Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Musiek se misterie verhelder

Die Duomo di Milano in Italië is eenvoudig een van die wêreld se wonders.

As jy binne staan en opkyk, waar koepels soos die arms van ’n balletdanser in ’n boog uitstrek, laat dit jou mond oophang. Hoe is dit dat mense dié gebou staangemaak én vyf eeue lank met die bouwerk volhard het?

Die gebou met sy asemrowende brandgeskilderde glaspanele en dik marmerpilare kan 40 000 mense akkommodeer.

Sy orrel, die grootste in Italië, het 15 800 pype en vyf konsole. Die hele plek het so lank geneem om op te rig dat verskeie eras se boustyle deur die argitektuur en versierings verweef is.

Op 12 April vanjaar het die merkwaardige plek geskiedenis gemaak toe die operasanger Andrea Bocelli daar opgetree het.

Moet nooit weer wonder oor die gewildheid van klassieke musiek nie – daardie optrede was dié grootste regstreekse klassieke optrede wat die wêreld nog beleef het.

Nadat 3 miljoen mense die uitsending regstreeks gekyk het, het 28 miljoen die opname binne die eerste 24 uur afgelaai.

Rodney TrudgeonFoto’s: Verskaf

In Suid-Afrika is dit ook so, vertel Rodney Trudgeon, die bekende klassiekemusiekkenner en omroeper, wie se nuwe boek oor klassieke konserte onlangs verskyn het.

“Klassieke musiek is in ’n uitstekende toestand in Suid-Afrika, ten spyte van die besnoeiing van staatstoelaes aan ons orkeste. Ál meer mense van alle gemeenskappe tel instrumente op; die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes is vol skitterende en entoesiastiese jong mense reg oor die kulturele spektrum. Dit is ons verantwoordelikheid om ons musici en orkeste te ondersteun.”

Vir baie mense is klassieke musiek net nog ’n nis-belangstellingsveld. “Dis soos enigiets,” sê Rodney, “soos jazz en krieket en ander aktiwiteite het klassieke musiek ook sy aanhangers, maar dit is oop vir almal.”

En dis net hier waar Rodney die gunstelingdeel van sy werk as radio-omroeper en by konserte ervaar – om sy passie aan ’n gehoor te kommunikeer en om groot klassieke werke se misterie te kan ontrafel.

Verdiep in klassiek

In sy nuwe boek skryf hy: “Soos ek altyd by my voor-konsertpraatjies verduidelik: Natuurlik kan jy terugsit en die musiek net oor jou laat spoel, maar is dit nie veel meer lonend om iets te weet van ’n werk se vorm en struktuur, sodat jy die komponis se logika en argument kan volg nie?”

In Rodney Trudgeon’s Concert Notes vervat hy kort skrywes oor bekende klassieke orkestrale musiekstukke. Hierdie werke is oor jare in konsertgidse van die Kaapse en Johannesburgse Filharmoniese orkeste gebruik. Die insiggewende stukke gee agtergrond oor die groot komponiste.

Daar is die storie van die Amerikaanse komponis Samuel Barber, wie se diep en hartseer stuk “Adagio vir Strykers, Op. 11” in ’n eenvoudiger formaat eers deel van ’n simfonie was en toe op aandrang van die bekende Italiaanse dirigent Arturo Toscanini uitgebrei is en daarna een van die bekendste stukke in die wêreld geword het. Dit is selfs gespeel by die begrafnisse van die Amerikaanse president Franklin D. Roosevelt, Albert Einstein en prinses Grace van Monaco.

Daar is die storie van Modest Mussorgsky, wat ten spyte van sy finansiële probleme, alkoholisme en sy werk as staatsamptenaar ’n aantal musikale suksesse behaal het.

Rodney vertel hoe Camille Saint-Saëns se reise sy musiek ’n Oriëntale of Noord-Amerikaanse klank gee; van die skakel tussen John Williams se Star Wars-temalied en die Britse komponis Gustav Holst se “The Planets”; en van Felix Mendelssohn se stuk wat vandag nog toeriste na ’n afgeleë grot op ’n Skotse eiland dryf.

Daar is 51 karakters in die boek wat Rodney onder die vergrootglas plaas – insluitend Mahler, Beethoven, Debussy, Grieg, Rossini, Sibelius en Liszt.

Rodney gee ook sy insigte oor spesifieke musiek, byvoorbeeld hierdie uittreksel oor die tweede beweging in Edvard Grieg se “Klavierkonsert in A mineur, Op. 16”: “ ’n Sagte, glinsterende, amper pastorale atmosfeer daal oor die musiek. Die hoof dans­tema keer terug, en dan, nes ons dink dat die musiek die concerto tot ’n einde gaan dryf, keer die pastorale tema terug, nou op majestueuse wyse oor die hele orkes . . .”

Van grammofone na Google

Die uiteinde is dat sodra jy die boek begin, jy graag kort-kort wil halt roep om die musiek te luister. Stadig maar seker deur die genot, kom die kennis ook.

Deesdae is die musiek natuurlik maklik bekombaar op jou slimfoon deur apps soos Google Play Music, Spotify of Apple Music.

Dit is natuurlik baie anders as in die dae toe Rodney se belangstelling begin het. Sy eerste herinneringe van musiek was ’n opwen-grammofoon, wat hy as kind by sy ouma gekry het, en ’n versameling plate met hoofsaaklik uittreksels van Gilbert en Sullivan. Die liefde wat dit in hom aangewakker het, het gesorg dat hy later die fluit leer speel het en ná skool veral by klassiekemusiekbyeenkomste betrokke geraak het.

Ná ’n kort rukkie as fluitspeler vir die Durbanse Simfonieorkes het hy in 1976 by die SAUK aangesluit.

Ná meer as twee dekades by dié uitsaaier is hy na Classic FM toe in Johannesburg, waarna hy in 2005 Kaap toe getrek het om by Fine Music Radio te begin.

Oor dié trek sê hy hy is “dolverlief” op die Kaapse winter. “Ek is ’n winter-mens, maar ek mis wel Johannesburg se donderstorms.”

Die skryf van inligtingstukke vir konsertprogramme, wat in die boek vervat is, was oorspronklik ’n voorstel van die geliefde Suid-Afrikaanse dirigent Richard Cock, wat ook die voorwoord vir Rodney se boek geskryf het.

Jare gelede is Rodney gevra om vir sy radio-kollega Christo­pher Bennet waar te neem tydens ’n regstreekse simfonie-konsert by die Johannesburgse stadsaal. Daar het sy voor-konsert-voorleggings begin.

Terwyl duisende al sy stem ken en gereeld regskuif om na hom te luister, is sy persoonlike luistergewoontes eenvoudig.

“Ek was ’n hoëtrou-nerd en met my ervaring in radio is klank en goeie toerusting vir my belangrik. Ek luister nooit musiek op die agtergrond nie; ek maak ’n besluit om te sit en te luister. As ek dit het, dan sit ek die volle orkes-verwerking aan om die musiek noukeuriger te volg. Tydens die staat van inperking het ek die simfonie van Sibelius en Beethoven se snaar­kwartette geluister.

In een onderhoud op Fine Music Radio se webblad som hy dit mooi op: “Dit is ’n vreugde dat dit tyd neem (om klassieke musiek te luister), net soos ’n vyf-daagse krieketwedstryd. Dit is ’n voordeel dat klassieke musiek meer tyd van ’n mens verg. Per slot van sake, as ons iets liefhet, soos musiek of krieket, dan maak ons tyd daarvoor.”

Meer oor:  Musiek  |  Misterie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.