Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Plaas dat Tito en kie bloot net ophou inmeng

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het Woensdag sy langverwagte aansuiweringsbegroting voorgelê.

Die minister het die haglike situasie waarin die ekonomie verkeer, bevestig met die wêreldekonomie wat na verwagting met 5,2% sal krimp, die grootste wêreldwye per capita-afname sedert 1870.

Daarbenewens sal die ekonomiese uitset van ontwikkelende lande vir die eerste keer in 60 jaar daal. Suid-Afrika se BBP sal na verwagting met 7,2% daal. Dit beteken natuurlik dat staatskuld as ’n persentasie van BBP vinniger sal styg as wat aanvanklik gedink is – van die 65,6% wat in Februarie voorspel is tot ’n geraamde 81,8%.

Die grootste probleem is dat ons nie genoeg produseer om ons land se verbruik te dek nie en dit is die gevolg van die staatsbeheerde benadering tot ekonomiese groei. Dit is belangrik om te verstaan ??dat elke rand wat die regering bestee ’n rand is wat nie vir die private sektor beskikbaar is vir belegging en daarom ekonomiese groei nie. Met alle respek aan die regering, maar hy is nie juis bekend vir sy produktiewe beleggings nie.

Dit is die rede waarom die minister se voorstel dat die regering in infrastruktuur investeer waarskynlik die laegroei-strik waarin ons sit sal vererger eerder as verbreek. Die doeltreffendste manier om volhoubare ekonomiese groei deur middel van fiskale maatreëls moontlik te maak, is eenvoudig om belasting te verminder.

Daarmee kry jy twee dinge reg: Individue en ondernemings het meer geld om te bestee en te belê; en individue en ondernemings kan meer geld spaar – wat hul veerkragtigheid teen skokke soos Covid-19 verhoog.

Dit is duidelik dat geen mate van staatsbesteding die probleem gaan verlig nie.

Die begrotingsoorsig wat deur die nasionale tesourie uitgereik is, wys daarop dat Covid-19 presies die soort skok is waaroor hy al lank waarsku en dat ons kwesbaar is weens ons lae spaarkoers en onvolhoubare fiskale trajek.

Om die ontleding te voltooi moet die tesourie egter selfondersoek doen en homself afvra of die fiskale stimulus van die afgelope 12 jaar enigiets wesenlik tot ekonomiese groei bygedra het, vergeleke met die koste daarvan.

Of dié donker prentjie nie genoeg is nie, is die werkloosheidsyfer vir die eerste kwartaal ’n dag voor die begrotingsrede uitgereik. Werkloosheid het met een persentasiepunt gestyg, maar die peiling sluit slegs die eerste paar dae van die inperkingstyd in. Die syfer vir die tweede kwartaal gaan ’n vollediger, waarskynlik slegter, prentjie skets.

Regeringsgeleide ekonomiese groei deur regstreekse investering en regulering is nie ’n plaasvervanger vir die private sektor nie. Ons het miljoene mense wat in die informele ekonomie werk en wie se ondernemings as “informeel” bestempel word omdat hulle hul nie steur aan regulasies nie, omdat die nakoming daarvan dikwels duur is. Dit is duidelik dat geen mate van staatsbesteding die probleem gaan verlig nie.

Die oplossing is bloot om daardie regulasies te verwyder en sulke ondernemings toe te laat om soos enige wettige, klein onderneming te funksioneer. Dit moet gedoen word uit die ondernemings se oogpunt – eerder as wat die regering vereistes aan ondernemings stel waarvoor die kliënte nie gevra het nie.

Die fiskale situasie het onvolhoubaar geword omdat die regering aanvaar dat hy na mense moet omsien, terwyl die “informele ekonomie” bewys dat mense in staat is om na hulself te kyk as die regering net uit die pad wil bly.

Net ’n dwaas sal nou probeer om groei te bevorder deur meer regeringsbesteding. Waarom bloed uit ’n klip probeer tap as jy net die bestaande ekonomiese aktiwiteit kan toelaat om te groei? Hou op om ondernemings te straf met nonsens-regulasies, insluitende swart bemagtiging.

Ekonomiese groei is nie ’n raaisel wat regerings moet oplos nie. Hulle weet nie eens wat ek en jy nodig het nie. Op die minste het die inperking ons dít geleer.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.