raak immoreel wanneer die regering bepaalde groepe wat in onguns by hom verval het wesenlik benadeel en terselfdertyd diegene bevoordeel wat in sy goeie boekies is.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.