Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Die ANC pak beelde, maar laat SAL staan

Die regering en vakbonde het luidens berigte nou ooreengekom dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in een of ander vorm sal bly voortbestaan en steeds 1 000 werknemers in diens sal hê. Dit beteken dat die regering moet pa staan vir nóg geld op ’n tydstip dat die land se finansies die swakste is wat dit nog ooit was – en dit vir ’n lugdiens wat nog niks anders as ’n las op die boeke was nie.

Verlede Sondag berig Rapport oor ’n vergadering tussen die ANC en die bestuur van die SAUK waarop daar blykbaar politieke druk op die uitsaaier uitgeoefen is om nie personeel af te lê nie. Dis ondanks die feit dat die nasionale tesourie en die SAUK ooreengekom het dat afleggings nodig is. En is die tesourie dan nie ’n departement van die nasionale regering, met beleidsbesluite wat geneem word deur ’n minister wat ’n ANC-lid is en wat onder toesig van ’n parlement met ’n ANC-meerderheid staan nie?

Dié voorbeelde beklemtoon waarom Suid-Afrika se instellings versuim het om staatskaping te stop en bevestig Helen Zille se punt dat die kaping ’n direkte gevolg is van politieke inmenging by staatsinstellings.

Soos geïllustreer deur die beleid van kaderontplooiing – wat waarskynlik die verklaring is vir waarom die SAUK se uitvoerende hoof die behoefte voel om persoonlik leiers van die regerende party toe te spreek oor bestuursbesluite. Die uitvoerende hoof doen verslag aan die direksie, wat op sy beurt deur die minister van kommunikasie aangestel word met ’n mandaat wat uit die regeringsbeleid spruit.

Die versoeking sal egter altyd daar wees om hierdie ondernemings vir politieke doeleindes te gebruik...

Om op dié manier van druk-taktiek gebruik te maak is ’n erkenning deur die regerende party dat sy beleid misluk het. In der waarheid dui die instorting van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) daarop dat daar iets ernstig verkeerd is met regeringsbeleid. Ek glo die wortel van die probleem lê by die staat se beduidende rol in die ekonomie – hetsy deur SBO’s self of deur direkte regeringsbesteding in ’n hoogs gereguleerde ekonomie.

Die feit dat die regering by die ekonomie betrokke is, is ’n uitnodiging aan politici om bestuurders onder druk te plaas om hul party se politieke doelwitte na te streef. Die beste voorbeeld daarvan is die feit dat die ANC die SAUK-bestuur ontbied het omdat die partybase bekommerd is dat afleggings ’n negatiewe invloed op hul verkiesingsteun kan hê.

Politieke inmenging verklaar die ondergang van die SAL, maar my enigste kommer is dat dié verklaring te veel fokus op die oppervlaksimptome in plaas van die onderliggende oorsaak van die probleem: Die regering se rol in die ekonomie, veral deur sy besit van ondernemings wat met die private sektor meeding om kapitaal en kliënte (veral waar só ’n onderneming nie ’n wettige monopolie verkry het nie). Die meeste van dié SBO’s is by die apartheids­regering geërf. Is dit nie vreemd dat hulle die enigste entiteite is wat immuun blyk te wees teen die oproepe om simbole van wit heerskappy en onderdrukking af te takel nie? Terwyl ’n dooie standbeeld ’n probleem blyk te wees, is soortgelyke logika skynbaar nie van toepassing op die SAL en kie nie.

Die verbetering van die bestuur by SBO’s sal wel ’n verskil maak wat hul kanse op oorlewing betref. Die versoeking sal egter altyd daar wees om hierdie ondernemings vir politieke doeleindes te gebruik én die blote bestaan van hierdie ondernemings trek hulpbronne uit die private sektor weg deur wetgewende monopolieë en onbillike mededinging, sowel as die belastinggeld wat gebruik word om hulle te kapitaliseer en dikwels aan die gang te hou.

Dit is onwaarskynlik dat die roete na welvaart deur dieselfde filosofiese bos van staatsbeheer sal loop as wat dit die afgelope 72 jaar die geval was.

As ons omgee oor ons toekoms móét daar ’n beter manier wees.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.