Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Die lyding onder ’n nuttelose regering

Dit is ongelooflik oor hoeveel goed Suid-Afrikaners steeds obsessief is.

Ons het geen elektrisiteit nie, die waterinfrastruktuur stort oral in duie, meer as 74% van 15- tot 24-jariges sit sonder werk en misdadigers vermoor, steel en verkrag straffeloos. En tog glo iemand eerlikwaar dat ras of ryk mense ons grootste probleem is. Dit is mos kinderagtige denke. Terwyl ek hier sit en skryf is my krag al vir vyf uur af en dis gereël om vir nog drie uur af te wees.

Tog is ek een van die gelukkiges; in die townships gaan die krag gereeld vir dae op ’n keer in plaas van ure af. Dieselfde geld water. Die “goeie storie” wat die ANC onder pres. Jacob Zuma te vertel gehad het was op die idee geskoei dat die ANC miskien nie ’n gunstige omgewing vir ekonomiese groei en werkskepping kon skep nie, maar dat hy steeds elektrisiteit, water en sanitasie kon voorsien aan miljoene wat dit nie voorheen gehad het nie. Nou verkrummel selfs daardie vyeblaar reg voor ons oë.

Die hele land leer op die harde manier dat daar niks meer goed aan die ANC is nie. En miskien was daar nog nooit nie. Hoe volhoubaar was die voorsiening van dinge soos elektrisiteit, water en sanitasie as die mense wat daarby baat vind dit nie in stand kan hou nie omdat hulle nie werk het nie? Om die probleem te vererger is ANC-munisipaliteite buitengewoon korrup. Watter hulpbronne munisipaliteite ook al gekry het, is bestee om die kaders gevoed te hou.

Dit is nie dat Suid-Afrikaners nie in staat is om hul probleme op te los nie, maar dat die regering eenvoudig weier dat ons die probleme regstel wat hy geskep het.

Die tyd vir ontkenning is verby. Hierdie party het hom in die praktyk gediskrediteer ten opsigte van dienslewering, en ideologies met sy beleidsidees, wat ons ekonomie op sy knieë gebring het. Die daaglikse gebed van elke Suid-Afrikaner moet nou sekerlik wees dat die ANC-bewind tot ’n einde kom sodat ons die gemors wat ons pragtige land geword het, kan begin regmaak.

Dit is die ding: Dit is nie dat Suid-Afrikaners nie in staat is om hul probleme op te los nie, maar dat die regering eenvoudig weier dat ons die probleme regstel wat hy geskep het. Ons word verhinder om mekaar werk te gee op voorwaardes waartoe albei partye kan instem, die regering posisioneer hom as ’n derde party om vakbondbelange te dien en voorwaardes vir arbeidskontrakte te stel. Die regering verhinder ons om ons kinders op te voed omdat hy vereis dat ons ons kinders leer wat die regering wil hê hulle moet leer op ’n manier wat deur die regering voorgeskryf word.

Ons kan nie ons eie krag opwek nie, want deur lisensiëring het die regering ’n monopolie vir ’n hoogs onbekwame Eskom verseker. Ons kan nie beheer oor ons water oorneem nie, want die regering het homself bewaker gemaak van alle water – soos wat hy nou ook vir grond wil doen. Heel voorspelbaar staar ’n waterramp ons nou ook in die gesig en ’n baie erger ramp sal ons tref as die regering se planne vir onteiening sonder vergoeding aanvaar word.

Nou wil hy ook Suid-Afrikaners hul reg ontneem om hulself en hul gesin te verdedig deur hulle te ontwapen.

Die gevolge van al hierdie beleide en inisiatiewe was nog altyd voorsienbaar. Die regering is in elke geval gewaarsku oor wat sou gebeur as hy dié weg volg. Kritici is beledig en aan rasse-aanmerkings blootgestel – ’n clever black of coconut genoem as jy swart is, en as jy wit is, het jy eenvoudig jou wit bevoorregting en witmonopoliekapitaal probeer beskerm.

Dit is nou duidelik dat hierdie mense geen idee gehad het hoe om die land te bestuur nie. Hulle het hierdie land op sy knieë gebring en tog sal mense steeds vir hulle stem. Hoe lank moet ons nog ly?

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.