Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mpiyakhe Dhlamini: Verwerp radikale wat net wil verniel

Die radikale rooi barette het dit weer gedoen. Hulle het daarin geslaag om “witheid” te dwing om die knie voor hulle te buig. Clicks het die EFF verskoning gevra en belowe om nooit weer te doen wat hy gedoen het nie. Die hele verontwaardiging oor die advertensie was belaglik en ek glo die EFF weet dit. Die enigste mense wat dit nié weet nie, is ’n paar lede van die middelklas wie se probleme ver verwyder is van dié van die meeste Suid-Afrikaners.

Die EFF verstaan die aard van staatsmag; hy verstaan die geweldaspek daarvan en benut elke geleentheid om sulke mag te gryp. Vir hom is die Grondwet net nuttig in soverre dit sy doel dien.

Die EFF weet ook dat die Openbare Beleggingskorporasie (wat staatsamptenare se pensioengeld bestuur) meer Clicks-aandele besit as enige ander instelling of individu. Hy weet dat Clicks baie swart bestuurders het, ook in die bemarkingsafdeling.

Waarvan hy nie hou nie, is die áárd van die instelling. Hy sien private eiendom as onwettig en as iets wat beheer moet word.

Dit is waarom die verdedigers van swartheid nooit hul mond oopmaak as swart boere teen die staat veg vir die reg om hul eie grond te besit of as hul eiendom beset word nie. Daarom word dit oorgelaat aan die “verskriklike regses”, die DA en AfriForum, om die saak van hierdie boere op te neem. Selfs al is skeptici reg dat hierdie organisasies dit net doen om hul eie politieke agenda te bevorder, bly die vraag: Waarom doen ander dit nie? As eiendomsreg so gewild en geliefd was, sou ons nie nou die gesprek oor onteiening sonder vergoeding gehad het nie.

Ons het ’n punt bereik waar dit meer deugsaam is om radikaal te wees as om die armes te help. Die ironie is dat nie een van hierdie “radikale idees” nuut is nie. Staatsbeheer en kollektivisme was regdeur ons geskiedenis dominante idees.

Die situasie in Suid-Afrika skreeu vir ’n vorm van radikale hervorming.

Is dit nie onregverdig om van my generasie te verwag om die gebrekkige gevolgtrekkings van die Vryheidsmanifes te aanvaar, terwyl dit in baie opsigte ’n reaksionêre reaksie op die destydse onderdrukkende regime was nie? Dis immers 70 jaar later en ons het baie meer bewyse oor wat werk en wat nie. As die EFF werklik radikaal wil wees, behoort hy entrepreneurs teen reguleerders te verdedig en arbeidsinspekteurs te keer wat ondernemings wil toemaak wat mense in diens neem. Of hy sou, soos die Bhambatha in 1906, in opstand kom teen belasting.

Die situasie in Suid-Afrika skreeu vir ’n vorm van radikale hervorming. Niemand vrees hierdie hervorming nie (behalwe miskien ’n paar randeiers). Wat regdenkende mense wel vrees, is vernietiging in die naam van radikale hervorming.

Tog klou die EFF in sy superieure logika aan dieselfde ou mislukte idees. Hy weier om aan jong, swart Suid-Afrikaners te sê wat dit eintlik verg om sukses te bereik. Soos die predikant wat ryk geword het deur sy gemeente te beroof sal die EFF enigiets sê om mag te verkry, selfs ten koste van sy lede.

Daarom maak hy jong mense wys dat die lewe maklik is, dat jy net vir Malema moet stem en alles sal regkom. Die lewe werk nie só nie. Om saam te oorleef beteken om kompromieë aan te gaan en mekaar regverdig te behandel. Dit beteken opofferings sodat jy vir die toekoms kan spaar, nuwe ondernemings kan begin en met verskillende mense saamwerk wat dieselfde doelwitte nastreef.

Die doel kan nie bereik word met die stomp instrument van geweld nie. Geweld kan Suid-Afrika nie voorspoedig maak nie. Slegs ’n nuwe radikalisme, gegrond op ’n absolute verbintenis tot private eiendom kan die EFF se agenda uitdaag. ’n Vaag omskrewe kompromisposisie soos ’n sosiale markekonomie kan dit ook nie doen nie. Dit is die vrye mark en eiendomsregte wat Suid-Afrika sal red, niks anders nie.

Meer oor:  Mpiyakhe Dhlamini  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.