Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Grondplanne: Hier kom net meer armoede

Onteiening sonder vergoeding is ’n aanval op die duurgekoopte regte van Suid-Afrikaners – spesifiek swart Suid-Afrikaners.

As daar een ding is wat Suid-Afrika gedurende die afgelope 120 jaar gekenmerk het, is dit die voortgesette miskenning van individuele eiendomsreg deur opeenvolgende regerings. Dit word weerspieël nie net in die Wet op Naturellegrond van 1913 nie, maar ook in die vroeëre Glen Grey-wet van die Kaapkolonie. Laasgenoemde is op aandrang van Cecil John Rhodes aangeneem en het die onderverdeling van die Temboes in die Glen Grey-distrik (oos van Queenstown) se grond verbied – soortgelyk aan die beperkings wat vandag nog op die onderverdeling van landbougrond betrekking het.

Die verbod op die onderverdeling van grond is ’n ernstige skending van die eiendomsreg van individue omdat dit hulle verbied om grond tussen hul erfgename te verdeel. Die wet het ook erfreg tot mans beperk en op dié manier het die wet ’n statiese toedrag van sake verseker waarop Temboe-grond altyd deur mans en met beperkte regte besit en beheer kon word. Die Glen Grey-wet het ook verbande op grond verbied en eienaars kon dus nooit hul grond gebruik as aanvullende sekuriteit vir finansiering nie.

Op baie maniere was die Glen Grey-wet nie net ’n voorloper vir die paternalisme van apartheid nie, maar ook ’n voorloper van die huidige bestel van paternalistiese gemeenskaplike besit wat deur wetgewing soos die Wet op die Ingonyama-trust en die Wet op Tradisionele en Khoisanleierskap verskans word.

Die verswakking van individuele eiendomsreg is deur opeenvolgende Suid-Afrikaanse regerings geregverdig.

Dit lyk asof die demokratiese leiers van vandag dit eens is met die kolonialiste van destyds dat swart mense nie met eiendomsreg vertrou kan word nie.

Dit word nog erger as jy in gedagte hou dat 47,9% van Suid-Afrika se armste mense in die drie provinsies met die meeste gemeenskaplike grond woon: die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo. Volgens die grondoudit van die departement van landbou het dié drie provinsies per oppervlakte minstens 75% van die grond wat voorheen deel was van die tuislande.

Ja, daar ís ’n ernstige probleem met grond. Die verswakking van individuele eiendomsreg is deur opeenvolgende Suid-Afrikaanse regerings geregverdig. Ter wille van “tradisie” moet die inwoners van KwaZulu-Natal dus in armoede bly.

Die 18de wysiging van die Grondwet, wat onteiening sonder vergoeding ten doel het, is presies die teenoorgestelde van wat nodig is om die armste mense in die land te bevry van eeue van onreg. Mense eis eiendomsreg. Dit is waarom hulle die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verlaat vir die Wes-Kaap en Johannesburg.

Gegee die behoefte aan grond van landelike gemeenskappe het ons ’n sterker toepassing van bestaande regte nodig. Eiendomsreg moet versterk word, eerder as om dit te verswak. Miljoene mense wat op gemeenskaplike en munisipale grond woon, geniet nie die beskerming van art. 25 van die Grondwet nie omdat dit heeltemal onvoldoende is om hul regte te beskerm. Die regering moet eerder verplig word om sulke grond wat deur die staat besit word te oorhandig aan mense wat geen grond het nie.

Enigeen wat die negatiewe gevolge van grondonteiening sonder vergoeding wil sien, kan net rondom hulle kyk. Miljoene Suid-Afrikaners woon en boer reeds op grond waarop hul eiendomsregte nie beskerm word nie. Dié ontkenning van hul eiendomsreg het ’n groot rol gespeel om hul armoede te skep en te onderhou.

As hierdie grondwetlike reg verder verswak word, verwag dus net meer armoede, maar hierdie keer oor die hele land.

Uiteindelik sal almal dus gelyk wees.

  • Mpiyakhe Dhlamini is ’n data-analis en navorser.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.