Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Die krag van vrye groepe vs. dwang van bo

Die realiteit van Suid-Afrika is dat dit ’n land van individue is. Dit bestaan uit enkelinge wat, deur die uitdrukking van hul persoonlike voorkeure, groepe vorm of daarby aansluit. Hierdie groepe is broodnodig vir vryheid om enige praktiese betekenis te hê. Weens historiese en huidige realiteite kan groepsidentiteit ook gebruik word as instrument van onderdrukking.

Dit is veral waar van rassegroepsidentiteit. Rassegroepe is duidelik ’n mislukte merker van identiteit. Diegene wat dit met geweld wil afdwing, saai die saad van hul eie vernietiging. Mense behoort toegelaat te word om vryelik en sonder dwang met mekaar te assosieer – selfs op rassegrondslag – omdat ras opsigself geen praktiese waarde het nie.

Die belangrikste identiteitsmerkers is bykans altyd gekoppel aan jou kultuur of gedrag. Omstandighede speel ook ’n rol, maar selfs diegene aan die onderpunt van die leer kan hulself ophef met die regte idees. En hier lê die krag van groepe. Groepe verteenwoordig op hul beste ’n stel idees. Dit wissel van iets so eenvoudig soos om te kies tussen Capitec of ’n stokvel; tot iets so verwikkeld en kompleks soos hoe jy jou oortuigings oor die aard van die lewe en die heelal uitdruk.

Hierdie spontane proses van individuele voorkeure om groepe te skep en te vernietig behoort onversteurd gelaat te word. Dit moet deur staatsbeleid aangemoedig word tot die mate dat dit ’n weerspieëling eerder as ’n skending van individue se regte in die groep is.

Die oorgang in 1994 kan gesien word as die staat wat die Afrikanergroep uit die pad gestoot het.

Dit is nog ’n rede waarom rassegroepering uiteindelik misluk. Te veel individue in ’n vrye samelewing kies om te assosieer met dinge wat buite daardie toegelate rassespektrum van keuses val. Slegs dwang kan sulke groepe bymekaar hou.

Dit is waarom die gebrek aan ’n handves van menseregte van deurslaggewende belang was vir die ou Nasionale Party om die beleid van apartheid te handhaaf. En dis ook waarom die vernietiging van die huidige Handves van Regte sal lei tot die terugkeer na ’n soortgelyke of erger euwel.

Dit sal gebruik word om enige betekenisvolle teenstand teen die regering te vernietig. Die staat self is ’n groep, en assosieer hom gereeld met ander groepe wat hy as ’n handige voertuig beskou vir sy belange. Die oorgang in 1994 kan gesien word as die staat wat die Afrikanergroep uit die pad gestoot het omdat hulle polities oortollig gemaak is deur meerderheidsregering.

Daar is waarskynlik staatsamptenare wat net so gewillig is om die voorskrifte van Afrikanasionaliste toe te pas as wat hulle Afrikanernasionalisme bevorder het. Dit gaan verder as die staat self – ook na die akademie, waar baie akademici ’n ommekeer van ’n volle 180 grade gemaak het nadat die regering verander het.

Wie kan dit miskyk dat kampusse wat voorheen as bastions van Afrikanernasionalisme beskou is, nou die ywerigste napraters van huidige regeringsbeleid is?

Dit gaan selfs verder na die arena van idees en openbare debat. Die media, en selfs dinksentrums, word dikwels subtiel gemanipuleer om die beleid van die regering inkrementeel te aanvaar. Daar is myns insiens geen beter voorbeeld hiervan as die beleid van ekonomiese rasseklassifikasie en swart ekonomiese bemagtiging nie, wat die meerderheid van sy oorspronklike teenstanders meedoënloos en geduldig verslaan het.

Miskien het die tyd aangebreek om te kies tussen vrywillige groepskeuses en die voortgesette siklus van onderdrukking, wat uiteindelik ons almal sal vernietig.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.