Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Musk en Greathead – ouens met briljante tonnelvisie

Die wêreld het besonderse toegevoegde waarde gekry as gevolg van twee Suid-Afrikaners se bio-nabootsing van erdwurms en duisendpote, skryf Rhynie Greeff.

James Henry Greathead se standbeeld in Londen. Foto: Getty Images

Treinvervoer is oor die afgelope 150 jaar drasties verander deur twee skeppende Suid-Afrikaners. Hul innovasies was nogal baie op biometrika gegrond.

Ja, jammer tannie Sus, biometrika is maar net ’n moeilike woord vir bio-mimiek oftewel nabootsing van die natuur se genialiteit wanneer ons dit op tegnologie toepas.

Reis is in ons natuur. Elke aardbewoner reis onophoudelik van oomblik tot oomblik. Selfs vasgekluisterde tronkvoëls toer permanent teen hoë spoed.

Hier op ons planeet reis ons dus soos slakke, maar teen daardie stadige pas, is ons boonop onbeholpe genoeg om verkeersopeenhopings te skep.

Op die ewenaar jaag jy deurentyd met die aarde se daaglikse asomwenteling teen 1 669 km/h.

Weg van die ewenaar val daardie spoed hoe nader jy aan die twee pole beweeg. Jy vlieg egter ook holderstebolder saam met die aarde om die son teen 107 000 km/h. Terwyl jy dit doen, trap jy ook lepel met ons sonnestelsel in ’n dolle rotasie om die Melkweg teen 700 000 km/h en, asof dit nie jou kop laat draai nie, het wetenskaplikes bereken dat jy saam met ons Melkweg teen 2,2 miljoen km/h soos weerlig uitblits in die Oerknal se vergroting van die Heelal. Sekere kenners mag miskien effens verskil oor spoedskattings, maar die feit is dat ons reis dat dit klap.

Hier op ons planeet reis ons dus soos slakke, maar teen daardie stadige pas, is ons boonop onbeholpe genoeg om verkeersopeenhopings te skep.

Gelukkig het die mens iets wat verkeersprobleme kan oplos. Dis iets wat Woody Allen bestempel as sy tweede mees geliefde liggaamsorgaan – die brein.

’n Idee uit Afrika

James Henry Greathead en sy tonnelskild. Foto: Getty Images

In die 1800’s het baie van die groter wêreldstede ernstige verkeersknope ondervind met ’n swetterjoel perdekoetse op straat. Voetgangers moes koes tussen perdehoewe om strate oor te steek. In Londen het ene kolonel Pierpoint dit veral moeilik gevind om ná ’n paar whiskies in sy klub die pad oor te steek tussen die tweerigtingstroom koetse. Vir sy eie veiligheid het Pierpoint sy tweede mees geliefde orgaan ingespan en Londen se eerste verkeerseiland geborg sodat hy een stroom wildeoog-perde kon trotseer, stop op die eiland en die volgende stroom pak.

Die verkeerseiland is toe reg voor sy klub in 1862 gebou. Ironies genoeg, is Pierpoint in elk geval wraggies deur ’n perdekoets omgery net toe hy van sy verkeerseiland afstap. Waar is daardie brein wanneer jy dit regtig nodig het?

Londen se gesagvoerders het destyds besluit ondergrondse treine sou die verkeersgemors oplos, maar die eerste pogings was net vlak onder die strate, want dieper tonnels was tegnies moeilik.

Dis toe dat ’n Suid-Afrikaner, James Henry Greathead, op die toneel opdaag.

Greathead is in 1844 in Grahamstad gebore, het skoolgegaan by St. Andrew’s Kollege in sy geboortedorp en Bishops in Kaapstad, waarna hy vir die siviele ingenieur Peter Barlow in Londen gaan werk het. In 1868 het Barlow goedkeuring ontvang om ’n eksperimentele spoortonnel onder die Teems te bou. ’n Vroeëre eerste voetgangertonnel onder die Teems was ’n fiasko, gebou teen astronomiese koste met baie probleme en lewensverlies.

Engelse kontrakteurs het dus Barlow se projek verwelkom met die entoesiasme van ’n uitnodiging na ’n builepesdans.

James Henry Greathead, toe 24 jaar oud, het ’n idee uit Afrika gehad, self vir die konstruksie getender en gewen.

Greathead het gedink aan Afrika se erdwurms en duisendpote met hul harde eksoskeletringe. Sy oplossing was ’n 2,2 meter wye silindriese tonnelskild van smeeyster wat met domkragte soos ’n erdwurm vooruitgebeur het en wat hy as die Greathead Shield gepatenteer het.

Die Blackwall-tonnels is ook met die hulp van Greathead se tonnelskild gegrawe. Foto: Getty Images

Aan die voorkant het die skild die tonnel uitgegrawe en agter permanente, waterdigte ystervoeringsegmente soos dié van ’n duisendpoot geplaas. Dikvelligheid kan tegnologies voordelig wees.

Dit was so innoverend dat moderne tonnelmasjiene selfs vandag, soos met die bou van die Kanaaltonnel tussen Brittanje en Frankryk, nog dikwels Greathead Shields genoem word.

Daar is net drie groot openbare standbeelde van Suid-Afrikaners in Londen – Nelson Mandela, Jan Smuts en James Henry Greathead.

As jy vandag verveeld in ’n moltrein na jou medepassasiers staar op Londen se Waterloo en City-roete of Central- en Northern-moltreinroetes, reis jy steeds deur tonnels wat James Henry Greathead gebou het. Al die ander diep moltreintonnels in Londen het vandag steeds Greathead se 2,2 meter radius. Sy standaard.

By sy eertydse huis is daar nou ’n amptelike blou gedenkplaat van English Heritage (die monumentekommissie) en in 1994 het die Lord Mayor van Londen ’n standbeeld van Greathead onthul naby die Bank van Engeland bo die Bank-ondergrondstasie. Aan die een kant van Greathead se plint is die wapen van die City and South London Railway, aan die ander kant ’n afbeelding van die Greathead-tonnelskild.

Daar is net drie groot openbare standbeelde van Suid-Afrikaners in Londen – Nelson Mandela, Jan Smuts en James Henry Greathead, die man wat onwetend biometrika op die wêreld toegepas het.

Nog ’n Suid-Afrikaner met tonnelvisie

’n Skets van Elon Musk se beoogde Hyperloop-vervoerstelsel. Foto: Reuters

Nou, 150 jaar later, is daar nog ’n Suid-Afrikaner wat in Greathead se spore volg en die wêreld met tonnelinnovasie oorrompel.

In 2012 het oud-Pretorianer Elon Musk die konsep van ’n Hyperloop bekend gestel en die woord vir sy maatskappy Space-X as handelsnaam geregistreer.

Musk se Hyperloop is ’n vakuumbuis vir die vervoer van mense en vrag in lugverseëlde kapsules wat magneties sweef teen spoed wat so hoog kan wees as 1 200 km/h – twee derdes van die aarde se omwentelingspoed. Musk het Hyperloop bekend gestel as ’n kruising tussen die Concorde-straler, ’n spoorkoeël en ’n swewende yshokkieskyf. Wat biometrika betref is dit vir my soortgelyk aan bloedselle wat in are beweeg. Of vinnige senuwee-impulse.

Greathead en Musk – manne met briljante tonnelvisie.

Musk het die tegnologie as ope bron vrygestel aan alle belangstellendes en ’n jaarlikse ontwerpskompetisie geloods. Die huidige kampioen, die Tegniese Universiteit van München, hou die rekord van die vinnigste suksesvolle mini-toetslopie van 457 km/h.

In 2017 het Virgin Hyperloop One (waarin Elon Musk geen aandeel het nie) die eerste suksesvolle kommersiële toetslopie gedoen.

Daar is tans verskeie ondernemings, planne, studies, aanvoerwerk, regerings- en stadsooreenkomste vir Hyperloops in Amerika, Kanada, verskeie Europese lande, China, Rusland en Doebai.

Rhynie Greeff

Drie jaar gelede het Musk presies in Greathead se voetspore gevolg toe hy The Boring Company opgerig het met drie tonnelboormasjiene soortgelyk aan moderne Greathead Shields. Interessant vir my, terwyl Greathead se Shield ’n radius van 2,2 meter gehad het, het Musk se een patent, die Prufrock-boormasjien, ’n radius van 3,7 meter. Musk se standaard. Dis die deursnit van Space-X se Dragon-ruimtekapsule wat tans vrag na die Internasionale Ruimtestasie vervoer, maar binnekort sewe passasiers sal hanteer. 

Musk posisioneer homself dus presies soos Greathead as tonnelingenieur en laat die Hyperloop se kapsules en verdere tegnologie vir ander oor. Soos Greathead wil hy eerder die tonnels vir Hyperloops met sy nuwe tegnologie bou.

Die wêreld het besonderse toegevoegde waarde gekry as gevolg van hierdie twee leidende Suid-Afrikaners se bio-nabootsing van erdwurms en duisendpote.

Greathead en Musk – manne met briljante tonnelvisie.

Mag ons almal daaruit leer en ons inwurm in die samelewing op allerlei skeppende maniere om waarde aan ander toe te voeg.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  James Henry Gatehead  |  Elon Musk  |  Rhynie Greeff  |  Londen  |  Biometrika  |  Tonnels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.