Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Munisipale verkiesing van 2021 uitgestel?

Nee, vir eens is dit iets wat nie uit die Covid-19-pandemie gebore is nie, al gaan dit bes moontlik as bydraende faktor ingespan word, sou dit ernstig oorweeg word.

Barnard Beukman

Indien nie formeel nie, is die vraag reeds sedert verlede jaar op die hoogste vlak informeel op die tafel in regeringskringe.

Die regering van pres. Cyril Ramaphosa het in een van sy eerste inisiatiewe ’n distriks­koördineringsmodel begin.

Daarvolgens vind daar “koördinering” tussen verskillende regeringsvlakke plaas om dienslewering te versnel en reg te ruk in tot 44 munisipale en agt metrogebiede. Dit is geplooi in mooi amptelike taal dat dit te doen het met die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan om regeringskapasiteit op elke vlak te versterk en ontwikkel.

Almal weet dit het eerder te doen met ANC-beheerde plaaslike besture wat ontaard het in rampokkerhoofkwartiere van grootskaalse plundery, algehele onbevoegdheid en die ineenstorting van die aanvanklike bestaansdoelwit. Dit is eerder ’n poging om die stadsraad-kamerade aan hul kraag beet te kry om basiese dienste staan te maak.

Van die oorwegings vir uitstel was verlede jaar al glo:

  • Die land kan gewoon nie meer ’n afsonderlike verkiesingsdatum vir munisipale regering bekostig nie. Daarom die idee dat dit moet saamval met die volgende nasionale verkiesing. En daarna altyd saam;
  • Plaaslike regering is in ’n onstabiele chaos en groter reg­ruk is nodig om selfs doeltreffende verkiesings moontlik te maak;
  • Die finansiële boekjaar van munisipaliteite eindig in Junie en daar word gewerk om dit, soos die res van die owerheid, in Maart te laat eindig; en
  • En “hoe gaan Soweto gedwing word om sy krag te betaal kort voor ’n verkiesing?” laat hang ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee ’n politieke onderrok uit.

Of die ANC die moed gaan hê om die moontlikheid op die na­sionale agenda te plaas, gaan interessant wees. Ook ander se reaksie­. Die DA is in geen goeie vorm vir die komende verkiesing nie, maar sal waarskynlik hard protesteer, al is hy moontlik heimlik bly. Die VF Plus hou tans van verkiesings, so mag ook opponeer. Die ANC se geloofwaardigheid vir so ’n stap is ondermyn deur sy mislukte poging om die Tshwane-metro onder administrasie te plaas. Die politieke opportunisme van die skuif is in harde taal deur die hooggeregshof omgekeer.

Moontlik is hulle maar net bang vir wat die kiesers gaan doen. Die stembus is die arbiter wat regeringsprobleme en magsdooiepunte moet oplos, maar is daar enige realistiese vooruitsig? Is uitstel nie wel in nasionale belang nie?

Dit is ten minste ’n debat­onderwerp weg van die alewige pandemiediskoerse.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.