Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Misbruik van mag dalk erger as die virus

Suid-Afrikaners het pas die eerste week van hul inperking van drie weke voltooi.

Dié week is gekenmerk deur verskeie voorvalle van misbruik en inbreuk op die burgerlike vryhede deur die veiligheidsmagte. Ná die ervarings van die afgelope week is dit miskien tyd dat Suid-Afrikaners hulself afvra of die advies van wetenskaplikes ’n goeie genoeg rede is om ons vryhede so maklik te laat vaar.

Vryhede is bykans onmoontlik om weer op te eis nadat dit eers laat vaar is. Dit is kommerwekkend om vooraanstaande lede van die opposisie te hoor wat luidkeels hierdie oortredings toejuig, omdat dit gedoen word om ons “van die virus te red”. Aan die ekstreme kant van die spektrum het jy vir Makashule Gana, ’n DA-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, wat van die ergste oortredings verwelkom. Dis moontlik die radikaalste voorbeeld, maar baie ander lede van opposisiepartye toon ’n ontstellende gebrek aan insig oor die skending van ons regte.

’n Mens sou dit nog verwag van die EFF (wat, die laaste keer dat ek gekyk het, dit op hulself geneem het om die inperking namens die regering te polisieer), maar nie van die DA nie, immers ’n party met ’n lang geskiedenis van veg vir die burgerlike vryhede van Suid-Afrikaners.

En moenie vergeet nie: Die afkondiging van ’n nasionale ramp is gedoen deur ’n uitvoerende verordening moontlik gemaak deur die Wet op Rampbestuur. Leiers van opposisiepartye het later hul steun aan die uitvoerende gesag verleen in hul gebruik van dié magte. Dit is ondanks die feit dat die behoefte om dit te doen of die data en die metode wat die regering gebruik, nooit in die parlement bespreek is nie.

Dit mag nooit vir die regering maklik wees om ons regte weg te neem nie, veral nie as die wette of regulasies wat gebruik word, nie eweredig toegepas word nie.

Dit is kommerwekkend gegewe die omvang van die maatreëls. Niemand het die vermoë om te oordeel of die regering en hul wetenskaplikes moontlik verkeerd is nie. En dis belangrik, gegee die geskiedenis van ’n regering wat dikwels data ignoreer as dit kom by beleidsontwikkeling (soos wat die trae ekonomiese groeisyfers van die afgelope tien jaar toon).

Van die ekonomie gepraat: Die waarskynlike impak van hierdie ineenstorting op die ekonomie is ook nie bespreek nie. Ons is veronderstel om bloot te vertrou dat die regering die nodige koste-voordeel-ontleding gedoen het nadat die relevante data oorweeg is. Dit klink nie vir my soos ’n grondwetlike demokrasie nie.

Dit mag nooit vir die regering maklik wees om ons regte weg te neem nie, veral nie as die wette of regulasies wat gebruik word, nie eweredig toegepas word nie. Daar is tekens hiervan op twee vlakke: Eerstens word die veiligheidsmagte meestal in die townships en informele nedersettings ontplooi. Bedoelende dat alhoewel ons almal ons regte verloor het, jy in baie voorstede steeds jou normale lewe kan lei (dis nou as jou bure jou nie verkla nie; ’n rubriek vir ’n ander dag). In talle dele van die land word mense dikwels opdrag gegee om in hul huise te bly, alhoewel die regulasies jou slegs tot jou eiendom beperk.

Tweedens het die regering onder druk van belangegroepe begin swig om hulle spesiale voorregte tydens die inperking te gee. Soos mens seker kon voorspel, was die taxibedryf een van die eerstes. Ná dreigemente van taxibase het die departement van vervoer hul regulasies oor die getal passasiers wat vervoer kan word, gewysig.

Die inperking illustreer hoe sleg die land kan word as die neiging tot ’n magtiger staat onverpoos voortduur. Dit wys ook dat opposisiepartye nie noodwendig vertrou kan word om ons vryhede te verdedig nie. Laastens sien ons dat hierdie regering nie in staat is om aan die oppergesag van die reg te voldoen nie.

Daar is miskien slegter dinge as ’n hoogs aansteeklike virus. Ons sal gou genoeg daarvan uitvind.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Covid-19  |  Menseregte  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.