Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
MRK-lede sal miljoene hoes as Eben wen
Charles Smith

Liewe Menseregtekommissie

Een stukkie raad wat julle maar ter harte kan neem: Gaan plaas vroegtydig ’n volbladadvertensie in elke koerant waarin julle die land om verskoning vra.

Dit moet lui: Ons is jammer ons het die land in die steek gelaat en dat ons min, of niks, gedoen het om miljoene mense se basiese regte te beskerm nie. Ons was Zuma en Ace se poedels toe die land rot en kaal gesteel is en mense sterf daagliks weens honger, mislikheid en ellende as gevolg daarvan.

R500 miljard is volgens pres. Cyril Ramaphosa self gesteel, geld wat vir die mense se skole, hospitale, klinieke, huise, water en kos moes gaan, dus hul basiese menseregte, en ons het ons ogies bot toe gedruk. Ons is bitter jammer dat ons in Eben Etzebeth, ’n reus van ’n wit rugbyspeler, ’n baie maklike teiken gesien het om aan te val, terwyl daar om elke hoek en draai mense verkrag, vermoor en vermink word en ons tjoepstil met ons handjies gevou sit.

Ons moes seker die feit ondersoek dat Etzebeth se regte geskend is toe hy met klippe en bottels gegooi is, maar ja, hy is ’n maklike teiken.

Ons is ook só verskriklik jammer dat ons te midde van die Wêreldbeker ’n groot bohaai gemaak het oor ’n speler, terwyl die Springbokke, waar wit, swart en bruin saam vir die land speel, al voorbeeld is van iets wat nou wérk.

Ai, en is dit nie ironies nie dat ons ons peperduur, in-gevoerde skoene stukkend hardloop en ons duur karre se myle moes opjaag (terwyl ons soos gewoonlik aan sjampanje kon suig) om na die klagtes van ’n klompie All Black-ondersteuners van Langebaan te luister. Ons moes seker die feit ondersoek dat Etzebeth se regte geskend is toe hy met klippe en bottels gegooi is, maar ja, hy is ’n maklike teiken.

As Eben Etzebeth hierdie relletjie gaan wen, gaan ’n paar lede elkeen miljoene moet hoes. Want as Eben tot R20 miljoen per jaar verloor wat hy oorsee kan verdien weens hierdie klaarblyklike laster wat teen hom gepleeg word, gaan die geagte MRK-lede hul onverdiende pensioene moet skud en opdok. Dit gaan ’n interessante hofsaak wees.

Want as gevolg van sy beleid hang ma’s hul kinders aan die dak op, sterf babas in hospitale, en sterf vroue naamloos in sinkhutte.

Met die naweek se Macufe in Bloemfontein, waar duisende mense die stad inval met die meeste karre wat R1 miljoen en meer kos, waar die rykes tot R100 000 vir tafels in eetplekke betaal en die plekke letterlik afbreek, het ek gewonder: Is daar ooit gedink aan die mense wat niks het nie en wie se geld hulle uitsuip?

Wonder die Menseregtekommissie se lede ooit by hulself of hulle nie veel meer kon gedoen het om ons mense se regte te beskerm nie? Om seker te maak dat Ace Magashule nie die provinsie laat plunder en verwoes nie?

Want as gevolg van sy beleid hang ma’s hul kinders aan die dak op, sterf babas in hospitale, en sterf vroue naamloos in sinkhutte. Verloor ’n pa sy vrou en baba in een maand in ’n staatshospitaal. Maar die MRK is weg, stom, doof en swyend. Behalwe as hulle wit Springbokke kan teiken, dán is hulle skielik daar soos kraaie by ’n karkas.

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Charles Smith  |  Mensregtekommissie  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.